Ryloop

Argieffoto (Foto: rawpixel/Pixabay)

Toe ek nog jeugdig was, was ryloop mos ʼn normale manier van oor die weg kom. Ek onthou nog goed die Sondagnamiddag toe ek daar op Jan Smuts afklim en die pad moes vat na Voortrekkerhoogte. Kompleet in my blou uitstap-uniform van die Lugmag en hier staan ek totaal onseker langs die pad met my duim in die lug.

Hier stop toe so ʼn buin-vuil Valiant-motorkar met ʼn vriendelike swart man en sy hele gesin wat op pad is na Pretoria. Daar word plek gemaak en opgedruk en die wit soldaatjie kry ereplek voor links en daar draf ons teen 70 km per uur tot reg voor die lugmaggimnasium se hek.

Toe breek die Paasnaweek aan en ek wil my ouers loop verras daar waar hulle kreef uithaal by Donkiesbaai. Daai aand laai ʼn ou my af op Britstown en ek besluit om die grondpad te “hike” oor Vosburg na Carnarvon. Stap so ent die dorp uit, maar die pad is doodstil. Later oorval die moegheid my en ek loop lê reg in die pad met my gesig na die aankomende verkeer se rigting sodat die karre se ligte my kan opwakker. Slaap toe dwarsdeur tot dagbreek daar in die harde pad.

Iewers daai oggend kom jae daar so ʼn slap, lang jongman met ʼn Datsun SSS amper oor my. Hy stop daar in een stofwolk en ek klim. Daai Triple-S hyg na sy asem soos ons storm oor die vlaktes na Williston en later Calvinia toe. Maar toe ons die Vanrhynspas vat, toe sit my hart hier bo teen my kiewe.

Die kêrel het sulke lang slap bene met holskoene aan en hy sit so half dwars agter die stuur. Die Triple-S skreeu om elke draai en die Vanrhynspas het kort draaie. Dit voel of jou hart uitvlie reg oor die Knersvlakte maar die Triple-S klou vas en ons storm Vanrhynsdorp in. Daar laai hy my af en storm voort die diep Namakwaland in.

Later van jare ryloop ek kompleet met my “army”-jas en hardloopskoene dwarsoor Suid Afrika. Kitaar onder die blad met so ʼn groot rooi “sticker” agter op my jas: “Turn or Burn”. Met ʼn baardbek en rugsak kompleet. En g’n siel het my ooit leed aangedoen nie.

ʼn Tjom vertel my hoe hy een nag oorstaan in Beaufort-Wes. Eet die oggend daar in die hotel ʼn brekvissie toe sien hy ʼn oom wat lyk asof hy op pad kan wees. Die troepie skraap sy moed bymekaar en vra die oom of daar nie plekkie is in die kar nie, want hy is op pad na Somerset-Wes. “Graag, seun” en daar klim die twee in die oom se kar maar hulle beur ooswaarts in plaas van Kaap toe. Toe die tjommie van my protesteer stel die omie hom gerus en draai net daar af na die vliegveldjie. Dit was toe al die tyd oom Anton Rupert en doeksag vlie hulle al die pad tot by Stellenbosch.

Agterop oop lorries, in vliegmasjiene, in vinnige Datsun SSS’e en binne-in ou Valiants. Ons het oor die weg gekom en vriende gemaak en saam gelewe op Coke en “pies”. Nou’s ons almal grênd en selfs skoolkinders ry met platkarre rond. Die wêreld is onveilig en ons ken nie mekaar nie en gee ook nie ʼn duit om nie. Ons jae by mense verby wat langs die pad staan met ʼn gebreekte kar en dan loer ons ewe vroom in die truspieëltjie en bid dat iemand hulle sal help. Maar ons sit knus in ons saligheid.

Ek onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik UAE ·

Nostalgies en baie waar.Dankie .Meeste ouer garde het dit beleef en beleef dit nou.

Willie ·

Ek was ook in die Lugmag, ek het altyd van Pta na Natal toe geryloop op pas.. Dieselfde paartjie het my maande uitmekaar n saamry geleentheid gegee.. Toevallig aangenaam verras..

Chris Ws ·

Net so baie geryloop huistoe wanneer ek ‘n naweek pas kon kry (wat bitter selde was).My naarste ondervinding was om van Middelburg in die Kaap te ryloop Rustenburg toe.Hope mense ry verby op noorde toe maar verdomp of iemand my oplaai!Ek het naderhand langs die pad op ‘n wit sement paaltjie gesit en so sit-sit teen middernag begin dut .Toe laai ‘n melk lorrie my op en ek klim dadelik.So ry ek saam hulle deur die plase tot hulle my weer op die teerpad noordwaarts aflaai toe die son opkom.Darem het ek ‘n entjie gevorder en kon ‘n slapie inkry!Na ‘n paar uur se staan laai ‘n paartjie my op met ‘n ou Landrover en so karring ons aan teen 70km/h tot in Bothaville.3 uur die middag kom haal my ouers ‘n pootuit army lat op Ventersdorp!Ek sal daai ene nooit vergeet nie.Het na dit nie weer geryloop nie!

Salamander ·

Die hele land deur geryloop, vanaf Beitbrug tot Kaapstad. Mis dit.

dries ·

jis Koos jy kan die ou dinge in ‘n man se hart wakker maak. Die verste was van SWAspes af tot in Hendrina op die hoëveld. Paar dae en op ‘n skaaptrok op die onderste dek. Onder die skape, ek reken van Rehoboth tot Grunau se wêreld op daai trok gery. En dankbaar vir die lift!

Stephan de S ·

Lekker ou herinneringe…….het self duisende kilometers/myle in Army-dae en op universiteit deur die land geryloop….selfs eenkeer deur vragmotor vol doodskiste opgelaai. Het een keer twee dae langs pad gestaan sonder sukses. So baie aangename mense ontmoet. My lewe was nooit in gevaar nie. Paar keer deur “hell-drivers” opgelaai maar ook dit geniet, veral as so n drywer boonop behendig was. Een vd lekkerste ritte was saam met n omie in Ford F100 bakkie op daai tyd se slegte grondpad tussen Prieska en Hopetown…….hy kon bestuur en die Ford kon n grondpad verneder en dood gewoon laat voel. Wens ek kon n reunie hou met almal wat my opgelaai het……..amper vergeet ek vd paartjie v Windhoek op “honeymoon” in n Studebaker Lark wat my by daai eensame afdraaipad na Putsonderwater opgelaai het tot op Upington…..baie dankie aan hulle….daai Lark het gesweef oor die aarde met hulle tweetjies styf teen mekaar.

Onthou nog ·

Ek staan eendag by die laaste motorhawe in Swartruggens en wag vir ‘n geleentheid Mafeking toe. Stop daar ‘n tannie (ek was 17, sy was in haar dertigs) met ‘n “Big Six” Cortina, sy gee my ‘n coke wat sy by die garage gekoop het en vra waarheen. Mafeking toe, sy gaan tot op Zeerust. Daar gaan ons. Daar is ‘n ongenadiglike vibrasie onder die kar wat stil raak bo 150 km/u. So haar gemiddelde spoed was so 160 sodat ons darem mekaar kon hoor. Die stukkie pad tussen Swartruggens en Zeerust het nog nooit weer so lank gevoel nie en ek het hom ook nog nooit so weer so vinnig gery nie.

Theoman ·

Wonderlike duimgooi dae sonder vrees en altyd n vriendelike persoon of familie wat jou op laai ook sonder vrees maar deesdae laai ek geen duimgooier op nie. Laat my terug dink aan my studente dae opTuks, ek en n pel op pad Bloemies OVS toe. Van Pta tot by Uncle Charlies 2 Volksie Beetles, van daar tot op Bloem, 7 Volksie Beetles. Terug van Bloem Pta toe 4 Volksie Kombies, en wragtig my eerte kar was n Volksie Beetle

Koos ·

Dankie ouens vir die lekker kommentare. Ek sit lag nou vir al die dinge en kry sommer weer lus vir hike iewers heen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.