Oor die dinge wat ons nalaat

Deur prof. Alwyn Swanepoel

Daar is drie bekende woorde wat baie gepas is as jy drooggemaak het of nagelaat het om iets te doen: Gaan maak reg. ‘n Ander woord hiervoor is restitusie. Hoe jy dit ook al wil spel, dit is belangriker om die daad by jou woorde te voeg wanneer dit nodig is. Dit geld ook wanneer ʼn nuwe jaar spoed optel. Is daar nie iets wat jy moet regmaak wat jy bly uitstel omdat jy dit vermy en kamma so haastig is nie? Vergun my om jou met ʼn verleentheid van my eie aan te vuur.

Jare gelede het ʼn sekere tannie Christa van Niekerk my met toesprake op hoërskool gehelp. Dit was in die dae toe die Hoër Landbouskool Kroonstad, die Lanties, nog bestaan het. Dit was ook die dae toe mense nog oorweeg het of hulle Desember see toe gaan of eerder langs die Valsrivier by Kroonstad wou gaan uitkamp. As jy dit nie kan glo nie, gaan vra maar vir die ouer garde.

In daardie jare het tannie Christa (hier op die foto saam met haar man, oom Gerhard, en haar dogter Madaleen) my met die wese van my toesprake gehelp deur dit selfs op vierkantige kaartjies vir my uit te skryf. En dan sou ek kom en met ʼn paar humoristiese voetnote die proses sogenaamd “afrond”. Sy het die hardeskyf daargestel, en ek het bloot die sagteware se kwinkslae daarby ingevoer.

Toe kom die geleentheid aan die einde van my skoolloopbaan in 1990 om die afskeidswoorde by die skool se galafunksie te lewer, en natuurlik help tannie Christa weer. Sy help my selfs om te onthou vir wie om almal dankie te sê. Trou aan haar aard, noem sy nie haar eie naam nie. Ek het dit raakgesien en oorweeg toe om haar naam by te sit, maar om een of ander rede, wat heel waarskynlik met eie ego en sonde te doen gehad het, het ek dit nie gedoen nie. Was dit dalk omdat die mense dan sou besef dat ek nie uit my eie so goed kon praat nie? Ek weet nie en ek kan ook nie meer mooi onthou nie. Ek het ook al daarna vir haar ekskuus gesê. Maar iets bly my pla. Dit is dat die kring waarin ek nagelaat het om dank te betoon baie groter was as my persoonlike ekskuus aan haar. Ek glo sy het dit lankal vergeet, maar ek wou dit graag op ʼn manier probeer regstel en die nodige eer aan haar bring.

Daardie aand van liederlike nalating was daar seker so 500 tot 800 mense in die skouburg van Kroonstad. Ek hoop van harte dat meer as 800 mense hierdie huldeblyk sien, al is dit nie dieselfde mense nie. Hopelik kom bepaalde brood op die water tog na haar en haar man toe terug. Tannie Christa en oom Gerhard se vriendelikheid en hulpvaardigheid, oop harte en humor in my skooljare en ook daarna, sal my altyd bybly.

Besonder helder in my gemoed afgeëts is die gesig wat ek gesien het toe ek een aand as laerskoolseun laat by hulle kamer verbygeloop het. Dit was toe ek by hulle seun Roelf aan huis gekuier het. Dit was die gesig van ʼn man en vrou, weerskante van hul dubbelbed, elkeen op hul knieë met hulle Bybels by hulle. Hulle was besig om, terwyl hulle met die een hand mekaar se hande vashou, hulle harte voor die lewende God uit te stort. Ek is vandag nog dankbaar dat daardie hande van tannie Christa ook met kaartjietoesprake kon help en dat die gehalte van my gevleuelde woorde daarom baie beter was as wat ek dit ooit self kon doen. Tannie Christa, ek salueer jou.

Ag, en om dit dan vrugbaarder te maak as net eie nalatigheid, is hierdie ʼn aansporing vir elkeen. Is daar nie dalk iets wat jý in 2022 moet gaan regmaak nie? Dalk lankal moes regmaak? Miskien is dit klein, miskien is dit groot. Miskien het jy ook iets nagelaat. As iets jou bly krap, en solank dit die ander party kan opbou – gaan maak reg. En onthou wat die dominees leer: Laat die kring van oortreding of nalating jou lei oor hoe groot die kring moet wees voor wie jy dit behoort reg te stel, as jy kan en as dit opbou. Dit alles natuurlik met die dankbare wete vir Christene dat dit in Christus reeds afgehandel is en daarom in Hom tot afhandeling kan lei.

  • Prof Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde instelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

‘n Interessante lekker stuk met puik raad!
Tannie Christa klink ‘n ster, sy sou verstaan.
Die Engelse uitdrukking, “the Road to Hell is paved with Good Intentions”, ook nogal werd om te onthou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.