Openbare verhore oor aanlyn inkopieplatforms begin

(Foto: Pickawood/Unsplash)

Openbare verhore oor aanlyn inkopieplatforms begin op Dinsdag 2 November en sal duur tot 19 November, volgens ʼn aankondiging van die Mededingingskommissie wat vroeër vanjaar met die aanvoorwerk vir die verhore begin het. Ina Opperman het gaan kyk hoe die verhore gehou gaan word.

Hierdie virtuele verhore sal die ondersoekpaneel in staat stel om direk te praat met die belanghebbendes oor hul insette oor hoe aanlyn platforms werk, kwelpunte wat geopper word en enige regstellende optrede wat belanghebbendes voorstel wat gebruik kan word om hierdie knelpunte op te los.

Waarom openbare verhore?

Openbare verhore sal ʼn regverdige en deursigtige proses daarstel om verbruikers oor die kwessies en debatte in te lig. Die ondersoekpaneel het ook die platforms en gebruikers bedank vir hul verbintenis daartoe om deel te neem deur hul senior bestuurders te stuur om hul insig te deel oor die digitale ekonomie en deel te neem aan debatte oor die kwessies wat kop uitsteek rondom die aanlyn ekonomie.

Die ondersoekpaneel het egter sy spyt uitgespreek in ʼn verklaring omdat ʼn klein groepie globale platforms verkies om nie deel te neem aan die openbare verhore nie, ten spyte van hul teenwoordigheid in die land.

Suid-Afrikaanse verbruikers en ondernemings het hul gewig agter aanlyn kanale ingegooi vir inkopies, kosaflewering, besprekings en navorsing vir groot aankopies, soos motors en wonings, sowel as die aflaai van apps vir bykans enige aspek van die digitale lewe.

Die Mededingingskommissie het besluit om die ondersoek te doen op grond van die groeiende belangrikheid en kommer oor mededinging wat in ander lande kop uitgesteek het. Die ondersoek sal kyk na mededinging en deelname aan die aanlyn ekonomie om te verseker dat verbruikers en ondernemings voordeel trek uit die mededinging tussen aanlyn platforms en dat klein en voorheenbenadeelde ondernemings ook die geleentheid kry om regverdig deel te neem aan die aanlyn ekonomie.

Eerste fase van die aanlyn platformondersoek reeds voltooi

Die ondersoekpaneel het reeds die eerste fase van insameling van inligting voltooi en hierdie insigte is gebruik om die verdere verklaring van kwessies saam te stel wat die markdinamika en praktyke geïdentifiseer het wat moontlik mededinging kan verhinder of lei tot gewilde aanlyn platforms wat ondernemings onregverdig behandel.

Hierdie kwessies is beskikbaar op die ondersoekpaneel se webwerf en sluit in:

  • Die omvattende en toenemende gebruik van geborgde rangordes, soos betalings om hoër op die rangorde te verskyn wanneer verbruikers iets aanlyn soek en die uitwerking daarvan op verbruikerskeuse en hoe maklik of moeilik dit is om klein of voorheenbenadeelde ondernemings op hierdie platforms te vind.
  • Die rede vir en die impak van hoë kommissie en lysfooie wat klein restaurante, motorhandelaars en eiendomsagente moet betaal vergeleke met groter nasionale kettingwinkels op voedselafleweringsplatforms en aanlyn geklassifiseerde advertensies.
  • Hoe nodig dit is vir ondernemings om afslag of promosies aan te bied op die platforms om sigbaar te wees vir verbruikers en die druk van platforms om dit te doen.
  • Hoe regverdig die voorwaardes van die platforms is, insluitende betalingsvoorwaardes, aanspreeklikheid vir verlies en die sluiting van die platform.
  • Die algemene gebrek aan platforminisiatiewe om die transformasie van die aanlyn ekonomie te ondersteun en die toenemende betrokkenheid van plaaslike ondernemings op internasionale platforms.
  • Die rede vir en die impak van pryspariteitklousules wat afgedwing word op ondernemings in e-handel, aflewering en reis- en akkommodasieplatforms.
  • Die uitwerking van die voorste platforms se groot soekenjinbemarking- en verbruikerspromosies op ontluikende platforms en individuele ondernemings om aanlyn sigbaar te wees vir verbruikers.
  • Prominente handelsname of groot kettingwinkels wat nie ontluikende platforms ondersteun nie en verbruikersaanname en platformgroei.

Dit is hoe jy aan die aanlyn ondersoek kan deelneem

Belanghebbendes kan ook op ander maniere deelneem, soos om die ondersoekskakel te volg na ʼn opname vir ondernemings wat aanlyn kanale gebruik om by verbruikers uit te kom.

Die ondersoekpaneel stel veral belang in die ervarings van ondernemings wat die platforms gebruik, insluitende die omvang van platformafhanklikheid, die beperkings wat platforms op ondernemings plaas, hoe regverdig hulle dink die algoritmes is, platformvoorwaardes en kommissiefooie en die uitwerking van enige regverdige behandeling op hul ondernemings.

Dit is belangrik dat ondernemings die opname voltooi sodat hul stemme gehoor kan word. Belanghebbendes kan ook hul geskrewe voorleggings per e-pos na die ondersoekpaneel stuur.

Die openbare verhore word virtueel gehou en verbruikers kan dit volg op die Mededingingskommissie se YouTube-kanaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.