Osteoporose: Die stil siekte in jou skelet

Argieffoto

Tussen 4 en 6 miljoen Suid-Afrikaners ly aan osteoporose. Tog weet min osteoporoselyers dat hulle die siektetoestand het tot dit amper al te laat is. Jy kán egter osteoporose voorkom.

Osteoporose is ʼn siektetoestand wat die digtheid en kwaliteit van die bene in die skelet verlaag. Die gevolg is ʼn verswakte skelet en ʼn verhoogde risiko vir beenbreuke. Dis veral die bene in die rugstring, gewrigte, heupe, pelvis en bo-arms wat maklik breek as gevolg van osteoporose. Sulke osteoporose-komplikasies kan geweldige pyn en, in uiterste gevalle, selfs die dood veroorsaak.

Die grootste uitdaging van osteoporose is dat ʼn lyer gewoonlik nie weet dat sy die siektetoestand het voor dit reeds te laat is nie: die eerste sigbare “simptoom” is gewoonlik ʼn beenbreuk. By bejaarde dames, veral, sien ʼn mens soms ʼn geleidelike afname in lengte as gevolg van die rug wat stadig maar seker krom trek – ʼn gevolg van vertebrale kompressiefrakture. Dis egter die enigste uiterlik sigbare teken van osteoporose… en teen die tyd dat dié simptoom kop uitsteek, is die siekte reeds in ʼn gevorderde stadium.

Die sleutel

Die belangrikste sleutel in die behandeling van osteoporose is die vroegtydige identifisering van ʼn afname in beendigtheid, sê die Nasionale Osteoporosestigting. Beendigtheidsmetings is effektief in die bepaling van die risiko vir frakture, die bevestiging van ʼn diagnose, en die monitor van die effektiwiteit van osteoporose-behandeling.

Hoe groot is jóú risiko?

Indien enige van die volgende op jou van toepassing is, het jy ʼn verhoogde risiko om osteoporose op te doen:

  • Geslag en ouderdom: Vroue bereik hul beendigtheid-hoogtepunt tussen 25 en 30 jaar, en dis gewoonlik 10% tot 25% minder as dié van mans. Na hierdie hoogtepunt neem mans en vroue se beendigtheid geleidelik af; vroue sʼn vinniger tydens menopouse.
  • Oorerflikheid: Genetiese faktore speel ʼn belangrike rol in beendigtheid. Vroue wie se ma’s aan spinale osteoporose gely het, is geneig om laer beendigtheid te hê.
  • Liggaamsbou: Kort, kleingeboude individue met ʼn lae liggaamsgewig se beendigtheid is oor die algemeen laer as groter geboude, swaarder persone. Vetweefsel is ʼn belangrike bron van estrogeenproduksie, en fyngeboude vroue se vlakke van dié beenbeskermende hormoon is dikwels laer.
  • Reproduksiegeskiedenis: Die vroulike geslagshormoon, estrogeen, is ʼn belangrike natuurlike beskerming teen ʼn verlies aan beendigtheid. Premature menopouse (voor 45-jarige ouderdom) verhoog die risiko vir osteoporose, as gevolg van die verlies aan estrogeen wat daarmee gepaard gaan. Swangerskap, met die gepaardgaande verhoogde vlakke van estrogeen, bied weer natuurlike beskerming teen osteoporose, en dit wil voorkom asof vroue wat borsvoed se liggaam ʼn verdere hupstoot teen die siektetoestand kry. By mans kan ʼn afname in testosteroonvlakke aanleiding gee tot ʼn afname in beendigtheid en osteoporoseverwante frakture. Tot 30% mans met osteoporose het lae testosteroonvlakke.
  • Dieet: ʼn Ongesonde dieet met gebrekkige voedingswaarde (nie net kalsium nie) verhoog jou risiko vir osteoporose. ʼn Oormatige inname van fosfor, proteïen en sout kan die onttrekking van kalsium in die urien veroorsaak. Vitamien D-tekorte is besig om internasionaal ʼn groot probleem te raak: terwyl dit maklik en natuurlik behoort te wees vir jou liggaam om vitamien D uit sonlig te vervaardig, kom mense deesdae baie minder in die son as voorheen, en boonop verhinder sonskerm en besoedeling dan behoorlike blootstelling aan sonlig.
  • Gebrekkige oefening: Die meganiese werking van spiere teen been is die enigste fisiologiese manier waarop beenweefsel gevorm kan word. Gebrekkige aktiwiteit kan ʼn dramatiese afname in beendigtheid veroorsaak – soveel soos 20% tot 40% beenmassa kan in ʼn tydperk van twee jaar van onaktiwiteit verlore gaan.
  • Alkohol: Die inname van meer as twee alkoholiese drankies per dag kan tot osteoporose aanleiding gee. In sowat 50% van alle gevalle van alkoholisme is daar ʼn beduidende verlies aan beendigtheid, en boonop het alkohol ʼn direkte toksiese uitwerking op bene.
  • Rook: Vroue wat rook het oor die algemeen laer estrogeenvlakke, ʼn laer liggaamsmassa en vroeër menopouse. Rokers se beendigtheid is in die algemeen 15% tot 25% laer as dié van nie-rokers.
  • Medikasie: Daar is verskeie soorte medikasie wat kan bydra tot osteoporose, insluitend glukokoïdes (kortisoon wat gebruik word vir die behandeling van onder meer asma, ekseem en artritis), epilepsiemedikasie, immuunonderdrukkende middels en tiroïedhormoonvervangende middels.

Let wel: Hierdie is slegs sommige van die faktore wat dui op ʼn risiko vir osteoporose. Gesels gerus met jou geneesheer indien jy onseker is, of besoek die Nasionale Osteoporosestigting se webwerf en voltooi die selftoets-vraelys.

Bette Calman, bekende joga-voorstander

Wonder jy? Vind só uit

Indien jy vermoed dat jy ʼn verhoogde risiko het om osteoporose te ontwikkel, of vermoed dat jy reeds die siekte onder lede het, is die eerste stap om ʼn afspraak te maak by jou geneesheer. Sy sal eerstens na die kliniese risikofaktore kyk, soos jou leefstyl, medikasie, ouderdom, familiegeskiedenis ensovoorts. Die volgende stap is ʼn beendigtheidstoets – verskeie tegnieke hiervoor is beskikbaar, en jou geneesheer sal jou leiding gee oor die beste roete om te volg.

Voorkoming en natuurlike behandeling

Die slegte nuus is dat osteoporose nie geneesbaar is nie. Die goeie nuus is egter dat daar heelwat is wat jy van jongs af kan doen om osteoporose te voorkom of, indien jy reeds daarmee gediagnoseer is, jou liggaam te help in sy stryd teen die siekte. Die kort en die lank hiervan is ʼn gesonde leefstyl wat op drie pilare berus: eet gebalanseerd, kry voldoende oefening, en raak ontslae van slegte gewoontes soos rook en oormatige alkoholgebruik.

  • ʼn Gebalanseerde dieet

ʼn Gebalanseerde dieet wat voldoende kalorieë, minerale en vitamiene, spesifiek kalsium en vitamien D bevat, is noodsaaklik vir gesonde bene.

  • Argieffoto (Foto: couleur, Pixabay)

    Kalsium

Kalsium is een van die belangrikste boustene van jou skelet, en is uiters belangrik in die voorkoming van osteoporose. Voldoende kalsiumvlakke in die bloed is noodsaaklik vir die effektiewe funksionering van jou senuwees en spiere. Jou bloed kry dié kalsium uit jou bene, wat dien as ʼn reservoir vir die kalsium wat die res van jou liggaam nodig het. Met ouderdom verander die hoeveelheid kalsium wat jou liggaam nodig het. Terselfdertyd neem jou liggaam se vermoë om kalsium te absorbeer en te stoor, af met ouderdom. Om dié rede het ouer mense hoër dosisse kalsiumaanvullings nodig as jongmense om osteoporose te voorkom of, indien jy reeds osteoporose het, te bestuur.

In die “ou dae” het Suid-Afrikaners se dieet dikwels ʼn glas melk saam met elke ete ingesluit. In die meeste Westerse samelewings is mense deesdae egter versigtig hiervoor, om verskeie redes: mense hou nie van skoon melk nie, hulle is skrikkerig vir die kalorieë in melk (hoewel laevetmelk effens meer kalsium bevat as volroommelk), of hulle is laktose-intolerant of allergies vir suiwelprodukte. As gevolg hiervan bevat ons normale dieet meestal nie genoeg kalsium vir gesonde bene nie. ʼn Kalsiumaanvulling is dus noodsaaklik.

Goeie bronne van kalsium sluit in suiwelprodukte (soos melk, jogurt, kaas en botter), groen groentes (soos broccoli en spinasie), geblikte vis met sagte, eetbare bene (die kalsium is opgesluit in dié bene) (soos salm, sardiens en pilchards), en neute (veral amandels en Brasiliaanse neute).

  • Argieffoto (Foto: pexels, Pixabay)

    Vitamien D

Vitamien D help jou liggaam met die absorpsie van kalsium uit kalsiumryke voedsel. Dit word in die vel vervaardig wanneer die vel aan ultravioletlig (soos dié in sonlig) blootgestel word, maar dit kan ook uit kos en aanvullings soos olierige vissoorte (byvoorbeeld salm, sardiens en makriel), eiers en lewer verkry word. Minstens 20 minute sonligblootstelling per dag (voor 11:00 en na 14:00) sonder sonskerm en met ontblote arms is voldoende om vitamien D te vervaardig.

ʼn Ouer persoon behoort ʼn vitamien D-inname van minstens 800 IU per dag te hê.

  • Argieffoto

    Oefening

Oefening is noodsaaklik vir gesonde bene ongeag jou ouderdom – dis die enigste fisiologiese manier waarop beenvorming gestimuleer kan word. Dis nooit te laat om te begin met ʼn oefenprogram om jou bene gesond te hou nie, selfs indien jou risiko om die siekte te ontwikkel groot is, of indien jy reeds gediagnoseer is. Oefening versterk jou bene en spiere, en kan dus help om te keer dat jy val en beenfrakture opdoen. Oefening help ook om jou balans, koördinasie en soepelheid te verbeter. Enige weerstandsoefening (waar jy teen die weerstand van jou eie liggaamsgewig, óf weerstand gebied deur oefenapparaat of -gewigte oefen) is goed vir beenvorming. Vinnig stap, trappe klim, draf of dans is dus beter as swem of fietsry, hoewel enige oefening beter is as geen oefening, veral as jy lank nie geoefen het nie. Begin met ʼn stewige 45 minute-stappie drie keer per week. Maak seker dat jy goeie oefenskoene dra wat jou liggaamsgewig ondersteun. Ekstra oefeninge wat jou postuur en maag-, rug- en kernspiere versterk is ook belangrik.

  • Rook en alkohol- en ander middelmisbruik

Tabak en alkohol het ʼn baie negatiewe effek op beenweefsel. Die misbruik van sekere soorte medikasie en dwelms het dieselfde effek. As jy ernstig is oor jou gesondheid en osteoporose ten alle koste wil voorkom, vermy rook, alkohol en die misbruik van ander chemiese middels.

Medikasie en aanvullings

Daar is verskeie tipes behandeling vir osteoporose op die mark. Jou behandelende geneesheer sal saam met jou besluit watter tipe behandeling vir jou die beste is, op grond van jou ouderdom, geslag, hoe gevorderd die osteoporose is en wat jou persoonlike voorkeure vir die inname van medikasie is. Dis belangrik dat jy jou geneesheer se voorgeskrewe behandelingsplan getrou volg.

Die tipe medikasie wat voorgeskryf word vir die behandeling van osteoporose kan in twee klasse verdeel word: middels wat ʼn verlies aan beendigtheid inhibeer (wat dus voorkom dat die been verder “weggevreet”) word, en middels wat nuwe beenvorming stimuleer. Verskeie middels is hiervoor beskikbaar, en jou geneesheer sal jou volledige mediese geskiedenis in gedagte hou wanneer sy vir jou behandeling voorskryf.

Hormoonvervangingsterapie (HVT) word soms gebruik waar osteoporose met menopouse gepaard gaan: die vervangende estrogeen en soms ook progesteroon in hormoonvervangingsterapie werk die verlaging van beendigtheid teen. HVT verlaag die risiko van rug- heup- en gewrigfakture as gevolg van osteoporose met tussen 50 en 70%. Dit het boonop ʼn voordelige effek op bloedcholesterol, verlaag die voorkoms van kolonkanker beduidend en kan die vordering van Alzheimersiekte vertraag.

Ongelukkig het langtermyn-HVT ook talle nadele. Langtermyn-estrogeenterapie (langer as vyf jaar) verhoog die risiko van borskanker. HVT verhoog ook die voorkoms van diepaartrompose en die risiko van kardiovaskulêre siektes. Korttermyn-newe-effekte van HVT sluit in vaginale bloeding, ongemaklike en vergrote borste en waterretensie. Jou behandelende geneesheer sal dus saam met jou ʼn ingeligte besluit neem oor of HVT iets is wat oorweeg behoort te word in jou spesifieke geval.

Mites oor osteoporose

  • Mite: Dis ʼn ouvrousiekte
    Feit: Verlies aan beendigtheid kan by vroue so jonk soos 25 jaar begin, en kan selfs kinders aantas.
  • Mite: Dis ʼn normale deel van veroudering
    Feit: Met die regte voorkomende sorg van jongs af kan osteoporose voorkom word.
  • Mite: Slegs vroue kry dit
    Feit: Dis meer algemeen onder vroue (sowat 1 uit 3), maar nuutste navorsing toon dat sowat 1 uit elke 5 mans ook osteoporose ontwikkel.
  • Mite: Jy kan osteoporose omkeer deur jou kalsiuminname te verhoog wanneer jy daarmee gediagnoseer word
    Feit: Die liggaam se vermoë om kalsium te absorbeer, neem af met ouderdom. Voldoende kalsium moet dus van jongs af ingeneem word, om in die skelet “gestoor” te word vir gebruik later in jou lewe.
  • Mite: ʼn Bejaarde doen dikwels ʼn spontane heupfraktuur op en val dan, terwyl ʼn mens dink dat die persoon die heupfraktuur opdoen tydens die val.

Feit: Dis juis omdat bejaardes makliker val dat hulle so maklik heupfrakture opdoen. Bejaardes breek juis maklik ʼn heup omdat hulle so min spierweefsel op die heup oor het. Hulle val dus direk op die femur, wat dan breek. Indien jy in die afgelope jaar meer as drie keer geval het, is jou kanse groter om ʼn fraktuur op te doen.

Argieffoto

Het jy geweet?

  • Osteoporose is eers in 1994 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as ʼn ernstige siektetoestand geklassifiseer.
  • Meer as ʼn derde van vroue ouer as 50 en byna die helfte van vroue ouer as 70 ly aan osteoporose
  • Sonder gepaste voorkomende terapie sal een uit elke drie wit en Asiatiese post-menopousale vroue ʼn werwelfraktuur opdoen.
  • Tot 20% van die slagoffers van ʼn heupfraktuur sterf binne een jaar; 15 tot 25% moet ná die fraktuur geïnstitusionaliseer word, en minder as die helfte sal weer die volle funksionele gebruik van hul heup verwerf
  • In ontwikkelde lande is spinale osteoporose ses keer meer algemeen in vroue as in mans, en heupfrakture twee tot drie keer meer algemeen. In ontwikkelende lande, Suid-Afrika ingesluit, is mans en vroue se kans om ʼn heupfraktuur op te doen ewe groot.
  • Onlangse vordering in die behandeling van osteoporose het ʼn 50 tot 70%-afname in osteoporose-verwante beenbreuke tot gevolg gehad.
  • Laevetmelk bevat effens meer kalsium as volroommelk.

Hoeveel kalsium het jy nodig?

Sóveel kalsium in jou kaas

Wonder jy of jou dieet genoeg kalsium bevat? Só lyk die kalsiuminhoud van voedsel wat ons gereeld inneem:

 

Argieffoto (Foto: monikabaechler, Pixabay)

Kalsiumaanvulling of nie?

As jy van mening is dat jou inname van kalsium deur jou dieet onvoldoende is, is dit ʼn goeie idee om ʼn kalsiumaanvulling te gebruik. Kalsium kom nie losstaande as ʼn chemiese element voor nie en sal gewoonlik in ʼn aanvulling gekombineer wees met ʼn sout (byvoorbeeld kalsiumkarbonaat). Kalsium moet in klein hoeveelhede deur die loop van die dag geneem word, en saam met etes, aangesien maagsure nodig is om die kalsium en die sout waarmee dit gebind is, van mekaar te skei sodat die kalsium deur die liggaam opgeneem kan word. Moet nooit meer as 500 mg kalsium op ʼn slag neem nie. Kalsiumaanvullings is veilig; die enigste newe-effek wat soms voorkom, is hardlywigheid. Dit kan teengewerk word deur jou vloeistof- en veselinname te verhoog en gereeld te oefen.

Hoewel vitamien D noodsaaklik is vir jou liggaam om kalsium effektief op te neem, moet vitamien D-aanvullings slegs onder streng toesig van ʼn geneesheer geneem word, aangesien oormatige inname van vitamien D nierstene kan veroorsaak. Probeer vitamien D verkieslik in natuurlike vorme, soos hierbo bespreek, inneem.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Oudword is nie vir sissies nie. Shame, wat van die armer ou mensies wat die lewenstyl nie kan bekostig nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.