Op ’n dag het die Herries nuwe bure gekry. Die man Engels, die vrou Afrikaans, maar dit was meestal ’n universele woordeskat wat oor die muur geblaker gekom het. Want kwaad kon hulle vir mekaar kwaad raak, en dan reën die knope en swetse oor die muur. Vir die Herries wat besig was om twee seuns groot te maak, en dit goed probeer doen het, was dit meer as net half onlekker. Die jongste is juis outisties en het ’n baie beperkte woordeskat, en dit wil ʼn mens nie nog besoedel ook hê nie. Oudste het net af en toe kom verneem of ’n sekere woord aanvaarbaar is of nie.
Dié bure het by ons die byname van Goorg*t en sy wyfie gekry (want skynbaar is hulle nie formeel getroud nie – elkeen ’n eie van). Goorg*t het nie ’n lui haar op sy kop nie, en sommer gou ’n fabriek ingerig – om doodskiste te maak, het die Herries verneem. Sy elektriese gereedskap het, wanneer daar ’n oop tydjie was, gewerk dat die spaanders trek – veral snags, Sondagmiddae en Sondagaande. Onsmaaklike storie, maar toe oudste vir matriek moes begin leer, het oom Herrie tot aksie oorgegaan. Nog onsmaakliker.
Maar wat die woordeskat betref, het die Herries baie lig daarvan afgekom.
Oom Herrie het ’n neef wat hom kleintyd vreeslik kon vererg, maar hy het nie vloekwoorde geken nie. As een van sy speelmaatjies op die plaas hom kwaad maak, het hy losgetrek met: “Jou skroewedraaier, jou hamer, jou ploeg, jou spinnekop…” en so aan.
Met die chemo, en ook deels danksy ’n dubbele breukoperasie, het oom Herrie min beheer oor sy bene. Nou die dag, in die kombuis, word ’n pil laat val. Oom Herrie besluit om dit self te probeer optel. Die eerste deel slaag, want nie lank nie is die pil in die mond, maar die opstaanslag misluk, en oom Herrie beland pil in die mond op sy rug op die kombuisvloer. Hulpeloos.
Oom Herrie roep, en hoor iemand kom kyk. “O hel!” hoor hy hier agter hom. Dis sowaar die jongste, en hy het iewers ’n nuwe woord aangeleer. Hy help pa op, en pa gaan klik by ma, wat ook dik van die lag is. Ná 24 jaar is dit nie sleg as dit die ergste woord is wat hy aangeleer het nie.
Kleintyd was oom Herrie se beste speelmaat ’n Engelse seuntjie oorkant die straat. Dit het weer ’n heel stel ander woorde gebring, en pa Jan was dikwels woedend oor die nuwe woord of wat waarmee die kleine Herrie huis toe gekom het. Maar die sports het gekom toe die maatjie-hulle nuwe bure kry. Daai oom kon woedebuie kry en dan trek hy luidkeels los (in Afrikaans) sodat die bure se kinders en hul honde ’n luisterkordon om die huis gevorm het. Selfs die huishulp was bitter skaam, en die tannie het glad nie gesig gewys nie.
Die groot moeilikheid het gekom toe die Engelse tannie (eintlik Amerikaans) begin het om na Beatles-musiek te luister. “En dit moet hard gespeel word,” het die Engelse maatjie verduidelik.
Buurman, ’n groot liefhebber van boeremusiek, kon die Beatles nie verdra nie. As die harde musiek oor die muur kom, het hy sy indrukwekkende toerusting ingespan (hy het gereeld as omroeper by opelugbyeenkomste opgetree) en die tannie met harde boeremusiek vergas. Sy was histeries.
Dit het uitgeloop op ʼn geskreeu waar die buurt se kinders sommer in ’n ommesientjie hul woordeskat in Engels én Afrikaans kon uitbrei!
Nou het ek lekker gelag, nie gedink ek gaan so lekker lag op n maandag nie. Buurprobleme maak dat ek eendag op n plot of plaas ver weg van raasmakers kan bly.
He he! dankie Herman
Kostelik!
Ja, jy kan waar in die wêreld woon en jare gelykkig wees tot daar die eendag as onopgevoede bure laans jou intrek dan is die gord behoorlik gaar!
Ek wens dit niemand toe nie.
Probeer dit regstel dan kom jy agter dan jy nooit moet probeer om hul reg te help nie.
Dit het nou heerlike binnepret verskaf! Dankie Herman!