Rit na Lviv in Oekraïne

Sebastiaan Biehl by die bussie waarmee daar na Lviv gery is

Sondagaand bel ʼn vriend wat ʼn hospitaal in Berlyn bestuur my en vra of ek bereid sou wees om in sy plek as bestuurder ʼn vrag mediese voorraad na Lviv (Lemberg), Oekraïne, te neem. Ek het al voorheen belangstelling getoon, maar nou moes ek vinnig besluit. My vrou kon my vir die goeie doel spaar, my werkgewer was ook bereid om op so ʼn kort kennisgewing vir my twee dae se verlof toe te staan, en alles is toe teen Maandagmiddag uitgesorteer. ʼn Rugsak met proviand en ʼn tandeborsel was genoeg, want ons sou nie eers daar oornag nie.

Maandagaand laai die ander twee bestuurders, Jonas en Justus (twee studente van Göttingen), my by my woonstel op en ons gaan die nag in. Jonas was twee weke gelede deel van ʼn rit na Lviv en neem die leiding. Die minibus (VW Transporter), waaruit die agtersitplekke behalwe een verwyder is, word tot teen die dak met bokse vol medisyne, verbande, noodhulpstelle, doeke, ens. gelaai, asook ʼn nuwe sonartoestel. Via Wroclaw, Katowice en Krakow bereik ons ​​eers Rzeszow in die suidooste van Pole, waar ons in die vroeë oggendure twee kospakkies van ʼn Oekraïense vrou ontvang wie se oudste seun in Lviv woon en op die punt staan ​​om oorlog toe te gaan.

Lviv

ʼn Uur en ʼn half verder en ons bereik Pole se grens met Oekraïne; ʼn regte grens met versperrings, kontroles aan beide kante en lang wagtye. Langs en agter ons is ander voertuie met hulpgoedere van Pole, Duitsland en Oostenryk. Net met die oggendskemer kom ons Oekraïne binne. Dit lyk vreemd om in ʼn land te wees wat in ʼn staat van oorlog is – dit nogal in Europa in 2022. Ons sien talle plakkate met militêre en patriotiese temas, af en toe ʼn kontrolepunt en tenkversperrings langs die pad. Die klein dorpies lyk armoedig, maar die kerke – ortodokse koepelkerke met goue dakke – is opgeknap en die sigbare tekens van geloof soos klein heiligdomme en klipkruise is opvallend, veral in vergelyking met die ten volle sekulêre Berlyn.

Omstreeks sesuur ry ons Lviv binne en soek die hospitaal waar die vrag oorhandig moet word. Behalwe ʼn paar sandsakke hier en daar en dalk meer soldate as gewoonlik, lyk alles redelik normaal. Hier voel die oorlog nog ver. Daar was egter reeds ʼn vuurpylaanval op ʼn militêre lughawe in die omgewing.

By die hospitaal aangekom word ons vrolik deur ʼn blonde, middeljarige dame gegroet en kry koffie en toebroodjies met konfyt. Kommunikasie is moeilik, geen Russies of Oekraïens aan ons kant nie, maar ʼn jong vrou help met Duits. Pater Andrej, hoof van die hospitaal met ʼn bril en kort grys hare, verwelkom ons en vra ons in perfekte Duits oor ons agtergrond uit voordat ons en ander personeel die bussie aflaai. Blykbaar word die meeste van die voorrade wat ons gebring het oor die land versprei waar die front is. Lviv is tans die enigste groot stad wat nie onder beleg of in die onmiddellike omgewing van die gevegsone is nie.

Na ʼn stewige ontbyt in die hospitaal se eetsaal vertrek ons ​​vir ʼn kort besigtigingstoer; die manjifieke Katolieke barokkatedraal van St. George is reg langs die hospitaal. Wat ʼn barbaarsheid sou dit wees as hierdie pragtige kerk vernietig of beskadig moes word. En tog gebeur dit in ander dele van die land.

Daar is nie tyd vir ʼn behoorlike stadstoer nie, omdat ons na die tweede deel van ons sending moet gaan, naamlik om vlugtelinge saam te neem. Eers ry ons na die jong man vir wie ons die kospakkies het.

Hy en sy pa woon in een van die baie algemene grys betonwoonstelblokke uit die Sowjetunie-tydperk. Pavel, die jong man, wys vir ons sy militêre toerusting: ʼn Duitse weermaghelm, koeëlvaste baadjie en ʼn ligte opvoubare geweer. Hy is nie die soldaattipe nie; meer ʼn skaam persoon wat sy geld met die vervaardiging van modelle en gordelgespes met sy 3D-drukker verdien. Hy aanvaar sy komende missie gelate. Sy pa, wat soos Sokrates lyk en kaalvoet in ʼn kamerjas rondloop, braai vir ons ʼn schnitzel in sy klein kombuisie en maak vir ons vars uitgedrukte lemoensap; net die ding na die lang rit.

Justus is totaal uitgeput en aanvaar die aanbod om hier te rus. Ek, Jonas en Pavel, wat as tolk optree, ry verder heen en weer deur Lviv, en dan na ʼn vervalle woonstel met toegetrekte gordyne en die reuk van sigarette. ʼn Ou, bedlêende en gedeeltelik verlamde man en ʼn jong egpaar woon hier. Laasgenoemde het glo hier nes gemaak in ruil daarvoor dat hulle die man versorg. Maar nou gaan hy liewer na sy dogter wat in Hannover in Duitsland is, en ons dra hom met ʼn klomp trappe op sy wandelaar af na die bussie waar hy homself op ʼn tydelike bed tuismaak.

Dan gaan ons verder na die treinstasie; ʼn ongelooflike groot en manjifieke gebou uit 1904 in die neoklassieke styl, toe Lviv nog deel van die Habsburgse Ryk was. Daar is verskeie tente van hulporganisasies voor die stasie. Vlugtelinge met koffers en reistasse stroom by die treinstasie uit, word hier geregistreer, kry iets te ete en vervoer word georganiseer. Ons vra by ʼn Rooikruis-tent en hulle bring ons in kontak met ʼn jong vrou met twee seuns van sewe en nege jaar. Sy praat net ʼn paar woorde Engels, maar die vertaalprogram op haar selfoon help darem. Ons neem Pavel terug na sy pa en laai weer vir Justus op. Sewe mense en bagasie; dit is baie beknop en ongemaklik soos wat ons ry.

By die grens staan lang toue. As humanitêre vervoer kan ons vinniger deurkom, maar dit neem steeds meer as drie ure. Die oorspronklike voertuigregistrasiedokument ontbreek en die ou man se paspoort het verval. Na baie heen en weer kan ons deurgaan. Ons stop weer in Rzeszow waar Pavel se ma, broer en die ouma ook wil saamkom, maar dis net nie moontlik nie en ʼn bietjie vererg gee hulle ons net hul bagasie en vat dan maar die trein. Ons laai die jong vrou en haar kinders in Wroclaw in Pole af. Sy ken ʼn vriendin hier en wil graag eers ʼn bietjie ontspan voordat sy in die volgende paar dae verder na Duitsland reis. Ons maak beurte, ry sonder pouse deur en bereik Berlyn dan weer om 08:00, ná presies 36 uur.

 

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Dankie Sebastiaan vir wat jy gedoen het en vir die berig. Ek wens meer mense kan Jul persoonlike ervarings deel van wat aangaan daar en die menslike ellende, veral vir die wat dink die Russe is daar om kospakkies uit te deel en word as bevryders ontvang. Ek wens jy kan nog met ons deel en hopelik Sal van die lesers besef dat dit nie een groot komplot is teen “arme” Putin nie. Ek het n sterk vermoede dat die mense in SA nie blootgestel word aan wat werklik daar gebeur nie. Sien daarna uit om meer van jou te hoor.

Treurwilger ·

Sebastiaan Biehl,
Dankie vir hierdie aangrypende vertelling van jou unieke ervaring van die ‘Oekraïene Tragedie’.
(my eie benaming vir dít wat die afgelope maand daar afspeel.)
Sóveel mense en instansies is só skuldig aan hierdie voorkombare vernietiging en lyding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.