Oom Herrie se kerrie: Van turksvye tot sjokolade

prickly-pear-1608572_1920Lekker ys-, yskoue turksvye. Twee emmers vol. Die aanloop was toe een van Mev. Herrie se klante hoor ʼn ander klant woon op ‘n plaas. Sy vra of hy nie dalk vye het nie, want daar is gewoon nie vye in die winkels te koop nie, en sy sal by hom koop. Vyebome het hy baie, sê hy, maar met die droogte nie vye nie.

Oom Herrie self krimp effe weg, want ons het ‘n Kaapse bruinvy en ʼn adamsvy, en hulle dra, maar met die droogte sorg die voëls dat ons g’n vy te ete kry nie. Ons het nog ʼn lekker groot witvy ook gehad, maar toe kom daar ʼn witstinkhout onder hom op. Vroulief vra die destydse tuinmannetjie om die witstinkhout uit te haal, maar hy haal toe die vy uit en los die witstinkhout. Die voëls het al ons druiwe ook verorber – ons het skaars ‘n skotteljie vol kon oes. En die voëls los die rooibessies, geelbessies en nastergal skynbaar vir nagereg.

Nee, die man het nie vye nie, maar hy het turksvye, en baie daarvan. En hoeveel wil tannie hê? (Vir die wat nie weet wat turksvye is nie, dis dieselfde as waarvoor party mense striksvye sê).

Die tannie is net so lus vir turksvye, en sy sal koop ook, maar van verkoop wil die man niks weet nie. Vrydag kom haal hy sy kinders by die skool en hy sal turksvye by ons kom aflewer. En hy maak so. Twee emmers vol, en ons moet uitdeel ook.

Die tannie is net so lus vir turksvye, en sy sal koop ook, maar van verkoop wil die man niks weet nie

Die turksvybonanza val saam met ’n sessie waar ek drie dae agtereenvolgend elke dag kortisoon- en chemopille moet drink. Nou kyk, benewens dat die kortisoon ’n mens uit die slaap hou, maak die kortisoon ʼn mens onbedaarlik honger. En ek voer dus een keer per maand vir so drie dae dag en nag strooptogte op die kombuis uit. Met een so ʼn drie-dae-sessie het Joan vir my 18 eiers heel gekook en hulle het dit nét gemaak. En gelukkig wys die onlangse omvattende bloedtoetse dat my cholesterol baie laag is. Ek mag ander goed makeer, maar die cholesterol is laag. Ná jare van sukkel met hoë bloeddruk is dit nou ook normaal en lagerig ná die eerste chemokursus. My aansoek vir Cadbury se sjokoladeproeër is dus in, maar ek is nie seker of hulle ʼn gesertifiseerde sjokoholis sal aanstel nie. Te veel profyt weg proe.

Nietemin, oom Herrie gaan skil dadelik ʼn hele klomp turksvye, en sit hulle in die yskas met die oog op die laaste eendagwedstryd teen Sri Lanka. (ʼn Paar het dit nie tot by die yskas gemaak nie). Maar, waarsku vroulief, turksvye moet versigtig geëet word (as stadsjapie het ek darem geweet van die skil eers afhaal). Dit kan ʼn mens vreeslik knoop. En ek weet hoe ernstig dit kan wees. Kleintyd het een nefie te veel kaboemielies, skynbaar met doppe en al geëet, en ʼn ander te veel turksvye. Ek kan nie onthou watter nefies nie, net die gevolge.

’n Mens kan dit amper nie dink nie, maar daar was ’n tyd dekades gelede wat oom Herrie nie ’n turksvy kon aankyk nie. Dit was nadat ʼn “arm” van ’n litjieskaktus met sy baie lang dorings aan die jonge Herrie se voorarm kom vassuig het. Nie eens met ’n kraaibektang kom dit af nie, en dis nie ’n klein bietjie seer nie. Gelukkig was oom Herrie se destydse buurvrou ’n verpleegsuster en sy kry die ding af, al het die “wortels” tot net bo die stuitjie gepyn. Oom Herrie hoef net ’n turksvy te geruik het om baie naar te word – ’n hele ruk daarna, maar dit het gelukkig ook oorgewaai.

En met die kortisoon en chemo en so aan wil oom Herrie ook maar versigtig wees. Het juis die vorige dag gal opgebring. Maar geknoop het oom Herrie sover (nog) nie geknoop nie. Normaalweg, die dag wat oom Herrie sy eerste dosis kortisoon inneem, mors hy sy tyd om daai nag te probeer slaap. Oom Herrie drink die kortisoon vieruur die oggend met die hoop om darem so vieruur die volgende oggend aan die slaap te raak. Maar gisteraand kort ná die krieket was oom Herrie in droomland, en het byna deurgeslaap. Lyk my die turksvye neutraliseer die kortisoon se wakkerbly-effek.

So drie-uur vanoggend het ek ʼn kommetjie gaat kom drink, weer gaan slaap en eers halfsewe by die kortisoon uitgekom. Net eers sorg dat ek iets meer as vanoggend se twee beskuite en ʼn perske in my maag kry voor ek die 15 chemopille sluk. Môre-oggend maak ek die ses maande lange chemo-kursus klaar, hoewel ek reeds kennis gekry het nog ses maande lê voor – maar dalk met ʼn nuwe soort pil. Oom Herrie se verwagtinge oor die nuwe pil is kinderlik hoog, irrasioneel of nie.

Net eers sorg dat ek iets meer as vanoggend se twee beskuite en ʼn perske in my maag kry voor ek die 15 chemopille sluk

En terwyl dit reën, stort dit skynbaar. Efraim, die man wat Saterdae ons tuin kom regruk en ander dinge vasvat waarvoor ek met die kankers nog nie die krag het nie, het vanoggend weer vir ons magwenjas gebring. Dis ʼn kleiner vetkoek, wat nie vol gate binne is nie. Hy maak dit self. En hy verseg dat hy daarvoor betaal word.

Sy ma het raakgevat toe sy hom ʼn Bybelse naam gegee het. Ek onthou nog in my staatsdiensdae hoe amptenare hul reise so beplan het dat dit Dewetsdorp insluit, want daar het ʼn ou vrou magwenjas in haar agterplaas op ʼn primus gemaak en verkoop. Heeltemal by lekker verby. En kyk, as ʼn man nou iewers by ʼn plattelandse tuisnywerheid ’n flessie makataankonfyt in die hande kon kry om saam met die magwenjas te eet, was dit hemels. 
 En al het ek nou nie die Cadbury-joppie gekry nie, pomp my hart pure tjôklits.

Met oom Herrie se laaste besoek aan dr. Fieda “blok” oom Herrie sy voorkeur vir ’n klein hospitaal naby oom Herrie se huis – amper huislik soos ’n huis. Net ingeval oom Herrie weer opgeneem moet word.

Baie min hospitale gee iets soos ʼn aandpas aan pasiënte wat daarvoor in aanmerking kom. Die bedoeling is dat die pasiënt ʼn rustige aand saam met sy gesin tuis kan deurbring. Maar die toestaan van ʼn aandpas behels baie dinge, soos dat dit gesondheidsgewys aan te bevele is, en of die pasiënt verantwoordelik genoeg is.

So kry Piet ʼn aandpas. Piet het ná ’n motorfietsongeluk in dié hospitaaltjie beland. Sy regterarm is in gips en sy linkerbeen om die knie verbind. Hy word eersdaags ontslaan.

Hier om en by middernag is daar ʼn gehamer aan die hospitaal se deur. Dis Piet, en sy vrou, wat hom teruggebring het hospitaal toe. Piet lyk sleg, baie slegter as toe hy aanvanklik in die hospitaal opgeneem is.

“En dit?” wil die verbaasde nagsuster weet.

“Nee, hy moet toe mos in die kroeg gaan kuier, en raak daar in ʼn kroeggeveg betrokke,” brom sy vrou.

“Sjoe, maar hulle het jou vreeslik verniel,” sê die suster.

“Nee,” raas die vrou. “Hy het die geveg gewen en nie vreeslik baie oorgekom nie. Eintlik net van sy klere geskeur. En toe kom hy netnou eers met ʼn lekker lyf by die huis aan, en toe sien ek hom reg.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ella ·

Herman jou turksvystorie is briljant! Sit en giggel ek nou kliphard so by my sigselwers! Dankie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.