Paashaas en die malvalekkereiers

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Paasfees is dalk die heiligste tyd op die Christelike kalender. Kersfees met sy liggies en geskenkpakkieopwinding kry baie aftrek, maar hoewel die geboorte van Christus vir Christene van enorme belang is, is dit die kruisiging en die wederopstanding van Jesus wat die kern en oorsprong van die Christelike geloof ten nouste vervat.

Hierdie Paasfees was in vele opsigte ʼn hartseer een vir Christene wêreldwyd. Die aanslae op Christenkerke in Sri-Lanka was ʼn gewelddadige vergryp van onbegryplik bose omvang, ʼn dolk van haat wat diep in die Christendom se hart gesteek is.

Die gevolglike afskeepwerk van die nuusmedia, wat intussen van hierdie aanslag aangeskuif het na ander sake, in skrille kontras met die sensasiefees wat die onlangse Christchurch aanslag op moskees in die stad vir weke lank ontketen het, is vir vele Christene ook ʼn teer puntjie wat, tesame met die algemene neiging om met smaad, humor, ydellike gebruik van Christenheilige name en smalende karikature in die hoofstroom met Christenskap om te gaan, terwyl daar gevrees word om ander gelowe met dieselfde minagting te bejeën, die indruk by vele Christene skep dat daar ʼn subversiewe agenda teen die geloof is.

Nietemin, ek het eintlik vanoggend voor die rekenaar kom sit om in ligter luim te verkeer. In my vroeë volwassenheid moes ek raap en skraap op elke denkbare manier om ʼn ou geldjie te verdien. Komende uit ʼn klein huisgesin met beperkte hulpbronne en geen voorbeeld van akademiese en/of ekonomiese uitnemendheid nie, was geen werk te klein of onwaardig vir my nie.

En so kry ek toe tydens die Paasvakansie werk in die Randburg-winkelsentrum as ʼn paashaas. Dit was ʼn relatief maklike werkie. Trek ʼn wit paashaaskostuum aan, met ʼn enorme paashaaskop wat om ʼn konstruksiehelm gemonteer is aan en voilà! Ek is ʼn paashaas!

Vervolgens is ek ʼn enorme mandjie vol van daardie malvalekkerpaaseiers in die hand gestop en my werk was dan om deur die sentrum te loop, danspassies (almal wat my ken en my liefhet hou vol dat ek liewer nie moet dans nie) uit te voer, vriendelik met kinders en grootmense om te gaan en aan die kinders wat dit deur hulle ouers toegelaat word, ʼn malvalekerpaaseier in die hand te stop. Wat ʼn heerlike werk, die gratis uitdeel van so ʼn gesogte kommoditeit!

Die grootste uitdaging was om kinders wat, soos kinders dikwels doen, met afgryse en vrees gevul word deur ʼn monster met ʼn kop so groot soos ʼn varkbeer en ore langer as ʼn donkie s’n, te paai en uiteindelik oor te haal tot ʼn blymoedige ontvangs van my lekkernye.

ʼn Mens leer later hoe om dit te doen – fokus op die ouer kinders, sodat die kleintjies kan sien als is reg. Skep sodoende ook die kombinasie van verontregting dat kleinboetie oorgeslaan word, asook die lus waarmee ouboet aan sy eier smul, en jy het ʼn resep vir ʼn nuutgevonde dapperheid wat dan tog versigtig ʼn eier by paashaas Chris sal neem.

Soms moes ek darem die ouers en kinders ook die versekering gee dat ek nie gif uitdeel nie, en watter beter manier kan daar nou wees as om self ook aan die eiers te smul? Die kopstuk was op só ʼn manier ingerig dat ek deur die bek van die haas die wêreld bekyk het, wat beteken dat as ek ʼn eier in my mond stop, ek my haashand diep verby my ‘keelgat’ moet stoot om by die ware strot uit te kom. Vir my was dit nie steel nie, ek moes dit doen ter wille van die goeie deugde van motivering vir kinders en gerusstelling van ouers.

En soos dit maar gaan met ʼn een-vir-jou-een-vir-my verdeling vanuit ʼn sentrale punt, sal dertien kindertjies elk een eier kry en ek, die deler, dertien eiers.

Helaas, ʼn ontbyt van mavalekkerpaaseiers is nie buitengewoon gesond nie, soos ek op dag twee van my dienste gedurende die vyfdagwerkie agtergekom het.

Dit was êrens voor ʼn groepie van sowat vyf kleuters tussen die gebraaidevetgeure van die hoender kitskosketting en die vroegoggend spoelklankie van die manstoilette dat ek die opwelling gevoel het. Vir die reeds tien of elf ontbyt malvalekkerpaaseiers was daar skielik nie genoeg plek in my maag nie en van hulle moes bevry word, soos hoenders wat heel winter op hok was en vandag veld toe kan skarrel. Ek het omgeswaai en dadelik na die sentrumkantoor gehardloop. Winkelgangers wat intussen gehoor het dat daar ʼn haas is wat gratis eiers uitdeel het my voorgekeer, hande bak vir die lekkernye in my mandjie. Met die vernuf van ʼn Springbokvleuel het ek tussen hulle deur gedartel… dalk maak ek dit nog! Maar dit was die fris greep van ʼn ouma wat weet van brood knie wat om haar kleinkind se ontwil my paashaasvoorpoot vasgevat het en nie wou los nie: “Hei, haas, gee vir my kleinkind van daai eier van jou, toe man moenie so suinig wees nie!”

En gee het ek gegee… ʼn Ongesellige geelwitbruin mengelmoes het by my strot uitgeskiet en my paashaaskop van binne gevul. Die kleintjie was vlug van begrip en het dadelik gesnap hier is iets nie pluis nie en summier begin grens. Die aansteeklikheid van so ʼn kleuterweeklaag het sy werk gedoen en die klank van ʼn menigte skreeuende kleuter het in die beton en glasbuik van die sentrum weergalm. Verontwaardigde ouers het my boos aangekyk, asof ek die kinders dalk geknyp het. In die gedrang het die ouma genadiglik haar ystergreep ontspan en paashaas Chris het losgeruk en soos vlakhaas Chris hom kantoor toe gehaas.

Binnegekom het ek die kopstuk dadelik afgehaal. Nog ʼn kreet, hierdie keer van die ontvangsdame wat moes dink my gesig het êrens langs ʼn pizzaoond gesmelt.

Ek moes maar skoonvee met watter snesie en toiletpapier ek ook al in die hande kon kry en weer teruggaan na my pos, asof niks gebeur het nie, want dit is die goue reël van die vermaaklikheidsbedryf.

En ja, dit was maar Dinsdag, maar ek moes tot Goeie Vrydag toe nog elke dag daardie haaskop oor my ore trek!

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.