Oor wenkbroue en ander (wol)haarstories

(Foto: Unsplash)

Deur Marlene Farmer

So ʼn paar weke gelede lees ek die gedig “A poem about eyebrows”.

Die digter beskryf wenkbroue onder andere as:

A thousand bristly hairs…

Really loud…

Look like punctuation…

My left one is called Daphne…

Dit herinner my aan ʼn eertydse buurvrou van my. Daphne. Sy was al vêr gevorderd in jare, maar het gereeld blou strepies getrek waar haar wenkbroue eens was.

Nietemin. Dit was wenkbroudag. Myne het soos ʼn vuurverbrande oerwoud gelyk. Kol-kol hare. Dit was tyd vir my om ʼn plan te maak. Ek moes myne, Iets en Niets, daardie dag tot orde roep of liewer pluk. Dit, vriende, was makliker gesê as gedaan. Met ʼn regterhand wat bewe, was dit ʼn gegewe dat die plukker ook sou bewe. Eweso my linkerhand en die handspieël. Goed. Ek het nie moed opgegee nie. Geen wenkbrou sou hom vir my opruk nie. Die spieël in my linkerhand is teen die diefwering voor die venster vasgedruk, want daar moes genoeg lig wees. My regterhand met die plukker moes ook teen die diefwering vasgedruk word vir ondersteuning met my gesig lekker naby aan die spieël – sodat ek sonder my leesbril kon sien.

Een, twee, drie, pluk! Mis. Weer probeer. Eina! Dit was my vel. Weer probeer en weer en weer. Ek het bes gegee. Ruk jou maar op vir my!

Ek sou ʼn ander plan moes maak en het besluit om op te lees en navorsing te doen oor algemene wenkbrousorg en die pluk daarvan in besonder. Vriende, daar beland ek toe in ʼn web van harige stories en foto’s op die wêreldwyeweb. My mond het behoorlik oopgehang. Ek het my vergaap aan veral die dames met snorre en baarde en borshare. Dis ʼn harige besigheid, laat ek jou dit vertel.

Ek het gelees van jaarlikse kompetisies reg deur die wêreld waar mans en dames spog met hulle gekrulde, gestyfde, gekamde, harige gesighare. En laat ek jou vertel die dames staan geen tree terug vir hul eweknie die mans nie. Soos een dame dit stel: “A girl with a beard, it just adds a certain je nè sais quoi to the whole thing.” Daar het jy dit nou.

My leeslus en natuurlike honger na inligting het my toe ook daardie wenkbroudag en die dae daarna gelei na ʼn paar interessanthede oor wenkbroue. So word daar vertel dat jou wenkbroue kan verklap watse tipe persoon jy is. Wil jy nou meer. Geboogde wenkbroue verklap met die eerste ontmoeting dat jy ʼn kreatiewe persoon is. So word jy gesien as ʼn persoon met hope selfvertroue as jy reguit wenkbroue het en die met wenkbroue wat ʼn effense hoek vorm, verklap dat hulle vroulike sensitiewe siele is. Vriende, myne pas nêrens in nie. Ek wonder wat dit van my sê…

Wenkbroue word van vroeg af skynbaar as ʼn prominente gesigskwaliteit beskou. Egiptiese dames het hulle wenkbroue met Kohl ingekleur. Nigeriese dames het weer hul wenkbroue met klei ingekleur vir ʼn aardse effek. Soos wat ek die geskiedenis van die wenkbrou nagevors het, het ek tot die besef gekom dat niks eintlik verander het nie. Dames kleur, tatoeëer, pluk en waks nog steeds net soos toentertyd. Mans ook.

(Foto: Pixabay)

Daar is ʼn magdom raad en voorstelle vir die versorging en pluk van wenkbroue beskikbaar. Onder andere word daar aanbeveel dat jy jou wenkbroue ongehinderd laat en net jou wenkbrouborseltjie oor ʼn koekie seep trek en dan jou wenkbroue daarmee borsel… Wel, dit daar gelaat.

As afronding vir hierdie leerepisode het ek toe ook na ʼn video gekyk waar die ouerige dame stap vir stap verduidelik hoe ʼn vyftigplusser haar wenkbroue kan orden. Volgens hierdie wenkbrouspesialis behoort jou roetine nie langer as vier minute te duur nie. Ek het nog nie eens ʼn roetine nie.

So vertel my skoonsus my dat haar dogter wenkbroupoeier aanbeveel het. Hmmmm. Dit het na ʼn heel gawe plan geklink. Ek besluit toe om die poeier vir my te koop – bruin, diep en donker. Terwyl ek daar by die produkte gestaan het, vang my oog ʼn katoeter vir die pluk en beheer van neus- en oorhare.

Dit het my herinner aan ʼn harige gesprek met my broer oor sy wedervaringe in ʼn baie grênd haarsalon, juis oor die oorharebesigheid.

Die jong haarkapper by wie hy sy hare laat sny het, stel toe voor dat sy sy oorhare ook netjies maak. Die proses? Waks. Half teësinnig willig hy in, min wetende wat vir hom voorlê. Vriende, in sy eie woorde:

“Sy smeer toe die waks aan my ore en laat die bedryf droog word. Dit was nog oukei. Die probleem het gekom by die afpluk van daardie koudgeworde waks. Whapp! Sy pluk, maar niks gebeur nie. My kop ruk na die een kant toe. Whapp! Weer niks, net my kop wat weer een kant toe geruk word. Whapp! Genadiglik ruk sy die waks toe af. Ek is naby aan trane, maar byt op my tande. Ek weet nou wat vir my voorlê. Dieselfde proses vir die tweede oor. Whapp! Kop na regs. Whapp! Kop na regs. Whapp! Uiteindelik is alles toe uit. Die arme jong haarkapper, toe al rooi in die gesig, maak verskonings asof dit uit die mode gaan. Maar ek kan jou verseker my oorhare en my neushare, in die mode of te nie, kan nou maar groei.” Myne ook.

Maar laat ek nou nie by hierdie harige storie vashaak nie.

Die wenkbroupoeier het toe goed uitgewerk. Die borseltjie wat deur die seep getrek word? Wel, vriende, dit mag dalk net ʼn wolhaarstorie wees met stukkies seep wat in die wenkbroue agterbly…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TruthDealer ·

Ek het myne laat “micro blade”. Want ek is gebore met genetika wat my lewenslank omtrent 9 haartjies bo elke oog laat groei het. Pateties. So, moeg van sukkel met die alewige wenkbrou potlood, het ek toe vir micro blading gegaan en nou lyk ek darem normaal sonder om op n potlood te moet staatmaak. Dit lyk 100% natuurlik. Sal dit aanbeveel vir diegene soos ek.

Yoda ·

Goeiedag ek hou van jou antwoord ek sit self met 10 wenkbroue wat kos micro blading

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.