Op ʼn plek ver hiervandaan

Deur Annami Simon

Jy is gisteraand hier weg. Vroeër as gewoonlik, nog voordat ek kon nagsê. Dit gebeur al hoe meer, en ek weet nie eens waarnatoe jy gaan nie. Ek hou nie meer tred met die tyd nie, wil ook nie, want dan is die ure en dae sonder jou onhoudbaar. Maar ek wil jou vandag by my hê. Dis Kersfees.

Ek staan op, maak my kant van die bed op gaan, skakel die koffiemasjien aan. Hoe gaan ek deur hierdie dag kom? En gaan al die dae wat vir my voorlê, sonder jou wees?

Dis nog nie eens seweuur nie. Die wind is droef om die huis en ek kyk deur die kombuisvenster hoe twee vragmotors die bergpas uitkruip, kompleet soos twee tamaai krismiswurms.   

Ek skakel die koffiemasjien af, tel die vol beker op en druk die warmte teen my wang voor ek drink. Sielstrelend. Ek onthou ʼn kliphut op ʼn bibberkoue Drakensberg en varsgemaakte Turkse koffie met ʼn Primus-stofie. En die glashelder Tugela-water wat jy met ʼn blikbeker vir my geskep het.

Aan die begin het ek jou toenemende afwesigheid skaars gemerk en as ʼn onbenulligheid afgemaak. Maar vandag wil ek die laaste kersie van die Adventkrans aansteek voordat ek die skaapboud uit die oond haal. En jy is weg. Sonder dat ons die kans gehad het om behoorlik te groet. Sonder dat ek klinkklaar kan onthou wanneer jy laas vir my gesê het jy is lief vir my. Sonder dat ek nog ʼn keer in die diepkant van jou blougroenkyk kon wegsink. Sonder dat ons vir oulaas in mekaar se arms kon lê.

Ek maak myself wys dat jy my vandag gaan verras en netnou voor my sal staan met ’n geskenk in jou hande en geluk in jou oë. As jy vandag huis toe kom, al is dit net vir ʼn rukkie, sal ek Weinachtslieder speel en verspot voor jou dans en jy sal lag en meedoen.

Ek weet so bleddie goed jy is nie hier nie, maar die hunkering om jou teen my hart te druk en te vertel hoe lief ek jou het, is om van te sterf.

Ek sit die leë koffiebeker in die wasbak en gaan terug kamer toe. Talm ʼn oomblik voordat ek instap en jou wakker maak. Help jou al geselsend uit die bed, was jou maer lyf en jou sagte hare onder die warm stort. Daar’s huil in my keel terwyl ek jou help skeer voordat ek jou rolstoel tot onder die wilger stoot en langs jou gaan sit.

“Geseënde Kersfees, my lief,” sê ek terwyl ek jou lank teen my vashou en jou reuk inadem.

Jy staar na my met ʼn vreemde se oë voordat jy jou porsie pille saam met jou oggendkoffie en ontbyt sluk. Jy glimlag effens, asof jy aan iets aangenaams dink.

Maar dan kyk jy verby my, bergwaarts, na ʼn plek ver hiervandaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
FM

Dankie Annami

Heerlik gelees aan hierdie hoër gedagte