Oor die seer en swaarkry weerskante van die N1

Inwoners van East Lynne (Foto: Marlien van der Westhuizen)

Dag-in en dag-uit lê sy moedeloos en sonder ʼn greintjie hoop aan weerskante van die besige N1 uitgestrek.

Vir dekades lank is dit al so: Hordes motors rits elke dag op dié hoofweg verby sonder om ʼn enkele keer na links of regs te kyk. Party se oë bly gefokus op die uitgestrekte pad en nie een waag dit om oogkontak te maak nie – selfs nie vir ʼn stonde nie. Ander wíl nie sien nie.

Die petalje met oogkontak is eenvoudig: Sou jy eers na links of regs kyk, is jy aandadig. Dan is jou gewete soos blink boeie vir ʼn siel wat nimmer weer sal rus nie.

Maar as jy wíl sien en dán kyk, sien jy haar aan weerskante van die hoofweg genestel: East Lynne, die tuiste van armoede wat jou aan die hart kom ruk. Die plek waar verdriet soos ʼn donker gees in meeste van die huise ingetrek het. Die voorstad waar hoop en drome aan skerwe lê. Vlaktes waar moed lánk nie meer bestaan nie. As jy dán kyk, síén jy wat die duisende ander oë vermy; dan beleef jy die swaarkry wat ander ignoreer.

Maandagoggend skuins ná 10:00 was só ʼn oggend.

ʼn Vaal vrou met slierterige hare en ʼn vuil pajamabroek trek die gordyn voor die venster effens weg toe die motor buite die vervalle huisie in Pretoria stilhou.

Een van die huise in East Lynne (Foto: Marlien van der Westhuizen)

Binne die motor is vier dames van Helpende Hand wat vandag as deel van een van dié organisasie se vele gemeenskapsprojekte na armoedige Afrikanergesinne uitreik. Voor in die motor is die 85-jarige oom Jorrie Jordaan van dié organisasie se Silverton-tak. Week ná week bewandel die oom dié vergete en verlate strate om verligting vir meer as 37 huisgesinne te bring; dít terwyl manne veel jonger as hy mor oor ʼn vyfdagwerksweek.

Van buite die motor in die straat is die reuk van brandende hout kenmerkend. Sommige vensters is soos legkaarte aanmekaar gesit; ander is toegeplak met bruin kartonboks. Aan die linkerkant hang stukke plafon uit die dak, by die voordeur dop die blou verf van die mure af.

“Hoe gaan dit met jou vandag?” vra oom Jorrie vir die middeljarige vrou wat ons by die hek kom groet. Sy maak vinnig oogkontak, maar kyk dan weer na die plaveisel.

Hulle is skaam, fluister oom Jorrie. Hulle het níks, nie eens ʼn paar rand vir brood nie, genugtig, selfs hul wasgoeddraad is aan twee bome vasgebind. Maar hulle weet iets makeer; dis nie hoe dit moet wees nie, dis nie hoe ander mense leef nie. Hulle kry swaar én skaam.

Die vrou groet terug. Dit gaan goed, sê sy, en nooi ons in die huis in. Dan gryp jy jou hart vas: armoede het hier ingetrek, en nóú skree dit om aandag uit elke hoek van die huis. Toe ons die huis inkom, hardloop twee volwassenes die kamer in. Ook skaam, sê oom Jorrie, dalk vir die kameras.

‘n Huis binne East Lynne (Foto: Marlien van der Westhuizen)

“Het julle nog genoeg hout?” vra oom Jorrie aan die vrou. Sy is die enigste een wat praat. Haar hande is bruin, haar klere verweë, haar oë amper leweloos.

“Ons het niks meer hout nie, oom Jorrie,” sê sy. Sy kyk steeds na die vloer. “Ons gebruik die stukke wat van die boom buite in die straat afval,” sê ʼn stem van agter. Dié keer ʼn jong man, ook verwese, ook moedeloos, ook deur die wêreld agtergelaat.

Hulle gebruik dié hout om water warm te maak, verduidelik oom Jorrie. Dié huis se ligte het vyf jaar gelede laas gebrand. Nou maak hulle die water warm sodat die drie kinders (nege, vier en drie jaar oud) daarin kan bad. Die volwassenes, agt van hulle, verdra maar die koue water.

“Het julle genoeg komberse en warm klere vir die winter?” vra oom Jorrie. “Ons het genoeg komberse, oom,” sê die middeljarige vrou. “Nie klere nie.” Sy was na haar kaal arms. “Ek loop maar so rond, ek is mos gewoond daaraan.”

Dís die toedoen van ʼn bose siklus, vertel oom Jorrie aan die groep. Generasie ná generasie bly die gesinne in die armoede vasgevang. Die ouers het nie geld vir onderrig nie, die kinders woon nooit ʼn enkele klas by nie. Dan word húlle ouers en dieselfde siklus herhaal homself.

Niemand wil hulle in diens neem nie, fluister hy. Hulle het níks om te wys nie: nie ʼn onderrig nie en geen ondervinding nie. Al wat jy kan doen is om klein werkies aan te bied en dan te hoop dat hulle daarmee kos op die tafel kan kry.

Die veiligheidswag wat daagliks 40km werk toe en terug pendel (Foto: Marlien van der Westhuizen)

En dis nie net één gesin nie. Anderkant die straat besoek ons ʼn paartjie wat in ʼn piepklein vierkantige houthuisie bly. Die man is 56. Sy is 42. Binne die huis is ʼn ou bedbasis sonder pote, ʼn ketel en ʼn paar af-oor-koppies, ʼn klein werksoppervlak, ʼn gordyndraad met onderklere bo die bed en ʼn skottel wat teen die muur hang. Daar is geen plafon nie; net ʼn sinkdak met gate en ʼn houtvloer vol watervlekke.

In dié ellende leef hulle al twee jaar lank. Elke dag tap hulle water van ʼn kraan buite die huis, maak die skottel vol, en was dan hulself langs hul bed. Ook hulle het geen onderrig nie, hul ouers ook nie, daarom maak hy maar hier en daar ʼn geldjie deur mense se tuine skoon te maak of wanneer weldoeners – soos vandag – vir hom ʼn paar blikkies kos bring.

Net een kilometer verder is nóg so ʼn erf: Vandag is hulle elf mense, verlede jaar was daar 17. Agter in die erf is vier klein houthuisies vir dié gesinne. Elke huisie kos R1 500 per maand en kan ʼn bed, ʼn klein werkoppervlak en ʼn draadrak vir klere huisves.

In een van dié huisies woon ʼn man wat tot onlangs nog elke dag 40 km huis toe en terug gestap het om as veiligheidswag by ʼn plaaslike maatskappy te gaan werk. Deesdae, ná nog ʼn skenking, ry hy fiets. Maar steeds betaal die werk hom net meer as R4 000 ʼn maand. Daarom het “hulle” sy dogter kom wegvat, sê hy. Sy is nou in die weeshuis; “hulle” het gesê hier is vir haar geen privaatheid nie. Nou sien hy haar elke tweede naweek, maar sommige ouers sien hul kinders nooit weer nie.

‘n Huis binne East Lynne (Foto: Marlien van der Westhuizen)

“Wat moet ek doen?” vra hy met ʼn bewerige stem vir oom Jorrie. “ʼn Groter plek sal my salaris opeet. En daar’s nie ander werk nie – nie vir my nie. So dis die enigste oplossing.”

Oom Jorrie skud sy kop, kyk na onder. Hy sal weer kom draai, sê hy. Volgende keer bring hy weer eetgoed.

Daar ís hoop om dié kringloop te verbreek. In Danville is die Beyers Bytjies-kleuterskool wat vanjaar meer as 150 kinders van vyf en ses jaar onderrig – hoofsaaklik kinders van dié arm huisgesinne.

Dié kinders, sê Glenda Smit, die sekretaresse, kom hoofsaaklik uit Danville, Elandspoort en Philip Nel Park. Die helfte van hierdie kinders se ouers leef onder die broodlyn, en selfs al betaal sommige ouers net R100 vir skoolfonds elke maand, kan die ouers dié geld nie bybring nie. En jy sien dit elke dag, sê Smit, selfs in die winter kom die kinders sonder skoene skool toe.

Meeste kinders leef saam met hul ouers in ʼn enkele kamer, en dié kamer is die speelkamer, die slaapkamer, die sitkamer en die kombuis. Die kinders beleef goed in dié kamers wat geen kind veronderstel is om te beleef nie: huismoleste, fisike gevegte, harde woorde.

Inwoners van East Lynne (Foto: Marlien van der Westhuizen)

Maar minstens kry hulle ʼn onderrig, sê een uit die groep. Dalk breek ʼn enkele een uit die kringloop. En dit hét al gebeur. Dit ís moontlik.

Terug in die motor op pad na die kantoor lê die emosies vlak – vir die seerkry en die swaarkry, maar ook vir die moedeloosheid en wanhopigheid waarin soveel jongmense hulself elke dag net anderkant ons voordeur bevind.

En vir elke motor wat daagliks op die N1 klim en nie oogkontak maak met die seerkry aan weerskante van die N1 nie.

Solidariteit Helpende Hand is ’n welsynsorganisasie geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949. Die organisasie se fokus is om ʼn antwoord op die Afrikaner-armoedekrisis te vind deur ʼn verskeidenheid van projekte. Hy doen dit deur armoede deur middel van onderskeie projekte te verlig, voorkom en te verbreek. Helpende Hand kan slegs dié projekte doen mits genoeg lede deel van die organisasie vorm. Sluit hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

44 Kommentare

Daan ·

Ag Vader ons God sal U asb. help, en die mense bonatuurlik voorsien, U engel stuur om hulle te beskerm, en die arme kindertjies troos en beskerm, en sal U asb. U Gees oor die mense vaardig laat raak om nader en nader aan U te kom, en asb. ook oor my om my te herinner om dankbaar te bly in Jesus naam amen.

PJ Kruger ·

AMEN……Ai ou Daan, baie dankie vir hierdie gebed…..ons moet baie meer vir ons mense en ons land BID.

Tablet en Coursera ·

Skenk tablette aan leergierige arm mense sodat hulle die Coursera app kan aflaai en gratis uitstekende kursusse kan doen en so hulself bemagtig.

Ken jy armoede? ·

Heel duidelik weet jy nie hoe dit is om nie krag te hê om ‘n tablet te laai nie. Dit is die eerste item wat ek sal verpand as ek nie kos vir my kinders het nie.

Ja ek ken armoede ·

Ja, ek werk met armoedeverligting en miljoene mense is alreeds uit armoede verlig hierdeur regdeur die wereld, dis net in SA waar mense stadig is om nuwe tegnologie vir armoedeverligting aan te neem. As miljoene ander dit kan doen dan kan ons ook. As daar ‘n wil is is daar ‘n weg.

Gee die Waarheid ·

Ons ry op ‘n weeklikse basis deur die area – nie op die N1 nie, maar deur die strate. BAIE hartseer en die nood is enorm. Groot, groot werk nodig daar.

Iets wat my elke week weer verbaas is die groot aantal plekke wat skynbaar ‘n bestaan maak deur sterk drank in daardie uiters behoeftige area te verkoop. En hulle hou soveel van hierdie arme mense in ‘n greep… Kan Solidariteit Helpende Hand asseblief dalk ook iets daaraan doen? Dit kan voorkomend werk om armoede te help voorkom. Dis juis daardie moedelose mense wat geen hoop meer het nie, wat so maklik in hierdie greep beland! Kry dit uit die area uit.

Die Waarheid ·

Ja, jy is reg. Drankwinkels maar ook dobbelhuise en dwelmsmouse hou hulle arm. Die drie bedrywe is baie groot en magtig en niemand mag waag om hulle te probeer voorkom om hulle te druk nie. Die Free Market Foundation baklei hulle fuiste af vir drankwinkelregte. Die bierbroureuse sal als doen om te verseker dat daar wette is om enige vorm van plaaslike brouery so streng te reguleer dat hulle die geldvloei kan beheer en dit in hulle hande bly.

Jacobus ·

Aan Maroela Media Redaksie;

U berig laat dit klink of die hele en ek bedoel die hele East Lynne in armoede gedompel is.

Ek het daar grootgeword; armoede was daar soos in talle omliggende woonbuurte en verder; maar daar het en woon steeds ook gegoede middelklas mense.

Dit sal help as u dalk meer spesifiek is oor die omgewing; bv die strate ens. of sê liewer dat daar by sommige huise in East Lynn armoede is.

Was onlangs weer daar en het heelwat duur voertuie daar gesien voor van die huise.

Ek weet wit armoede word weggesteek maar om ‘n hele woonbuurt oor die selfde kam te skeer is een te veel gevra.

Dink asb. aan die persone wat eiendom daar het, wat moet hulle doen en wat is die impak op hulle eiendoms waarde.

Die mense wat moontlik gedink het om daar te koop gaan nou dink dit is ‘n slegte en armsalige buurt en wie wil nou hulle geld belê in eiendom in ‘n arm buurt.

Wees asb. versigtig met die beriggewing, vae beskrywings en omskrywings gee nie die werklike prentjie nie.

Celeste ·

Genade Jacobus. Mense kry swaar en jy is bekommerd dat jou buurt n slegte naam kry. Magtig steek jou hand uit en help eerder. Jy het n dak oor jou kop en kos in jou maag. Daai mense het niks NIKS! Jou prioriteite is op n verkeerde plek

Celeste ·

Genade Jacobus. Mense kry swaar en jy is bekommerd dat jou buurt n slegte naam kry. Magtig steek jou hand uit en help eerder. Jy het n dak oor jou kop en kos in jou maag. Daai mense het niks NIKS! Jou prioriteite is op n verkeerde plek

cb ·

Jacobus, ek ken van swaar kry, onthou net dat nie almal is so geseend soos jy nie, dit is omstandighede, ok asseblief. Soms is mense blind om te sien wat om hulle gebeur. Rustige nag vir jou en familie.

MisouSA ·

My hart wil breek!!!!
Wens die buiteland en veral CNN kan hierdie in Engels publiseer en bekend maak.
Dankie MM.
Maak plan asseblief!!!
Stuur dit die wereld in.
Mede wit mense van SA:
TYD HET GEKOM DAT ONS NOU ONS EIE MENSE HELP!!!!
NIEMAND ANDERS SAL!
Dink twee keer voor julle kos en klere weggooi!
Sien hierdie mense se seer in hulle oë!!
Ons moet saamstaan en HELP!!
Mens moet bid… maar dit maak my kwaad as almal net wil bid!!
Ons moet DOEN!!!
Bid is nie genoeg!!!

Almien ·

My hart gaan uit…..maar nogsteeds hou hulle aan om kinders te kry🙈Daar is nie geld v kos of klere nie waar moet die geld vanaand kom v nog n kind……dit maak my boos

Kiewiet ·

Mmmm. Ek het ook nogal eerste die skottels opgemerk. Waarvoor? Jy het mos nie krag nie?

DK ·

Sulke lewensomstandighede het nie altyd te doen met wat met mense gebeur nie, maar het soms te doen met verkeerde lewenskeuses. Ek het vir 5 jaar in blanke plakkerskampe en arm woonbuurte vrywillige werk gedoen. Meeste van hierdie mense wou nie werk nie, al het ons vir hulle die geleentheid gegee. Daar was altyd prostitusie, drank-en/of dwelmmisbruik betrokke. Dit het my uitgebrand want mens bly gee en gee en help en help, maar as mens weer daar kom sit hulle dronk onder die bome. En almal het kinders en troetediere waarvoor hulle nie kan sorg nie. En luiheid is ook ‘n algemene probleem in hierdie gemeenskappe. ‘n Kerk het bv. by een van hierdie gemeenskappe ‘n groot groentetuin aangelê en die water betaal. Al wat die mense moes doen was om dit nat te lei, maar hulle was te lui om dit te doen en alles het gevrek. Duisende rande se skenkings is so vermors. Elke mens moet tog verantwoordelikheid neem vir sy/haar eie lewe en gebruik maak van geleenthede. Ek weet nie waar die probleem lê nie. Tekort aan integriteit? Gebrek aan selfmotivering? En hoe verander mens dit? Ek weet nie. Ek het probeer help, maar ek gaan nie sommer weer help nie, tensy die mense ook van hulle kant af ‘n poging aanwend om hulle self te help nie.

Linda van Mosselbaai ·

Dk ek het so medelye met wat jy sê. Ek is ook deesdae baie sku om mense te help. Ons gaan tekort en die wat ontvang spandeer dit om nie noodsaaklike goed.
Om lank in sulke omstandighede te help laat mens uitbrand.
Baie sterkte aan almal betrokke – om hulpeloosheid aan te spreek verg baie geloof en hardewerk.

TDW ·

DK. Dit is so. Ek besef wel dat om die groot mense te help help niks nie. Hulle is alreeds so vasgevang in hul roetine, en al sou hulle dit anders wou hê het hulle min tot niks lewenslus nie. Hulle het al lankal opgegee en wag vir ander om hulle te help. Dwelms, drank en losbandigheid is deel van hul lewens, so ook molestering en gesinsgeweld.
Ek het al besef dat dit nie veel is om hulle te help nie, hulle het lankal opgegee. Maar daar is nog hoop vir die kinders, ons kan hulle nog leer om uit die armoed mentaliteit uit te kom. Dit vat net een kind om die siklus te breek. Ek het gesien hoe dit gebeur. So daar is hoop. Die hoop lê by die kinders wat op die oomblik hierdie bestaan aanleer. Maar ek veroordeel nie die volwassenes nie, dit kan so maklik gebeur dat jy al so hard geslaan is deur die lewe dat jy nie meer kans sien vir enige iets nie, of dis waarmee hulle groot geword het en is al wat hulle ken, maar die kinders kan nog geherprogrammeer word.

Mia ·

Ek stem saam met DK. Ek het ook al mense gehelp en hulle het die situasie net verder uitgebuit. Dit is ‘n keuse en net jyself kan jou uit jou omstandighede laat uitstyg. Die meerderheid van mense redeneer dat daar altyd iemand daar buite sal wees wat sal sorg. En hoe meer daar gesorg word, hoe meer wil hulle hê! Maar aan die anderkant is daar werklik mense wat baie swaar kry en die meerderheid se houding bemoeilik dit dat daar hulp verleen sal word.

SNEL ·

Aan die een kant om te sê die Here moet arm mense help is belaglik. Ons is Sy hande en voete hier, ons moet ons hande uitsteek en help. So goed soos jy eet jou trommel dik aan alles in die yskas en vanaand aan tafel sê jy vir die gesin; kom ons vat hande dat die Here vir julle voorsien. Jy was daar gesit om vir hulle te voorsien en om met hulle te deel, dieselfde met ander wat sukkel. Ons moet deel met ander. Aan die ander kant sê die Bybel ook as jy nie wil werk nie moet jy nie eet nie. Punt is, help die wat gehelp wil word en los die res oor aan hulle eie genade. Ek sal nie eers skuldig voel as ek DK is nie, jy het die ekstra myl geloop. Sulke goed breek n mens se spoed, maar laat die Here jou lei waar daar hulp nodig is. Help die wat gehelp wil word en vergeet van die res. Dink aan die dissipels wat die stof van hulle voete moes afskud as hulle verwerp was deur mense om nie die boodskap te hoor nie. Net so in so geval.

LB ·

Oor die aanmerking tot dit skottels op die dak, dalk het ‘n weldoener aan elk ‘n sonpaneel geskenk en kan hulle soedoende ‘n goedkoop paket kies om ook ‘n paar tv kanale te kan bekostig?
My hart gaan uit na hierdie mense, daar is baie mense wat oordeel op grond van voorkoms en kleredrag, en om so uitsigloos te moet leef moet hel wees.

Wonder ·

Kan julle dit asseblief op ALLE, let wel, ALLE TV kanale plaas? So ook in AL die koerante. Daar is baie mense wat nie glo dat daar arm blankes is nie. Veral die jeug wat saam met my werk, glo daar is nie arm witmense nie.

Wonder net... ·

Ek het al baie gwonder as jy so swaar kry, wat se werk is jy bereid om te doen as jy nie kos in jou huis het nie. Dalk tuinwerk, karre was, huiswerk, petroljoggie, is daar niemand wat so persoon as hy vra sal gebruik nie?

Michelle ·

Dalk kan ons plan maak vir ‘n mobiele kliniek vir voorbehoedmiddels? Alhoewel dit gratis by klinieke beskikbaar is, weet ek nie of hul tot daar kan kom nie. Want om in só ‘n situasie te wees, en dan te sê “nee dis ‘n bose kringloop” is vir my vreeslik onregverdig teenoor onskuldige kinders.

LEA ·

Dit is regtig n groot krisus in ons land so baie mense so arm! My susterhulle gaan deur die selfde al 6 jaar sonder krag. Die naasbestaandes gee ou klere wat sy op haar beurt regmaak en dan verkoop om net n kossie op die tafel te bring. Donderdae werk sy in my en suster se huis. Maak huisskoon , was en stryk. Haar man werk in die tuin. Hulle kry nie werk nie. Dit breek ons harte maar deur alles is sy dankbaar sy glo en weet Jesus hou hulle aan die lewe. Alle sterkte !! aan almal wat honger en dors het God sal jou water en kos gee dat jy nooit weer honger of dors sal wees nie!!!

Sharon ·

Hoe kan ek kos en klere vir die mense vat die naweek? Ek het groot geword ek het vir 26jaar daar gebly, ek wi die mense help

Piet Pompies ·

Dit is nog een van my drome, om nadat ons aftree aktief betrokke te raak by hulp vir arm mense. Tans help ons soos ons kan, maar daar is ‘n verskil daarin om self by mense betrokke te wees, jou kennis en ervaring aan hulle oor te dra en arm mense weer onafhandlik te maak, dit gee hulle waardigheid weer terug. Ons bid ook elke dag vir swaarkry mense.

Ekonomiese transformasie ·

‘n Groot rede vir ons ekonomiese agteruitgang is omdat ons jongmense in verkeerde rigtings leer, nie gratis leergeleenthede aangryp nie en omdat ons volwassenes nie in lewenslange leer belangstel nie. Daar is baie groot geleenthede in sekere sektore maar die sektore verander. Baie mense bly vasgevang in verouderde sektore of loopbane, en dit is een van die grootste redes vir armoede in East Lynne. Ons land moet meer doen om beter beroepsvoorligting te verskaf, mense bemagtig om aan te hou leer om op hoogte van die nuutste tendense in hul beroep te bly, en om by die digitale ekonomie aan te pas. Ja, vir baie mense in East Lynn is dit te laat, maar ons kan keer dat dit erger word regoor die land.

Karien ·

Noem een gratis leergeleentheid in hierdie land waar iemand wat se punte nie uitstaande is nie kan gaan inskryf, want ek kan aan geen dink nie. Weet van n meisietjie wat verlede jaar matriek geskryf het en sukkel om werk te kry en nie geld het vir verder leer nie. Kan nie eers in verpleging leer as jy nie geld het nie, kan nêrens gaan leer as jy nie geld het nie. Watter besigheid gaan so persoon aanstel en laat verder leer. Gratis geleerdheid in SA moet nog geskep word of ons is te wit vir dit wat daar in plek is.

Leerverniet ·

Die arbeidsekonomie is globaal, geen rede om jouself meer tot SA se leergeleenthede te beperk nie. Kyk na EdX, Coursera, Udemy, Alison Courses en totaal verniet is Open3Study.

christa ·

Almien ek stem saam met jou. Ek ken armoede, was ook daar maar dan was daar nie gerook, gedrink of tv nie. Was darem skoon en hare gekam. mense kan arm wees maar ook skoon. Al moes ek by garages motorvensters was vir geld het ek gewerk. Mense se erwe skoon gemaak, enigiets vir ‘n geldjie vir my kinders se kos. Helpende hand moet eerder werkgeleenthede skep as om aan te dra. Die mense moet leer om selfstandig te wees.

Gemeenskapswerk ·

Goeie idee, skep eerder werksgeleenthede, of gee hulp in ruil vir gemeenskapswerk.

Mariana ·

Helpende Hand fokus op die verligting (kos en klere), voorkoming (opleiding/ studiefondse) en verbreking (mense in permanente werk te plaas) van Afrikaner armoede. Helpende Hand ontvang geen fondse van regering of lotto nie en is afhanklik van gewone mense, soos ek en jy wat bereid is om slegs R50 p.m te gee, sodat weerloses gehelp kan word. Indien jy meer inligting verlang, is jy welkom om my te kontak by [email protected]

Elize ·

Volkshulp kry baie skenkings van mense wat omgee, en wat spesifiek wil hê hierdie mense moet gehelp word. Daar is sakke en sakke vol klere, kan hulle nie hierdie mense ten minste help met klere nie.

Jeanie Meyer ·

Ek kry al hierdie mense en kinders bitter jammer. Daar is net een ding wat ek nie kan verstaan nie. Hoekom het hulle Elsat en Dstv dishes?

Hanna ·

Wat is die adresse van die mense…ons sal hulle graag persoonlik wil besoek en ondersteun…

Mariana ·

Dag Hanna, stuur asb vir my ‘n epos na [email protected]. Ek sal Oom Jorrie, takvoorsitter van Helpende Hand Silverton se kontakbesonderhede vir jou stuur. Hy lewer elke Donderdag kos af en hy sal nie omgee indien jy saam wil gaan nie

Hans ·

Weet iemand waar is die mense presies…sal graag hulle wil besoek ?

Mariana ·

Hallo Hans, stuur asb vir my ‘n epos na [email protected]. Ek sal Oom Jorrie, takvoorsitter van Helpende Hand Silverton se kontakbesonderhede vir jou stuur. Hy lewer elke Donderdag kos af en hy sal nie omgee indien jy saam wil gaan nie

MADELEIN ·

Ek kry ook arm mense baie jammer, het ook baie baie swaar groot geword het nooit so iets soos krag geken nie my ma het 10 kinders alleen groot gemaak, en ons almal skool opleiding klaar gemaak my Pa is oorlede toe ek 5 jaar oud was vandag werk ek en het n goeie werk ek se dankie Here elke dag vir my werk maar wat my boos maak ek het gesien en beleef hoe Blanke mense sodra jy vir hulle kos en klere gee in Danville en Elandspoort so vining verkoop hulle dit vir drank ek oordeel niemand nie en bo in Danville is n plek wat mense oplei om te werk daai vrou is blank gaan kyk haar en haar kinders se huise van al die skenkings ek is jammer vir mense wat regtig swaar kry maar daar is baie baie organisasies wat blankes uitbuit ek het dit self beleef en dit maak my Boos.Ek betaal elke maand vir Solidariteit R100-00 wat sien ek in van der hoff weg is ntweedehandse klere winkel, wat klere verkoop teen n appel en n ui maar hulle kry dit mos gratis.

Lizzy ·

Madelein, ek en n vriendin het ook so n winkel. Die huur is R5000 en ons betaal n jong meisie wat op straat was, R3000 om in die winkel te werk. Die geld wat ons oorhet, koop ons kos, vleis en groente, vir die wat nie het nie. Ons gee ook van die klere weg aan die wat dit nodig het. Ons altwee werk ook net vir n salaris. Naweke is ons daar om kos te maak. Ons doen al hierdie dinge omdat ons wil help. Die mense wat vir ons skenkings gee Ken ons harte. Ek glo daar is baie van ons wat help en nooit sal opgee nie. Ons soek ook nie dankies of n toejuiging nie. Om te help en uit te reik is geestelike groei in die beste vorm, want ons ken ons Meester persoonlik.

Gerhard ·

Die probleem kan net opgelos word as die siklus gebreek word. Dit beteken die kinders moet goeie opleiding kry sodat hulle nie in armoede leef nie. Anders sal dit maar net so aangaan een geslag na die ander.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.