Oorgang kan ramp vir planeet inhou

ʼn Lugfoto van die verwoesting in Mexico Beach, Florida nadat orkaan Michael die gebied getref het (12 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Gerald Herbert

Mense wat iets van die ekonomiese geskiedenis weet, sal jou vertel dat die oorgang van een ekonomiese fase na ’n ander buitengewoon pynlik kan wees. Ons beleef tans só ’n oorgang.

Met een verskil: As ons dié oorgang nie verstandig en rasioneel hanteer nie, kan dit rampspoedige gevolge vir ons planeet hê. En daardie woord – rampspoedig – is nie vir dramatiese effek gekies nie; dit word letterlik bedoel.

Twee dinge kom hier saam. Die een is die oorgang van die ou ekonomie na die nuwe ekonomie; die ander die revolusie in die opwekking van energie.

Die ou ekonomie is gekenmerk deur die aanwending van fossielbrandstof – olie en steenkool – vir die opwekking van energie. Dis gekenmerk deur grootskaalse fabrieke met duisende werknemers.

In die nuwe ekonomie word groen energie gebruik wat deur wind, water, die son, ensovoorts opgewek word. Dis nog lank nie genoeg nie; daar word hard aan meer bronne gewerk, maar dis die rigting waarin dinge beweeg.

Die nuwe ekonomie beweeg ook in die rigting van ’n ander manier van werk. Digitaal is die toekoms; hande-arbeid word steeds minder belangrik. Mense sonder opleiding gaan heeltemal uitsak; vaste werkgeleenthede gaan steeds minder voorkom.

Hoe pynlik dit alles is, kon die laaste paar jaar in Amerika gesien word. Daar het die Obama-administrasie tientalle besoedelende steenkoolmyne en ouderwetse fabrieke laat sluit, waardeur honderdduisende mense werkloos geraak het.

Dit was trouens een van die faktore wat genoeg maatskaplike ontevredenheid geskep het waardeur die populis Donald Trump naelskraap die Withuis kon haal.

Sedert sy bewindsoorname het Trump gevolglik byna al Obama se maatreëls om die ekonomie te vergroen omgekeer. Steenkoolmyne is heropen, ouderwetse staalfabrieke werk weer volstoom, allerlei maatreëls om omgewing- en lugbesoedeling te beperk is verslap.

As jy net na die syfers kyk, het Trump daarin geslaag om die Amerikaanse ekonomiese herstel, wat reeds onder Obama ’n aansienlike momentum opgebou het, te versnel. Maar ten koste waarvan?

Verlede jaar het die sogenaamde Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC), ’n wetenskaplike organisasie wat klimaatsverandering bestudeer, in ’n verslag gesê 2018 was ’n kantelpunt vir die globale omgewing. Dié standpunt is gesteun deur 13 Amerikaanse regeringsagentskappe en honderde klimaatwetenskaplikes.

“Ek glo dit nie,” was Trump se bondige kommentaar toe verslaggewers hom daaroor uitvra. Sy regering het die verslag uitgereik op ’n tydstip dat dit die minste aandag sou trek.

Dis waarom Trump Amerika aan die Paryse Klimaatakkoord wil onttrek. Wat tans met die klimaat gebeur, is sy standpunt, is volstrek natuurlik en het niks met die mens se ingryping te make nie.

Maar kyk na die volgende: Volgens die IPCC se verslag het drie biljoen ton ys sedert 1992 in Antarktika gesmelt. Tussen 1897 en 1997 het die seevlak wêreldwyd met sowat 18 cm gestyg.

Trouens, die styging neem toe. Teen die einde van die eeu kan dit 65 cm wees, aldus die IPCC.

Die belangrikste faktor in die verwarming van die aarde is die miljoene tonne koolsuurgas wat die ou ekonomie in die atmosfeer inpomp. Dit veroorsaak ’n soort kweekhuiseffek waardeur die aarde nie kan afkoel nie.

Volgens syfers van NASA het die vlak van koolsuurgas in die atmosfeer sedert die Tweede Wêreldoorlog dramaties toegeneem. Op NASA se webwerf lees ’n mens:

“The current warming trend is of particular significance because most of it is extremely likely (greater than 95 percent probability) to be the result of human activity since the mid-20th century and proceeding at a rate that is unprecedented over decades to millennia.

“Earth-orbiting satellites and other technological advances have enabled scientists to see the big picture, collecting many different types of information about our planet and its climate on a global scale. This body of data, collected over many years, reveals the signals of a changing climate.”

Daar is baie mense wat óf klimaatsverandering ontken óf dat die mens ʼn rol daarin speel. Al wat ek kan antwoord, is dat die klimaatwetenskaplikes ʼn feitlik absolute konsensus oor die saak het. Op wetenskaplike kongresse word nie eens meer oor die saak gedebatteer nie, wel oor hoe dit omgekeer moet word.

Want omgekeer word, móét dit. Die klimaatsverandering genereer ook steeds meer ekstreme situasies, wat wissel van orkane, swaar reën, uiterste hitte tot langdurige droogte en wyd verspreide vuurstorms.

Kaapstad was in 2017 by wyse van spreke die kanarie in die myn, die eerste stad wat so byna-byna sonder water geraak het.

Sulke dinge dra bowendien by tot internasionale onstabiliteit. So kan state aanmekaar spring oor toegang tot waterbronne of visvanggebiede (teen die agtergrond van uitsterwende vissoorte).

Gelukkig is daar ook positiewe ontwikkelings te vermeld. Waar dit tegnologie was wat ons in die huidige gemors laat beland het, kan dieselfde tegnologie ook redding bring.

In Amerika het talle deelstate en munisipaliteite hul eie maatreëls getref om die uitstoot van kweekhuisgasse te beperk en groen energie op te wek. Motorfabrikante belê groot geld in die ontwikkeling van elektriese motors of voertuie wat waterstof as brandstof gebruik. Fabrieke word ontwikkel wat koolsuurgas uit die lug suig en dit vir allerlei winsgewende doeleindes aanwend.

Die belangrikste is dat klimaatsverandering ʼn ernstige politieke kwessie geword het. Veral in Europa, waar die bewussyn veel verder as in Amerika gevorder het, sien politici stemme in die saak, en daar is byna geen politikus wat hom teen die vergroening van die ekonomie verset nie, al beklemtoon die een dit sterker as die ander.

Selfs in Amerika is dié mening aan die ontwikkel. Volgens ʼn peiling van die televisiestasie NBC glo 70% van dié land se bevolking al dat klimaatsverandering ʼn feit is, en 57% dat die mens die oorsaak daarvan is. Altesame 66% meen ernstige optrede is nodig, en 30% dat verdere navorsing eers gedoen moet word.

Dis wel so dat slegs 15% van die selfverklaarde Republikeine bereid is om te erken dat Trump moontlik verkeerd is.

Debra Roberts, medevoorsitter van een van die IPCC se werkgroepe, se kommentaar op die verslag was: “Hierdie verslag gee beleidmakers en -toepassers die inligting wat hulle nodig het om besluite te neem wat klimaatsverandering aanpak en tegelykertyd die plaaslike konteks en mense se behoeftes in ag neem. Die volgende paar jaar gaan waarskynlik die belangrikste in ons geskiedenis wees.”

Maar dan sal ons wel pynlike opofferings moet maak; opofferings van die soort wat Trump probeer systap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae