Redakteursbrief: Hoekom laat ons nog kommentaar toe?

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Tydens ʼn gesprek by Aardklop se Rede-kabel-gespreksreeks hierdie week het die kwessie van die euwels en deugde van sosiale media en fopnuus Donderdag onder die loep gekom.

Beeld berig vandag (Vrydag, 5 Oktober) dat prof Johannes Froneman van die Noordwes-Universiteit in reaksie uit die gehoor reageer het, waartydens hy ʼn uitdaging aan Netwerk24 gerig het om hul kommentaarplatform te sluit.

Maroela Media was nie self by dié gesprek betrokke nie. Dit, ten spyte daarvan dat ons byna 300 000 volgelinge op Facebook het (die meeste van alle Afrikaanse nuusinstansies naas Huisgenoot en Son), en die feit dat ons interaksie (“engagement”) op Facebook loshande die hoogste is van alle Afrikaanse nuusinstansies (die afgelope week het Maroela se Facebook-volgelinge 56 700 keer op ons Facebook-profiel reageer, met Die Burger ver agter in die tweede plek met 15 800 reaksies). Ek reken hierdie syfers wys dat ons lesers met ons práát, en dat ons na hulle luister. En daarom reken ek ook Maroela Media sou ʼn waardevolle bydrae tot so ʼn gesprek kon lewer. In Beeld se berig oor die gespreksgeleentheid verwys Carla Lewis, hoof van sosiale media by Beeld, na ʼn “eggokamer” wat ontstaan as mense net nuus lees en volg wat hul eie agenda bevestig. Ek vermoed dieselfde tipe eggokamer ontstaan as ʼn mens net met jouself en jou eie mense praat by ʼn geleentheid soos hierdie. Maar dit daar gelaat, ter wille van goeie buurmanskap.

Ek wil eintlik reageer op prof Froneman se uitdaging aan Netwerk24, en die gesprek wat hier in Maroela-geledere daarop gevolg het.

Hoekom laat Maroela nog kommentaar toe?

Dis ʼn vraag wat ons dikwels vir ons self vra (veral die arme joernalis wie se werk dit is om voltyds kommentaar te sit en modereer, siestog).

Kom ons kyk eers na die syfers: In Augustus vanjaar is daar 21 730 keer op Maroela Media se webwerf kommentaar gelewer (ʼn rekordgetal kommentare). Dit sluit nie die kommentare wat outomaties geblok word deur ons outomatiese modereringstelsel as gevolg van kru en onaanvaarbare taalgebruik nie. Van hierdie kommentare is net meer as 15 000 goedgekeur (70%), en sowat 6 500 (of 30%) afgekeur. As ʼn mens na hierdie syfers op ʼn grafiek kyk, is die prentjie onrusbarend. ʼn Mens kan duidelik sien hoe die aantal kommentare meer word, maar ook hoe die aantal onaanvaarbare kommentaar wat uitgevee moet word, óók meer word. Soms raak die geveg wild onder lesers, en veral vir personeel wat naweke aan diens is om die kommentaar-baba op te pas, kan dit ʼn uitmergelende taak raak. Lewis is in die kol as sy sê kommentaar laat ʼn mens voel asof jy “deur die vuilste van mense se psige geswem het en net wil gaan stort”.

Kommentaar op Maroela Media (September 2016 – Augustus 2018)

Waarom sluit ons dan nie ons kommentaar-afdeling nie? Hoekom vir ons self soveel hoofbrekens besorg?

  • Want dis ʼn manier hoe ons in voeling bly met hoe ons lesers voel. Maroela is ʼn gemeenskapsplatform. Dit is ʼn gemeenskap, en vir baie mense die enigste plek waar hulle nog tuis voel, en gemaklik is om in hul moedertaal saam te gesels. Hulle stilmaak? Aikôna. As dit wild gaan in die kommentaar-afdeling, is dit omdat dit wild gaan in die land, en wild gaan in mense se gemoedere en harte. Deur dit stil te maak, neem ons nie die probleem weg nie. Die chaos in die kommentaarafdeling is ʼn weerspieëling van die chaos in ons land.
  • Die kommentaarafdeling is op ʼn digitale blad deel van die storie, of ons daarvan hou of nie. Dikwels ontvou ʼn deel van die storie eers in die kommentaar: Die slagoffer van ʼn misdaadvoorval kom lewer self kommentaar; die ma van ʼn oorledene kom deel haar pyn; iemand wat iets soortgelyks oorgekom het, kom vertel haar storie en dra nuwe nuanse tot die verhaal by. Dikwels word ʼn opmerking in die kommentaar vir ons ʼn wenk vir ʼn opvolgstorie. Met koerante is hierdie onmiddellike ontvou van ʼn storie natuurlik onmoontlik, as gevolg van die tydsgaping tussen die publiseer van die koerant, en die ontvang en publiseer van lesersbriewe in reaksie op beriggewing.
  • ʼn Kommentaarafdeling skep lojale lesers wat gereeld terugkom, omdat hulle kan saamgesels. “Soms begin ʼn mens die artikel lees by die kommentaar om gouer die gevoel van ʼn gebeurtenis te kry,” skryf Reint Dykema.
  • “Die kommentaar bied ʼn geleentheid vir interaksie. Dis die enigste plek waar lesers direk met mekaar te doene kry,” sê een van Maroela se personeellede vir my. “Daarsonder is daar nie ʼn samehorigheid onder lesers nie. Dis ook ʼn teken van aktiwiteit op die webwerf. Ons lesers besef nie hulle is een van 1.2 miljoen mense op die webwerf nie, maar die kommentaar wys vir lesers ‘ek is nie die enigste een wat só voel nie’.”
  • “Ons lesers is verskriklik kwaad en negatief,” sê ʼn ander kollega, wat verantwoordelik is vir die moderering van kommentaar (en wie se naam ek weerhou uit vrees vir haar veiligheid oor almal wat omgekrap is omdat hulle kommentaar uitgevee word!) “Maar die kommentaar help hulle sin maak uit wat in die nuus aan die gang is, en dit hou ons in voeling met hulle.”
  • “Die demokratisering van die media deur middel van sosiale media het die feodale monopolie op menings van die kommentariaat gestop,” skryf Flip Buys in reaksie op Beeld se berig. “ʼn Voorbeeld is toe demokrasie die heerskappy van konings beëindig het, en hulle nie net meer van bo af ondertoe kon opdragte gee nie. Demokrasie is wel morsig, maar nodig. Churchill het gesê die beste argument teen demokrasie is ʼn vyfminutegesprek met die gemiddelde kieser!”

Oor die negatiewe aspekte van kommentaar op ʼn nuuswebwerf soos Maroela Media en Netwerk24 is gewis baie te sê. Maar dit beteken nie daar is niks positiefs te sê nie. By Maroela Media fokus ons op die positiewe, en bestuur die onvermydelike negatiewe wat daarmee saam kom.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

ZAR ·

Ek is jammer moderator dat jy deur al my goed moet lees op ‘n naweek en deur die week. Maar dankie dat jy dit doen.
Dit gee ons ook ‘n kans om ons menings te lug en te sien hoe ander voel oor dieselfde saak. Partymaal is ons negatief en partymaal is ons positief, maar ons is almal getroue MM lesers. Dankie moderator vir jou oor, en breë skouers.

Blouwilleblom ·

Ek waardeer dit regtig dat julle die publiek nog die geleentheid bied om ‘n opinie te hê. Dis wel onstellend as die kommentaar persoonlike aanvalle op ander is, maar dis tog belangrik om te sien wat mense se gevoelens is en hoe dit van jou eie verskil, en dalk ook sieninge kan verander as daar gesonde debat is. Ek hoop julle hou dit oop.

Mandjie ·

Ek verstaan 100% dat vuiltaal, vloekwoorde en beledigings geblok moet word, maar dit voel soms asof ons stem ook geblok word as dit ‘te wit’ of ‘te regs’ is. Daarmee praat ek geen blatante rassisme en die gebruik van verbode woorde goed nie. Dit is asof meeste publikasies wat nog kommentaar toelaat, meer na links neig. Aanvalle op selfs Afriforum, blankes, solidariteit word toegelaat op die kommentaar kolomme om die liberale ‘n kans te gee om te ‘vent’. Dit terwyl meeste ‘regse’ kommentaar wat op dieselfde trant geskryf is summier geblok word. JA ek dink dit is ‘n reuse taak vir ‘n joernalis om dit te sif, maar as ‘n Afrikaanse aanlyn koerant wat die belange van die wit Afrikaner op die hart moet dra, is hier nog te veel linkses wat hier die Afrikaner aftakel. Hulle kan dit nou nie meer op ander kommentaarkolomme doen nie, nou sluip hulle een vir een hierheen al HAAT HULLE AFRIKAANS, hulle lewer selfs in Engels kommentaar net om die Afrikaner verder te agiteer .. Dit voel soms asof alle mediahuise so bang is om liberale te ‘offend’ dat hulle liewer hulle skrywes toelaat as die van werklike Afrikaners wat probeer veg vir hulle voortbestaan.

Gerhard ·

Jy is verseker nie die enigste een wat al gevoel het jou kommentaar word vir geen goeie rede nie geplaas nie terwyl linkse kommentators lyk of hulle spesiale behandeling kry. Dit daar gelaat, die kommentaar kan seker ook maar deur elektroniese vingers val van tyd tot tyd.

anton ·

Stem nogal saam wat jy sê Mandjie.
Ek voel dieselfde!!!
Sal ook daarvan hou as MM die ”Hou van” opsie of n op en af duimpie opsie by die kommentaar kan plaas.
Dink dit sal hul meer n idee ook gee waarvan lesers hou en hoe ons mense dink en voel.
Hoop hulle oorweeg dit sterk en indien nie, hulle ons kan inlig waarom nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Anton en Grassie

Dankie vir julle voorstel vir die “hou van”-opsie op die kommentaar. Die goeie nuus is dat Maroela Media reeds besig is om ‘n stelsel te ontwikkel wat dit sal moontlik maak. Bly dus gerus ingeskakel!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Hannelie ·

BAIE dankie Maroela Media dat ons nog kommentaar kan lewer. Want dit is tog hoe ons werklik voel, dit is soos ‘n uitlaatklep. As jy iemand se seer sien, dan dink jy aan jou eie en besef jy is nie alleen. Wanneer mense so links en regs vermoor word, dan BID ons saam. Wanneer iemand gelukkig is, of opgespoor word, is ons saam bly en BID ons saam om dankie te sê.

Afrikaanse Knaap ·

Ek het al baie kommentaar gelewer wa gesensor word. Dit gee my gemoedsrus dat ek nie tronk toe sal gaan vir my stellings nie. Dankie vir julle verantwoordelikheidsin.

AttieNo1 ·

Wat jy ook kan noem is dat kommentare soms as gevolg van volumes en “na ure” wanneer minder moderators beskikbaar is nie verskyn nie. Ek het al opgemerk dat party mense dit outomaties persoonlik vat, en ja van my kommentare oor n naweek of vanaf my selfoon het dit partykeer nie gemaak nie, dit gebeur maar.

pinkie ·

Dankie Susan en Maroela Media vir die geleentheid om kommentaar te kan lewer. Hoekom moet ons altyd stilgemaak word? Dit gee die leser uiting aan hulle emosies – soms die sessie wat mens met jou duur sielkundige sou gehad het. Lekker om soms te sien ander burgers voel dieselfde as ek. Soms net te sien ander mense is ook in hierdie bootjie met die gaatjie in waaruit ons nie net kan klim nie.

GM ·

Dankie MM. Dis een van die redes hoekom baie van ons elke dag jul blad besoek, in plaas daarvan om die nuus elders te lees.
Julle help ook om dié mamma van twee klein woelwaters, ‘sane’ te hou tussendeur al die rondhardloop, want dit voel of ek bietjie ‘ tussen grootmense uithang’ as ek bietjie wegbreek vir my MM-tydjies.

Johan ·

Dankie vir die agtergrond inligting en die feit dat MM kommentaar toelaat. Ek is regtig net nie so oortuig die outomatiese blokkeringstelsel altyd so goed werk nie. Party van my kommentare word dadelik geblok terwyl ek darem my kop partykeer skud oor waarom ander dan wel geplaas word (vergeleke teenoor myne). Maar ja, enige “outomatiese stelsel” het sekerlik maar sy foute en ek glo MM poog gedurig om dit te verbeter.

Kom ons kyk of die geplaas word? :) :)

In geheel gesien – ‘n lekker platform.

Ryan ·

Puik Puik Puik, Ek is bly ek het Maroelamedia ontdek – julle doen uitstekende werk.

John ·

Die’ dat dominees spreukbeurte kry sonder kommentaar. Die grootste bek wen in hierdie geval en veral die broeder wat die glo fopversies in die Bybel mooier as mooi belig vir die kinderkranskinders wat vra: Dominee hoe werk die spulletjie… My Pa wil nie se nie.

Casper Labuschagne ·

En daardie geel streep bokant die groen, dit is waar my kommentare heen is. Ek wonder soms oor watter moontlike rede daar kan wees dat ‘n kommentaar wat ek gemaak het nie verskyn nie, en dikwels is het dit absoluut niks te make met die reëls nie, maar met heel ander faktore. As voorbeeld, elke enkele kommentaar waar ek gesê het dat daar ‘n verband is tussen plaasaanvalle en terrorisme is nie geplaas nie, ten minste nie totdat Ernst Roets se boek Kill the Farmer verskyn het waar hy dieselfde aanname maak. Toevallig?

Maar vir daardie rede het ek nou my eie blog waar ek ook nou my eie sensor is. Tog dankbaar dat Maroela wel hierdie kommentaar funksie het, al ondervind ek eerstehands dat hulle die diskoers dikwels in ‘n spesifieke rigting stuur.

tamboti ·

Ek stem saam met Mandjie, Johan en Casper hierbo.
My gevoel is: ons moet saam praat, saam planne maak, en dan saam AKSIES neem!
Ons sit met radikale probleme, ons gaan dit nie oplos deur askies, jammer en innige meegevoel oor te dra nie.
Maroela danklie vir die nuus, dis jul werk. Ons lees dit maar dit is seker meer as 90% slegte nuus en ons wil en moet daarop reageer. Dit is jammer as kommentaar sneuwel a.g.v. ‘n enkele woord, of die persepsie wat van jou kommentaar gevorm word.
Bly gebalanseerd asseblief, andersins Susan, ek het respek en waardering dat jy oor die moeilike saak skryf.

Nel ·

Na bogenoemde kommentare weet ek eintlik nie wat om (meer) te se nie behalwe dat MM en sy beleid van poitieke korrektheid ons kniehalter. My eerlike opinie is julle is in die meeste gevalle te bang om te hoor wat ouer mense uit ‘n vroeëre bedeling te se het.
Ons kan nie ons geskiedenis ignoreer nie. Kry dit in julle koppe. Alles is nie so sleg soos wat diegene wat deesdae die kitaar slaan wil voorgee nie. PUNT.

Eish ·

Née wat Nel, die geheim is woordgimnastiek. Ek is al in n ander bloedgroep in gesensor, maar dit het my n nuwe faset van die die soetste taal geleer, herbewoording. Soetklinkende woorde wat presies dieselfde sê as emosiebelaaide kommentaar met n verskuilde angel. Beskaafd en bedees maar reguit.

Essa ·

Dankie, dit is interessant om meer te weet van die binne-werking van Maroela se kommentaar fasiliteit.
Moet dit asseblief nie laat vaar nie – al voel ek soms soos ‘n “andersdenkende” en is ook al kort en kragtig aangevat en plat gevee, bly dit ‘n voorreg om op ‘n forum soos hierdie ‘n mening te kan lug. Dit is ook ‘n lekkerte as iemand wel jou siening deel!
Dit is eintlik ‘n skade (en skande) dat MM nie aan die gesprek deel gehad het nie, aangesien MM juis die leiers op hierdie gebied is.

tamboti ·

Vergeet maar van die res wat ek wou se, maar ek stem saam met Mandjie, Johan, Casper en Polaris. Baie dankie.

Namens die Vrydenker Varkerasie Genootskap van SA ·

AAN Maroela Media en NETWER24: Daar is net twee voorwaardes vir publikasie van kommentare: Naasteliefde en die Suid-Afrikaanse Grondwet.
Kommentare is die hartklop vir deursigtige beriggewing en skoon landsregering.
Ook die buiteland neem deeglik kennis van die terugvoer deur kommentatore.
En ek is dolmal oor opbouende kreatiewe denke, voorstelle en opbouende skoon spitsvondigheid en humor in die kommentare. Viva Maroela en viva Netwerk24.

Grassie ·

Dit is ‘n voorreg om ‘n nuusblad te lees waar jy kan kommentaar lewer as jy voel dat jy ook iets kan bydra. Ek begryp dat kommentare nagegaan moet word om te verseker dat dit aan julle vereistes voldoen. Ek gebruik MM al baie jare lank en hoop om dit nog vir baie langer te doen. Daar was die afgelope tyd egter ‘n merkbare verandering te bespeur in die moderasie-proses van kommentare. My kommentare word afgekeur teen ‘n tempo wat my kopsku maak om verder deel te neem. Ek aanvaar dat ek ‘n bietjie meer konserwatief is as die deursnee leser maar moet ‘n mens daaroor afgeskiet word? Ek kry ook die indruk dat my bydrae soms moontlik verskil van die mening van die keurder en dat dit die rede is. Maar ek bly ‘n MM-leser en sal voortgaan om my sê te probeer sê.
Net ‘n voorstel van my kant af – kan julle groot asseblief ‘n “hou van” of ‘n op of af duimpie fasiliteit by byfraes en kommentare plaas? Dit sal vir ‘n bydraer ‘n aanduiding gee oor wat ander lesers van sy mening dink.

Nou ja Toe. ·

My diep gesetelde renons lê in die voorkeur van plasings bedryf deur die ‘oooohh en aaaaaahhh’-tannies na een of ander treurspel.
Tot sinvolle debat….word geen bydrae gemaak nie.
Inteendeel. Klink meer soos die sterfgevalle seksie van ons hoofstroom koerante.

Se maar net ·

Kommentare is n pnding want dit gee die skrywer n vals indruk dat hy ofbsy iets gedoen het deur kommentaar te lewer en in werklikhwid het dit net mooi niks beteken nie. Hoekom wil julle weet wat julle lesers se gevoel is?

Carl ·

“Vryheid van Spraak”, word al hoe meer deur die westerse media (MM ingesluit) aan bande gelê onder die vaandel van “Haatspraak”. Marx of een of ander bekende kommunis het gesê: “Vryheid / Demokrasie is nie my beginsel nie en ek (kommunisme) sal dit van jou wegneem” Wat is “Haatspraak”, wie kan dit definieer? Kommentaar weerspieel die gevoel onder die mense en moet nie geignoreer word nie.

Paul ·

Susan, ek het al so ‘n paar keer ‘ervaar’, want daar was niks teen jul beleid nie, dat die persoon wat my kommentaar nie wou plaas nie, die onderwerp, of dit wat ek sê, nie begryp nie, dus nie op hoogte van die saak is nie, nou speel daardie persoon eerder veilig en plaas die kommentaar eerder nie.

Julle is die beste ·

Maroela is demokraties en daarom bly ek julle lees terwyl ander nuusplatforms al minder leeswaardig is. ‘N gewolde sosiale media platform het die afgelope twee jaar,in n advertensiebus van vinnig ryk word nonsens verander, ander nuusblaaie is maar net propagandabuise waarop jy nie eers kan regstellings maak nie. Dankie Maroela dat julle ons darm nog erken.

Willie Maree ·

Dankie MM en Susan, julle vervul n belangrike rol as klankbord vir baie lesers se gevoel in tye waar veral Afrikaanssprekendes voel dat hulle stem “verlore” is. Dit is egter n jammerte dat van die gespreksgenote sons taal taal gebruik wat nie aanvaarbaar is nie. Doen so voort!!

JAN ·

Goeie artikel om gedurig oor te praat. Die waarheid is bevrydend.
Ons Afrikaners / Boere koester van die Groot Trek ń sensuur kultuur. Dis ons unieke volkskarakter ons praat nie met mekaar nie. Ons weet nie hoe nie.
Naspers is die mees suksrsvolle gesofistikeerde disinformasie operasie ooit. Volksproduk.
Dis waaroor die INLIGTING SKANDAAL skandaal gegaan het. Nie waar nie?? Hmm?
Ons ly aan disleksie dialektiese misbruik van taal. Daarom praat ons eerder engels want dis meer geloofwaardig.

Paul ·

Waaroor mens maar versigtig moet wees , nie soseer om Links verdag te maak nie, maar die ver-regses wat die situasie uit buit. Ek gaan nie organisasies of mense se name noem nie, maar daar is sekere mense wat nie die realiteit in die oë kan kyk nie.

Stefaans ·

Ek dink dit is in beginsel goed vir lesers om kommentaar te kan lewer, dit kan ‘n mens se visie verbreed. Wat my egter dwars in die krop steek is diegene wat ander se kommentaar afkraak en hulle selfs aanval en beledig. Ek het ook nie ‘n probleem as lesers foute of onduidelikhede uitwys nie, dinge gebeur vining in ‘n nuuskantoor en Maroela was nog altyd grootmoedig daaroor, maar, soos my kinders altyd sê, dit is nie nodig vir lesers om vieslik te wees nie.

What a joke! ·

Wel ek stem met jou Rudolph, so omdat dit hul Maroela n media basis is kan hul se wat hul wil maar jy mag jou mening nie lig nie? Ek is nie n skaap nie man en so ook nie meeste van die mense hier wat probeer verstaan deur al hul frustrasies wat Suid Afrika na hul kant toe gooi wat hul eintlik te doene is nie! Hul wil hul mening lig!
Hoe is dit dan vryheid van spraak as een kant van die party sy stelling mag stel maar jy mag nie! Klink meers soos n diktatorskap ! So ek soebat jul nie om my toe te laat om my kant van die saak te stel nie! Te veel keer is ek al afgekeur deur jul nadat ek my mening gelig het met al jul vereistes sonder regtige verstaanbare redes is dit afgekeur is? Ek hou van jul Maroela maar jul is nie onmisbaar nie so moet nie mense boellie nie!

Paul ·

@What a joke. Sterk aantyging van jou, ek sal egter nie stry nie, eintlik ondersteun ek jou standpunt.

Ek is baie pro-Maroela, maar as mens iets aanpak en jy laat gesprek nie binne perke toe nie, dan moet mens weer oor die manier waarop jy mense se kommentare sensor besin. Maroela is, wat godsdiens aan betref, te geneig om , of kommentare van meet af nie toe te laat nie, of om dit na ‘n tyd af te skakel, soos nou ‘n dag of twee gelede. Ek sou graag die kommentare wou sien en die rede verneem.

As daar dan sekere mense is wat reghoekig skeef is betreffende hul kommentare, swartlys dan eerder daardie persoon, maar laat vir diegene wat iets na die tafel toe bring ruimte om te gesels.

Sarel Strydom ·

Dankie Susan en MM. Daar sal sltyd die wees wat kla hulle kommentare word nie geplaas nie. Ek het dit egter teen mense wat maklik die oordeelstok gebruik of onsimpatiek optree in sommige gevalle. Die Stella-moord was een voorbeeld. Domk ons daaraan dat geliefdes en naasbestaandes ook die kommentare lees. Simpatie met die mense wat kommentare moet monitor.

RG ·

Ja, dankie daarvoor. Mens reageer soms te vinnig en word dalk ook deur ander kommentaar opgesweep. Dit verbaas my nogtans elke keer dat soveel ander soos ek voel. Dag dis net ekke. Daar is ook ‘n verskil tussen negatief en Naïviteit.

dejager ·

Ek sal graag die lysie woorde ,wat maak dat mens se kommentaar nie geplaas word nie,sien.Ek vermoed dat dit nie slegs kru taal is wat ‘onaanvaarbaar’ is nie.As mens te ‘eksklusiewe’ woorde gebruik soos
‘boerevolk,boerevryheid ‘en sommer net ‘ons volk ‘sukkel dit maar om geplaas te word.

Koos ·

Dankie MM vir die geleentheid om wél kommentaar te kan lewer.

Interessantheidshalwe, benut MM dié geleentheid om die kommentators se breë, algemene gevoel oor ‘n saak van landsbelang (iets soos OSV) aan politici, ens. oor te dra?

Henry ·

Vryheid van standpunte, verskeidenheid van nuanses, verskillende voorkeure ens ens wat vir seker geen kru taal of persoonlike aanvalle bevat nie, is ongelukkig nie welkom op MM nie. Beskaafde meningswisseling OF debatvoering tussen ons kommintatorre, is eweneens nie een van MM se bates nie.

Volgehoue verbintenis met objektiewiteit, is mynsinsiens ‘n vereiste waaraan alle woordspietkoppe behoort te voldoen. Om bydraes wat op beskaafde wyse aangebied word, maar nie met die standpunte van die betrokke spietkop klop, of met die van MM nie, in die snippermandjie te gooi, is okkie reggie – mynsinsiens.

Maar nou ja.
So besef meeste van ons ook dat die wêreld doerrrr buite, waarvan MM ook deel is, is toe ook nie ‘n perfekte wêreld nie. ‘n Utopia waar geniale woordspietkoppe en lesers in afwesigheid van enige vorm van snippermandjie, ons “wyshede” op julle kommintaar ruimtes wil plak nie.
Is maar hoe dit is.
:-)

Pieter ·

Dankie Susan, dankie MM julle is die beste! Ek glo ook julle taak is nie altyd maklik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.