Rubriek: ʼn Stuiwer vir die Bokke of R1 m. vir MRK?

kerk-banke

Argieffoto

In Suid Afrika is ons daaraan gewoond dat daar Sondag in die kerk, behalwe vir die gewone kollekte, vir die een of ander instansie gekollekteer word. In my kerk kan ek deesdae ʼn skaap aanneem, maar sê nou hy beland later op my etenstafel?

Nietemin. Onlangs, tydens ʼn besoek aan Nederland, was ek verbaas dat daar tydens die erediens in die St. Jans-kerk in Maastricht, naas die gewone kollekte, ook vir ʼn rugbyklub in Roemenië gekollekteer is. Die diaken het vertel dat ʼn rugbyklub in Roemenië geld nodig het vir sy pogings om jongelinge van die straat af te hou. Baie van hulle word nou deur grootouers versorg nadat hul ouers na die vleispotte van Europa gevlug het.

Verbasend het baie van die Nederlanders in die kerk mildelik bygedra. Onthou, rugby is nie ʼn baie bekende of gewilde sportsoort in Nederland nie. Daar kraai sokker, ysskaats en selfs sportsoorte soos hokkie koning.

Omdat sport nie net ʼn fisieke aktiwiteit is nie, maar ook ons emosies betrek, is dit ʼn kragtige middel ten goede, waarvan daar baie voorbeelde is. Neem as voorbeeld die oud-Springbokvleuel Breyten Paulse wat vertel hoe rugby hom uit ʼn doodloopstraat na nasionale bekendheid en alles wat daarmee saamgaan, gered het.

In die 1970’s het pres. Richard Nixon van Amerika China besoek in wat later as die sogenaamde ping-pong-diplomasie bekend sou staan. ʼn Amerikaanse tafeltennisspeler en ʼn deelnemer van China het by ʼn toernooi in Japan bevriend geraak en so die ontmoeting bewerkstellig. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat Amerika vriendskaplike verhoudinge met China aangeknoop het.

Wie sal ooit vergeet hoe die sportboikot oor apartheid Suid Afrika seergemaak het en een van die faktore was wat tot die ondergang van die stelsel gelei het?

Eben Etzebeth. Foto: Twitter

Sport kan egter ook negatief op verhoudings inwerk. Ongelukkig het sommige Suid-Afrikaners nog nie die sprong na die nuwe Suid-Afrika gemaak nie. Hulle is aan beide kante van die politieke spektrum – links en regs – maar ek praat spesifiek van die groepie op Langebaan wat hul messe uit het vir die Springbokslot Eben Etzebeth. Hulle beskuldig hom daarvan dat hy hulle die h-woord toegesnou het, dat hy hulle wou skiet, ensovoorts.

Die Menseregtekommissie (MRK) – daardie organisasie wat net sogenaamde haatspraak van wit mense erken – het Etzebeth sommer dadelik en nieamptelik skuldig bevind en met, onder meer, R1 miljoen “beboet”.

Onthou, dis ook die MRK wat Ashwin Willemse se griewe op televisie aan boord geneem het, dit eers uitgestel het en nou soos die graf swyg daaroor. Die MRK swyg nou ook oor die aanklagte teen Etzebeth, maar eers nadat hulle met die hof gedreig is. Onthou, eise kan van twee kante ingestel word, wat Etzebeth ook gedoen het.

Daar is nou verskeie sake en hofsake op die MRK se program wat in die lug hang, en wat lyk of hy dit wil doodswyg, al spog hy daarmee dat hy op datum is met sy werk. Maar soos ek dit sien, gaan die Langebaan-groepie aan die kortste end trek. Ek dink nie Etzebeth is skuldig nie, die storie hier in die Kaap is dat dit iemand anders was wat die h-woord gebruik het. Maar dié het nie die geld of statuur van Eben nie.

Verder is die groepie, na wat verneem word, deel van ʼn All Black-kultus in die Kaap. Dis hulle wat Saterdag ná Saterdag op die pawiljoen op Nuweland gesit en die Springbokke net so beledig het soos hulle Etzebeth beledig het. Die Stormers moes ook deurloop toe hulle teen ʼn Nieu-Seelandse span gespeel het. Ry deur ʼn paar Bolandse dorpe en jy kan hulle dadelik sien: hulle het plakkers op verweerde karre wat sê “I support the Blacks”. Hulle deins ook nie daarvan terug om te vloek en te skel nie… soos Etzebeth in sy beëdigde verklaring beweer.

Dis dus myns insiens nie net teen Etzebeth gemik nie, maar teen Suid-Afrikaanse Rugby as geheel. Die Springbokke, sien, moet gehaat word oor die sondes van die verlede. Maar enigiemand wat Saterdag gesien het hoe wit en swart en selfs Japannees mekaar omhels toe die Springbokke teen Japan gespeel het, sal weet dat rugby in Suid-Afrika reeds tot baie versoening bygedra het.

Nou ja, een laaste word: indien die Springbokke tot die eindronde deurdring en teen die All Blacks verloor, sal ekself dalk maar die kollektebordjie moet rondstuur. Maar kan julle dink hoe erg die lawaai dán in die strate van Langebaan gaan wees?

Go, Bokke, go!

 

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arak ·

So, kan mens die MRK hof toe sleep, en na wie toe sleep jy hulle dan, want dit is nou nie juis asof die Grondwethof vir jou ‘n regverdige uitspraak waarborg nie.

Dawid Geyer ·

Dit lyk my so of die MRK slegs blanke gevalle aanval en glad nie ñ neutrale kommissie is nie.wat het gebeur met die swartman wat gesé het sy grootste kersfees geskenk sal die slagting van ñ klomp boere gelyk wees.dit word toegesmeer???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.