Rubriek: Verwaand, verward of verlore?

Standbeeld van St Franciskus van Assisi in Sandamiano, Assisi. Foto: Annelize Brits

As daar een ding is wat die Fransiskane onlangs tydens my besoek aan Italië, my weer van bewus gemaak het, is dit onvoorwaardelike liefde. Die groot opdrag om Jesus se hande en voete op aarde te wees. Jesus het bemoeienis gemaak met die siekes, die hoereerders en die verlorenes. Hy het by die tollenaar gaan eet. So het Hy mense se harte gewen deur lief te wees.

Het ons vergeet wat dit beteken om “goed” te probeer wees, om liefde uit te deel, om na mekaar te luister al stem ek nie saam met jou nie?

Op die oomblik is ek sommer net bitter hartseer oor ons ou volkie. Ja, ons ou Afrikanervolkie! Ons ou diverse volkie wat tog so verwaand, eiesinnig en kan kommentaar lewer sonder om die impak te besef…

Sosiale media, die euwel van ons tyd, is ’n monster wat net elke dag groter en leliker word, want ons voer hom! Die afgelope tyd het ek verstom gesit en kyk hoe mense mekaar aanval, seermaak, vertrap, verskeur en dit alles met die tong. Ek het nog altyd geglo die tong is ’n wapen, maar ek besef al hoe meer hoe magtig dié klein liggaamsdeel is! Hiermee spreek jy lewe of jy spreek dood. Jy praat (of skryf) mooi of lelik. Die laaste tyd is die dood wat gespreek word, die norm. Dit wil voorkom asof dit maar aanvaarbaar geword het!

Ek wonder of mense besef hoe hulle hulself ontbloot? Wys wie hulle werklik is. Dit is soos die ou wat kommentaar lewer op ’n Facebook-inskrywing en die vrou ter sprake daai “p”-woord noem. My mond het oopgehang! En natuurlik hits dit nog net meer onwelvoeglike uitlatings aan.

Ons hoef nie saam te stem nie. Ons almal se oortuigings is anders. Ons kan onsself uitspreek, maar ons moet besluit hoe ons dit doen. Hoe lyk hierdie prentjie van my binneste wat ek so ontbloot voor die hele wêreld? Of jy gelowige is of nie, daar is ’n universele reël wat ek glo die kern is van gesonde debat – respek. Het ons dit heeltemal verloor? Verstaan ons nog wat dit beteken? Nie net wat dit is om respek vir ander te hê nie, maar ook vir jouself?

Dit het my nogal aan die dink laat sit. Is hierdie dié ou volkie saam met wie ek “oorlog” toe wil gaan, is dit die mense wat ek in my span wil hê?

Ons ou volkie is kwaad, kwaad oor baie goed. Word hierdie kwaad nie op verkeerde maniere tot uiting gebring nie?

My hart is seer. Die mens is verwaand, of eerder verward, maar op die einde dink ek ’n groot klomp is sommer net verlore…

*Gaan lees gerus Susan Lombaard se redakteursbrief.

Die Liefde

“Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ʼn stuk klinkende metaal, ʼn galmende simbaal geword.

Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.

Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.

Toe ek ʼn kind was, het ek gepraat soos ʼn kind, gedink soos ʼn kind, geredeneer soos ʼn kind. Maar noudat ek ʼn man is, is ek klaar met die dinge van ʼn kind.

Nou kyk ons nog in ʼn dowwe spieël en sien ʼn raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”
1 Korintiërs 13:1-13

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pieter ellis ·

Ja, die reg wat elkeen hom of haarself toevoeg, om te sê wat jy wil en te doen wat jy wil, sonder om ander in ag te neem. So word die woorde deur Paulus geskryf, in 2 Timoteus 3 elke dag herbevestig,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.