Redakteursbrief: Anker jou kinders

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Maroela Media)

As ’n mens die afgelope week se nuusopskrifte lees, sou jy maklik kon dink dis ’n Aprilgek-grap.

’n Ma en twee blonde kindertjies verdwyn iewers by die see in Heroldsbaai.
Mmusi Maimane bedank as leier van die DA, en Helen Zille is terug by dié party.
Die nuwe kurrikulum vir geslagsonderrig op laerskool herinner aan iets uit ’n pornografiese tydskrif.
Die Wetsontwerp oor onteiening sonder vergoeding stoom onkeerbaar voort.
ʼn Kunsuitstalling by ʼn skool in Richardsbaai het die land aan die gons.
ʼn Verkragtingslagoffer word gedreig met die dood as sy iemand van die verkragting sou vertel.

Saans as ek tuis kom, voel dit soms vir my of ek van die voetenent van ons bed af onder die duvet wil inkruip tot niks van my uitsteek nie, en dan wil ek net so bly lê. Maar as ma moet ek, iewers tussen die oomblik wanneer ek my kantoordeur agter my toetrek en wanneer ek die voordeur oopstoot, van ratte verwissel. My kommer verskuif van dit wat in die land aan die gebeur is en hoe Maroela getrou en gebalanseerd daaroor moet berig, na Boetie se gebarste toon wat nie gesond wil word nie en Ousus se musiekeksamen wat voorlê.

Soms kry ek dit reg; soms nie. As ons oudste, wanneer ek instap by die kombuis, my een kyk gee en die ketel aanskakel terwyl sy vra, “Kan ek vir Mamma ʼn koppie rooibostee maak?” dan weet ek my skanse is vandag nie in plek nie.

Dié uitdaging van ouer-wees is waarskynlik nie onbekend aan jou nie. As die droogte knel, as die finansies druk, as die huwelik swaar trek, as regstellende aksie aan jou kantoordeur klop, as jy nie teikens haal nie, as die kommer oor die toenemende misdaad in julle buurt jou opvreet, as die NGV jou laat wakker lê, is dit bitter moeilik om dit wat in jou hart aangaan, vir jou kinders weg te steek. En dis ook nie noodwendig nodig om alles vir hulle weg te steek nie.

ʼn Tyd gelede kuier ek en ons kinders by Finfoot Lake Reserve naby die Vaalkop-dam vir ʼn paar dae. Ek is daar vir die verfilming van Dapper Media se hengel- en -jagreeks Byt & Buskruit, en omdat dit skoolvakansie is, kon ek die kinders saamneem. Ons voel ver weg van die res van die wêreld. Diep in die Bosveld speel-speel ons die koel grasdak-villa is ons eintlike huis. Ons verbeel ons die koedoes wat voor die stoep tussen die tuinmeubels kom wei, is deel van ons alledaagse uitsig. Ons speel-speel ʼn kamma-bestaan waar my foon nie heeltyd opvang nie en ons ʼn bietjie kan vergeet van die nuus; waar dit veilig is vir ons seunskind om alleen van die dam af koers te kies deur die veld huis toe, gewapen met net sy knipmes; waar ons meisiekind ʼn groot deel van die dag met haar storieboek langs die swembad kan lê sonder dat sy agter ʼn elektriese heining hoef te skuil of binne sig van ʼn volwassene hoef te wees. Laatmiddag, terwyl die son sak, sit ons saam met ander gaste van reg oor die wêreld om ʼn reuse kampvuur en luister na mekaar se stories en kyk vir die vonkies wat in die donker wegskiet. Snags, met jakkalse wat ver weg tjank, kruip ons snoesig onder donsige wit beddegoed in met ons storieboeke en lees tot ons van pure ontspanning aan die slaap raak, met die reuk van veld en grasdak in ons neuse.

Maar uiteindelik moet ons terug na die werklikheid. Met die uitdraai by Finfoot Lake Reserve se hek op die hoofpad ruk ʼn slaggat ons letterlik terug na die werklikheid. Ek skakel my foon aan, en dit wip omtrent rond soos die boodskappe instroom. Nuuskennisgewings, buurtwag-boodskappe, waarskuwings oor betogings en stakings wat in die regte wêreld gebeur het terwyl ons vir ʼn paar dae weggekruip het.

Ek voel lus om om te draai, my kinders te vat en saam met hulle van die voetenent van die bed af onder daardie donsige wit duvet te gaan inkruip waar die wêreld ons nie kan kry nie.

Maar die regte lewe werk nie so nie. In die regte lewe is dit my werk, en my man sʼn, en joune, om ons kinders te anker, nie weg te steek nie. Daar is geen manier hoe ons ons kinders kan weghou van die nuusopskrifte, die stories wat by die skool versprei word en die gruwelboodskappe op sosiale media nie. Maar wat ons kán doen, is om seker te maak dat hulle so stewig geanker is dat hierdie slaggate hulle nie van die pad af ruk nie.

Hoe doen ons dit?

Elke huis het sy eie maniere. Die belangrike ding is dat jy, in jou huis, ʼn besluit neem oor wat julle gaan doen om jul kinders te anker. Ons doen ʼn paar dinge – miskien kan dit vir jou werk:

  • Ons gesin hou elke aand saam huisgodsdiens. Dis ononderhandelbaar. Ons praat oor slegte dinge wat deur die dag gebeur het (ook in die nuus), bespreek dit vanuit ʼn geestelike perspektief, en bid vir mense. Daar is geen anker soos God om ons kinders stewig te hou nie.
  • Ons eet as ʼn gesin aandete om die tafel. Dis ons geselstyd, ons kyk-mekaar-in-die-oë-tyd, ons wapenstilstand-tyd. Geen fone word aan tafel toegelaat nie. Dis die tyd wat ons kinders weet hulle kan maar hulle storietjies vertel en hulle bekommernisse deel. Die boodskap wat hulle kry, is “Ek is oukei hier; dis veilig.”
  • Ons praat eerste met ons kinders oor dinge, voor hulle dit by iemand anders hoor (en dit dalk verkeerd hoor), en help dan perspektief gee. “Ja, wat jou meneer vertel het oor die pa wat sy hele gesin uitgewis het, is waar. Hoe verskriklik sleg moes dit nie met daardie pappa gegaan het om so iets te doen nie? Is daar dalk mense wat ons ken met wie dit so sleg gaan, en wat kan ons doen om te help?” Of: “Ja, daar is kinders wat hulle self sny. Die merke op jou vriendin se arms en in haar dye is waarskynlik presies dit. Dis verkeerd, ja, maar wat dink jy is fout by haar huis? Moet ons haar dalk nooi om te kom kuier?” Of: “Sjoe, ek kan dink die prentjies oor geslagsopvoeding in jou nuwe lewensoriëntering-handboek maak julle ongemaklik in die klas. Kom ons kyk gou daarna. Stem ons saam hiermee? Wat gaan jy maak as een van die dogtertjies in die klas met jou ʼn gesprek hieroor aanknoop?”

ʼn Gesonde gemeenskap is afhanklik van gesonde mense, en gesonde mense – gesonde kinders – word gevorm in gesonde huisgesinne. Kom ons begin vandag om ons kinders te anker, nie te midde van die storms nie, maar ter wille van die storms.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephan de S

Dankie vir vroue en ma ‘s wat duisende klein , baie keer onopsigtelike dinge en dingetjies doen om ons kinders en gemeenskappe gesond en bymekaar te hou. Moet nooit geloof verloor in jul skynbaar onbelangrike maar tog deurslaggewende aandeel in ons lewens. Julle is soos n verbeterde model op die man wat uitgebring is.

Jerry

Dit is nou n mooi storie wat waarde toevoeg. Om nie weg te skram van die negatiewe realiteite en die ellende van die minderbevoorregtes in ons land en in ons gemeenskappe en om ons kinders en mekaar daarvoor te anker, omrede om te verhoed beter is as genesing, dit is positief. Dit gooi die appelkar om van diegene wie positiwiteit probeer voorhou deur weg te skram van die negatiewe!

madels

Baie dankie Susan, dis so waar wat jy hier skryf. Dis nog ons wat ons kinders reg probeer grootmaak, nog die Bybel elke aand vir ons kinders lees en dit bespreek, wat baie keer die wind van voor kry. Mag die Here julle gesin grootliks seen en baie dankie vir wat jy en ander hier vir ons bied op Maroela Media. Ons waardeer julle

Myna

Dankie dis ‘n pragtige artikel. So waar. Ons almal in dieselfde situasie en ons anker is God.

humor

Wat n vrkwikkende redakteursbrief wat in die tyd van hoop en oorwinning skryf. Ja die lewe het in kotrte tyd baie negatief verander. My kinderjare baie beskermend. Met christelike waardes het opgegroei op n Namibplaas waar ruimtes geen einde gehad het nie nie. My hele skoolloopbaan was in koshuise gewees. Hier was ons beskerm deur onderwysers met n christelike waardesisteem wat bepalend was en n versekering vir ons toekoms gebied het. Ek wonder of gemiddeld een moord per jaar op die voorblaaie van koerante was. Dankie Susan jou skrywe laat ons beleef ons staan in geloof sy aan sy in… Lees meer »