Oumens liefdeskapperjolle

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

As ou liefde weer vlamvat is daar nogal heelwat te siene en te hore. Dit lyk vir my die ideale plekke om die vlamvattery dop te hou, is tehuise vir bejaardes op klein dorpies. Ek wou sê ouetehuise, maar bejaardes wil dikwels nié oud wees nie – al ís ons inderwaarheid oud. Of staan dan ten minste ou kant toe, want jy voel dit aan jou heupe en knieë en nog ander plekke en goed. Maar glo my, as die liefde weer begin blom, is daar nie sprake van oud nie. Of is daar dalk … ?

Daar is die mooiste stories oor ou bokke wat ou blare soek omdat jong blare net ‘n droom bly. Maar dit wil tóg vir my lyk of dit andersom ook werk. Dis nou wanneer ‘n ou blaar ‘n ou bok soek en ook maar omdat ‘n jong bok net ‘n droom bly. Een ding is seker: Romanse laat hom nie deur oudword beperk nie!

Die spreekwoord sê dat ou liefde nooit roes nie. So gebeur dit toe dat ‘n bejaarde egpaar, ná ‘n leeftyd saam op ‘n plaas, hulle intrek in ‘n veiligheidskompleks neem. Ná ‘n klompie jare het mevrou te sterwe gekom en die wewenaar was verwese alleen. Tot eendag: Hy het ‘n op-en-wakker dame opgemerk en toe hy mooi kyk, sien hy dat dit sy heel eerste jeugliefde was, toe hulle saam op skool was. Die feit dat albei al aan die verkeerde kant van tagtig was, het nie gekeer dat die liefdesvonkies begin spat het nie. Of daar opsitkerse gebrand het, sal ek nie kan sê nie, maar hulle is getroud en het vir ‘n klompie jare mekaar gelukkig gemaak totdat die dood weer eens skeiding gebring het.

Hier in onse dorp loop daar ‘n klompie mooi stories – liefdestories van ou mense wat liefde op hulle oudag weer laat blom, selfs nadat hulle al vergeet het dat liefde kán blom. Ou mense kán dolverlief raak! As ek nou verder vertel, sal ek om verstaanbare redes liefs skuilname gebruik.

In onse tehuis het Kerneels en Annie mekaar raakgesien en begin om mekaar van nader te leer ken. Stadig maar seker het die liefde begin blom. Daar was uiteraard nie vuurwerke nie, maar dit was duidelik dat dit vir hulle baie lekker was om in mekaar se geselskap te verkeer. Daar is nie juis veel gepraat nie, maar net om by mekaar te wees, was genoeg.

Hy gaan kuier toe hier op die dorp by ou vriende, Frans en Hermien, om te vertel van sy nuutgevonde liefde. Hermien, ‘n platjie sonder weerga, met ʼn vonkel in die oog, het haar vraag gevra: “Kerneels, sê jy nou vir my. Wat doen julle as julle nou alleen is en die kans kry?” Sonder om te skroom, was Kerneels se antwoord: “Ag jong, ons hou nou maar handjies vas en gee soentjies, jy weet mos hoe maak mens.” Hermien, wel bekend vir haar humorsin en ondeundheid se reaksie was: “Nee, o wee Kerneels, handjies kan julle hou maar jy sal nog so soen en dan is jy jou tande kwyt. Op jou ouderdom kan jy beheer verloor!” Nouja, hóé soen ‘n mens dan nou hier rondom taggentag jaar oud … wonder ek.

Argieffoto (Foto: coombesy/Pixabay)

Oe, en dan kom die wantroue en vermoedelike ontrou! So kom hy weer een aand by Frans en Hermien, maar dié keer hartroerend beswaard. Dalk was dit die ondenkbare moontlikheid van ‘n ontroue Annie … maar nee, toe wéét hy dis sy buurmanne wat die swerkaters is. Hy wat Kerneels is, is ‘n beginselvaste man. Hy kuier net tot nege-uur en gaan dan terug kamer toe. Maar dís juis waar die lollery begin. Hy vertel hy’s skaars in sy kamer en dan sien hy hoe die buurmanne verby sluip in die rigting van sy kuierplek. Hy besluit toe hy deel nie en o wee, hy breek toe die kys. Kort voor sy skielike afsterwe het hy egter, tot Annie se vreugde, weer by haar begin kuier en alles het weer glad verloop. Hulle was heeldag saam. Annie het sit en brei of ingekleur en Kerneels het tevrede langs haar gesit. Wat nou tussen sononder en nege-uur gebeur het, kan ‘n mens net raai. Seker maar handjies gehou en soentjies gegee. Nou’s hy nie meer daar nie en Annie sit, steeds in haar hartseer en verlies verlore, en brei of kleur in soos toe hy nog daar was.

Geheueverlies kan nogal sorg vir interessante verwikkelinge. So neem ‘n op-en-wakker weduwee onlangs haar intrek hier in Ou Meule. Sy’s ‘n dierbare, opgewekte kuiermens maar, ai tog, van korttermyngeheue, is daar nie ‘n krieseltjie oor nie. Kort op haar hakke het ‘n hubare wewenaar sy intrek geneem, maar, ai tog, van langtermyngeheue is daar nie sprake nie. Daar was egter nie fout met hulle oë nie en dit was liefde met die eerste oogopslag, maar nie sonder ‘n unieke struikelblok nie …

Vir ons wat die spulletjie van ‘n kant af bekyk het, het dit nogal ‘n amusante verwikkeling geraak. Jy sien, dié twee, dis nou Hansie en Grietjie, sit toe met ‘n ouderdomsverwante struikelblok: Sy kan net haar jeug se kapperjolle onthou, terwyl hy totaal van sy jeugkapperjolle vergeet het. Dis nou met hom soos dit met die ou manne op die strand gegaan het: Hulle het op strandstoele gesit, toe jong bokkies met hulle wilgerlatlyfies by hulle verby getrippel het. Nols en Doors het opgebeur, na mekaar gekyk en toe vra Nols: “Doors, wat dink jy?” en toe kom die antwoord: “Jong, Nols, as ek haar maar net so ‘n bietjie nader kon trek … en wat dink jy?” Doors se oë het skrefies getrek. “Ja, ek dink ‘n bietjie. Jong, wat was dit nou weer wat ons so baie gedoen het toe ons jonk was?”

Nou, so is dit met arme ou Hansie. Dis amper soos ‘n hond wat sy stert jaag en as hy hom vang, weet hy nie wat om met die stert (vangs) te doen nie. Dis duidelik dat die twee baie gelukkig in mekaar se geselskap is, en hulle het belangstellendes (nuuskieriges) aan die raai. Hansie het vergeet wat hy moes onthou en Grietjie kan nie vergeet wat sy nog onthou nie. Kan Hansie se verroeste geheue weer blinkgevryf word? En as die liggies weer begin brand, gaan die opsitkers óók aangesteek word? En hoe lank gaan die kers wees … ? Intussen is daar geen twyfel dat die liefde blom nie!

Nouja, party sal dink dis pure oumensverspottigheid maar ander sal tong in die kies glimlag oor twee mense wat gelukkig is. So was dit met Dolf en Sarie. Hier in onse dorp het ‘n wewenaar en ‘n weduwee, albei hier rondom die taggentag, so ‘n straat of wat van mekaar af gebly. Hoe dit presies gebeur het, sal ek nou nie kan sê nie. Na wat ek verneem, het Sarie met Dolf gaan simpatiseer nadat hy sy vrou aan die dood afgestaan het. Net om vir hom te sê dat sy wéét hoe dit voel. Opvolgkuiers het gevolg, en toe ons weer hoor, toe’s daar ‘n troue aan die kom. Die wat weet, vertel van die spoggerige voorafgaande kuier-tee waar g’n woord oor ooievaars gerep is nie. Die weduwee het dit ook pertinent gestel dat hulle nié oor die tou getrap het nie. Na verneem word, het die voornemende bruid tóg ‘n bedenkinkie gehad. Sy was baie opgewonde oor die troue, maar daar was so ‘n effense, of dalk ondeunde: “Ek weet net nie wat gaan gebeur as die lig daai eerste aand afgeskakel word nie.” Haai en ek dag dis net kinders wat vir die donker bang is! Dit was ‘n roerende huweliksbevestiging tydens die oggenddiens. Die dominee het oor die liefde gepreek, maar wat hier teen die einde gebeur het, was ‘n groot verrassing.

Voor in die kerk het die bruidegom sy staan gekry, netjies uitgevat met die regte bypassende kleur das, terwyl die bruid, op haar allermooiste, deur haar seun die paadjie af preekstoel toe gelei is. Daar het hy trots sy liewe ma afgegee om in die huwelik bevestig te word. Dit was ‘n perfekte illustrasie nadat Dominee so mooi oor liefde gepreek het. En nou’s dit soos die Ingelse sê: “They are living happily ever after!”

Argieffoto (Foto: Huskyherz/Pixabay)

Die volgende mooi storie kom hier uit Jan Lange-tehuis. Joey was al vir tien jaar ‘n inwoner toe Ron sy intrek geneem het. Hy was ‘n hubare wewenaar en sy ‘n weduwee met ‘n goeie oog. Sy vertel self. Toe hy die eerste dag by die hek ingestap kom, het sy vir haarself gesê: “Hierdie man gaan ek vang!” En sy hét hom gevang! Maande later, op sy verjaardag, het sy aan sy deur geklop, sy geskenk oorhandig, hom ‘n klapsoen gegee en vinnig verdwyn. In die eetsaal het hy die dames deurgekyk en toe hy haar opmerk, het hy by haar gaan aansit en die liefdesvonke het gespat! Kort voor lank het hulle vir ds. Jasper gevra om hulle te trou – sommer so in die pastorie. Ron het sy enkelbed met ‘n dubbelbed vervang en die kamertjie is nou klein genoeg dat hulle vir altyd naby mekaar kan wees!

Daar’s ook ‘n ander soort van liefdesverhouding wat goed en mooi is. Dis amper soos jeugdige kalwerliefde. Twee mense raak bewus van mekaar, hou van mekaar en is dolgelukkig in mekaar se geselskap. Geen liefdesvonke wat spat nie. Net ‘n diepgewortelde omgee vir mekaar en om dit wat saak maak met mekaar te deel. Sonder pretensie of verwagting, maar tóg soms met permanensie. Bloot net sielsgenote. Net ‘n “Ons is daar vir mekaar.” En die een wat die ander aan die dood afstaan bly hartseer, verslae en bedroef, alleen agter.

Oudagliefde is soos ‘n liefdeskosbaarheid wat om verskeie redes verlore geraak het en weer gevind word. Dis nie vir almal beskore nie. Vir sommiges bly dit, met goeie rede, vir altyd verlore en vir ander breek daar ‘n dag aan dat nuwe en soms ou liefde weer opvlam. Nie die vlamme van jeugliefde wat so maklik ‘n wegholvuur kon word nie, maar ‘n liefdeshardekoolvuurtjie met vlammetjies wat ronddans totdat ‘n mens later met skrefiesoë jou verlustig in die warmte van smeulende liefdeskole.

Eensame bejaardes sien mekaar raak, leer mekaar ken, of ken mekaar dalk al lankal, en voel dan aangetrokke tot mekaar. Hulle begin wonder of hulle nie vir die oorblywende jare vir mekaar bedoel is nie en mettertyd kom hulle agter hulle ís, en dan begin nuwe liefde of betekenisvolle toegeneentheid blom.

Oumensliefde, as dit hulle beskore is, is mooi liefde. Getemperde liefde. Ja, dis kosbare liefde in die aandskemering van die lewe, want hulle weet dat dit helaas, vir oulaas liefde is. Hulle mag maar, want eensaamheid is dikwels ‘n diepe, nare oumenshartseer waarvoor liefde die geneesmiddel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Foto’s van oumense se vryery is vir die binnekamer, eerlikwaar… hoe oulik ookal vir hulself. Laat dit aan die jonges oor. Dit voel of mens inloer in die slaapkamer van twee ruimtewesens… nogal scarry!

Hendri ·

John wat is vir jou so verskriklik aan die meegaande foto? RERIG? Bepaal jou liewer by jou eie lewe en laat die liefde gedy. Waar en wanneer ookal. Op die liefde is daar nie ‘n ouderdomsperk nie. “We must love each other or die”-WH Auden.

Sam ·

Ag nee man, John. Hierdie is nou regtig nie ‘n binnekamer foto nie, maar eerder ‘n inspirasie en pragtige voorbeeld. Mag ons wat ouer word saam ons huweliksmaats, mekaar waardeer en liefhê tot met die gryse wysheid.

syddy ·

Ai ou John!! Regtig? Ek dink dis great as hulle weer liefde vind. Hopelik is jy een wat nog liefde laat blom (en soene uitdeel)??

Sê maar net ·

Wat ‘n pragtige samestelling van hoe die liefde eintlik moet wees. ‘n Voorbeeld vir baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.