Oom Herrie se kerrie: Waterwys

Argieffoto, 1942 (Ministerie van Inligting)

Met die erge droogte duik daar nou ʼn hele paar manne op wat, benewens ʼn boormasjien, ook nog met die gawe van waterwys spog.

Daar is veral drie metodes wat gewild is. Die bekendste is seker die mikstok wat ʼn mens nogal aan ʼn onderstebo kettie laat dink.

Dan is daar die bottel vol water op die uitgestrekte hand. Daar waar die bottel sommer vanself afval, daar kan maar geboor word.

Oom Herrie se eie gunsteling was die draad wat so gebuig is dat dit soos ʼn rewolwer in die regterhand gedra kan word. Die rede hoekom oom Herrie van hierdie metode hou, is omdat dit niks vaardigheid verg nie. Hou net die “kolf” in die hand vas, en loop rond. Waar daar water is, sal die “loop” begin amok maak. Daai stuk draad draai so woes in die hand dat dit velle afskil.

ʼn Geslag later is oudste nou ʼn plaasbestuurder. Hy staan op troue, en het saam met die Groot Droogte by die Wes-Kaapse landbou ingeval. Ja-nee, met sy geboorte is hy met ʼn Landbouweekblad in die hand gebore. En hy het kennis soos van windpompe saam uit die Vrystaat gebring.

So oor die telefoon beduie oom Herrie die verskillende maniere van waterwys. Want professionele waterwysers (en ook ʼn hele klomp amateurs) vra deesdae ʼn enorme bedrag om water te wys. En die professionele ouens se suksesse is niks beter as die grootste kansvatters nie.

Oom Herrie het geomorfologie in twee vakgebiede, geografie en geologie, gedoen. Water kry hulle water, maar niks in vergeleke met die man anderkant die rivier nie. Hy moes stellig ʼn akwifeer raakgeboor het. Maar diekant kan oom Herrie maar meet en meet, die plek waar die groot water is, bly skoonveld.

Die tameletjie by die Clanwilliamdam waar ʼn netjies begrote bedrag om die dam te vergroot voete gekry het, gaan die boere nou baie swaar laat trek.

Wat oom Herrie laat dink aan die ANC-munisipale raadslid wat ʼn paar jaar gelede mooi uitgelê het hoekom dit nou so broekskeur met die water gaan.Dié slim raadslid het verduidelik dit is die vorige regering se skuld, wat te groot damme gebou het. Die ANC sal net kleiner damme bou wat sommer maklik gaan volloop.

Terug by die boordery. Een van die erg ongeduldige professionele boormanne gryp die draad-waterwyser en begin heen en weer loop om te wys hoe ʼn tydmorsery dit is. Maar toe maak hy ʼn draai, en daai waterwyser spring aan die lewe.  Die lang arm deel ʼn paar fris houe oor die borskas uit, en die toestel trek ver deur die lug.

En bly tog ver, ver weg van groot damme.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

leser ·

by my het die boorman sy regter arm gebruik, elmboog 90grade gebuig met arm wat vorentoe is, wanneer die voorarm skielik heen en weer ruk, daars die water. waar kry die man water?, in die middel van my nuut aangeboude garage. weer loop hy rond en sowaar die keer kry hy dit in die tuin, regoor die water toevoer vanaf die stadsraad, sonder dat hy weet waar die water toevoer pyp is, wat ‘n grap !!!!!

Andrea ·

Ek glo in waterwys. Ek kan self waterwys. Hoe werk dit? Ek weet nie. Maar almal wat geboor het waar ek gewys het (met bottel of mikstok) het goeie sterk water gekry.

Anoniem ·

My gryse ou moeder het te vertelle dat sy water kan aanwys. Volgens my sommer ‘n stofstorie. Met nou se droogtes begin ek al hoe meer dink aan ‘n eie boorgat, en sy laat haar nie twee maal nooi om water te wys op die erf nie. Toe laat sy my dit ook doen met die bottel water. Kan jy glo, die bottel val ook van my hand af! Herhaaldelik! Ek was so skepties, maar ek het wraggies nie gekroek met daai bottel nie… Hoe verstaan mens hierdie dinge?

Eddie ·

Op ‘n stadium kon ‘n mens deur die department van Landbou aansoek doen vir ‘n boorgat subsidie as jy ‘n plaas gehad het. Ek het so gedoen en ‘n man met instrumente het kom aanwys waar ek moet laat boor , maar die gat was droog ! ‘, Man van die omgewing het vir my kom aanwys en ons het sterk water gekry . Ek glo nou regtig daar is mense wat KAN !

Robert ·

Eddie, die man met instrumente wat was sy kwalifikasies. Ek kan ook met enige instrumente na jou toe kom en aanspraak daarop maak dat ek vir jou water gaan wys. Die probleem met tradisionele waterwysers is dat hulle nie vir jou kan sê hoe diep die water lê nie. Teen koste van minimum van R250 per meter kan so iets jou ‘n aansienlike klomp geld uit die sak jaag. Daar is ‘n geoloog in Potch wat ook instrumente gebruik en hy skets ‘n hele diepte kaart van die water op jou eiendom.

humor ·

Nie almal wat water wys kan dit regtig doen nie. Sommige waterwysers is baie suksesvol Dit is maar waar, in hierdie droe land Suidwes (namibie) is sekerlik 90% van sy waters deur mikstokke drade ens. aangewys. n Suksesvolle waterwyser ken die natuur en let op sekere formasies, plantegroei miershope, gate deur diere gegrawe. Dit is so alles op aarde het n elekro – magnetiese veld. So ook mense. By sekere mense is dit sterker as by ander. Waar daar breuke loop is die grond meer poreus as solude areas en die sg. instrumente reageer daar op. Maar alle breuke dra nie water nie daarom is daar mislukkings. As iemend water wys is dit eerstens aangewese om n studie van die bapaalde omgewing te maak.

Tanja ·

My pa was ‘n waterwyser, maar net een van sy vele stokperdjies. Hy het dit verniet gedoen. Hy het altyd gesê die koste lê by die mense wat die boorwerk doen, hy vra niks vir iets wat hulle self moet uitgrawe nie. Hy het (wat ek kan onthou) 4 suksesvolle boorgate gehad, en 1 amperse mislukking. Die eerste was in sy eie tuin. Die ander was almal op vriende se plase in die Deneysville, Oranjeville omgewing. Die amperse mislukking was vir een van sy goeie vriende, tot vandag toe goeie familie vriende van ons. Hulle plaas se water was aan die opdroog, hulle moes dringend plan maak. Hy het gesê hoe diep hulle moet boor. Niks. Hulle bel hom, hy kom uit, wys weer, sê; nee dis die regte plek, hulle moet nog dieper boor,(jammer ek kan nie meer onthou hoeveel meter hy gesê het nie, dit was in die vroeë negentigs). My pa was seker oor die plek, en tog bang dat hy dalk verkeerd kon wees. Hy wou nie gehad het die mense moet nog ekstra uitgawes hê en dalk vir niks nie. Hulle boor nog, en daar skiet die water maklik 20 meter die lug in. Ons het nog fotos. Die water loop tot vandag toe nog sterk.
My pa se bynaam was Zorro. Hy was my held. 1952/09/06 – 2017/08/08

Vermeemde ·

Nou so paar jaar trug kry ek n boorman met daai stok wat krake wys, hy wys n kraak nie ver van my huis af nie, ek betaal hom sy R1000 vir die wys. Daai middag 5uur toe trek hy maar die stange uit, die kraak was droog, n grap van R20 000 daai tyd.

Ek hoor van n ou koster wat water wys en betaap hom sy R300 vooi, hy wys toe in my land en ek mer die plek met n groot klip, paar maande laater skuif ek die klid n goeie 30m wes en gaan haal die oomie om net weer te kom bevestig, so waar as wragtig, hy loop oor die plek waar die klip gele het en reg op die klip vap al wat n bottel is af en elke wilger mik daai in die ronste dat die bas in die palms agter bly.
Waterwysers werk nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.