#SchoolfeesMustFall sal tot ondergang van openbare skole lei

Argieffoto

Argieffoto

Hoewel gratis onderrig op skoolvlak lankal ’n werklikheid is, sal die afstel van skoolgeld openbare skole tot so ’n mate finansieel knou dat gehalte-onderrig nie langer ’n haalbare doelwit sal wees nie, skryf dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

#SchoolfeesMustFall – só ’n veldtog was seker te wagte ná die baie suksesvolle studente-protesaksie, maar in werklikheid is gratis onderrig op skoolvlak sy ouboet op tersiêre vlak ver voor.

In die geval van 84% van Suid-Afrika se 23 905 openbare skole word geen skoolgeld gehef nie. In die oorblywende 3 824 skole mag geen kind weggewys word indien sy ouers nie die skoolgeld kan betaal nie. By hierdie skole subsidieer die res van die skool se ouers diegene wat nie die onderrig kan bekostig nie.

Die Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing bepaal dat skole ’n minimum van R1116 per leerder per jaar van die staat ontvang in skole waar daar geen skoolgeld gehef kan word nie, en R193 in die sogenaamde ryk skole (kwintiel 5). In praktyk beteken dit dat ’n “gratis skool” slegs R5,58 per leerder per skooldag het om al die skool se uitgawes te delg en alle aktiwiteite aan te bied. Die staat se bydrae vir kwintiel 5-skole beloop nagenoeg 97 sent per leerder per skooldag.

Uit Fedsas se onlangse navorsing onder lidskole blyk dit dat skole gemiddeld 12,35% van hul begroting moet afskryf weens vrystelling waar ouers nie skoolgeld kan betaal nie, en 12,95% weens slegte skuld (waar ouers nie wil betaal nie). In die meeste gevalle is die staat se bydrae tot die bedryfsuitgawes van Fedsas se lede slegs 3,64% in die geval van hoërskole en 6,19% in die geval van laerskole. Die staat se bydrae tot hierdie skole (salarisse van die departementele personeel en die gebruik van die geboue uitgesluit) is dus minimaal en ’n reuse 85% kom uit die sak van ouers in die vorm van skoolgeld, met 9,4% wat deur bykomende fondsinsamelings verkry word.

Skole gebruik skoolgeld vir alle skoolaktiwiteite (akademie, sport, kultuur en sosiale aktiwiteite) en om die skool te bedryf, maar die beheerliggaam het ook ʼn verantwoordelikheid om die gehalte van onderrig te verhoog. Die beste manier om dít te doen is om bykomende opvoeders aan te stel. Konserwatief bereken is daar nagenoeg 50 000 opvoeders in diens van skole (sogenaamde beheerliggaam-aanstellings) en 100 000 nie-opvoeders wat vir skole werk. Die salarisrekening hiervoor beloop 10 tot 12 miljard rand per jaar. Indien geen skole skoolgeld mag hef nie, gaan daar geen bykomende inkomste wees om hierdie opvoeders en nie-opvoeders aan te stel nie, wat 150 000 meer werklose mense in die land tot gevolg sal hê.

Die staat bestee in hierdie boekjaar R191,1 miljard aan basiese onderrig (ʼn verhoging van 7,6% op die vorige boekjaar), maar die deurvloeisyfer van graad 1 na graad 12 is slegs 32,3% (klas van 2014). ʼn Mens hoef nie juis ʼn ekonoom te wees om te sien dat dit ʼn baie swak opbrengs op hierdie belegging is nie!

Die realiteit is ook dat ongeveer 7% van ons land se skole ʼn behoorlike sportprogram vir die leerders aanbied en dat ons land se nasionale spanne dus uit ʼn handjie vol skole gekies moet word. Skole betaal self vir die ontwikkeling en instandhouding van sportfasiliteite, afrigters en uitrustings en hiertoe maak die staat nie ʼn sent se bydrae nie. Hierdie 7% sal vinnig daal indien geen skoolgeld gehef mag word nie en groen sportvelde sal vinnig in stofvelde verander.

Die realiteit is ook dat 16% van die land se skole nie in 100% van die leerders se behoeftes kan voorsien nie. Politici gebruik egter graag toelating en taal om goedkoop politieke punte in onderwys te behaal.

Dit is tyd dat die regering die werklikheid in die oë staar en besef dat ʼn handjie vol skole die verantwoordelikheid dra om die intellektuele kapasiteit van die land te ontwikkel en dat hierdie skole gekoester moet word en as voorbeelde gebruik moet word van hoe dinge in skole kan gebeur. Dit blyk egter baie makliker te wees om almal na ʼn vlak van wanfunksionaliteit af te trek vir ʼn paar kruisies by die stembus.

Suid-Afrika se kinders verdien meer – ruk nou die stelsel reg, fokus op dit wat wanfunksioneel is en leer die lesse by die skole wat dinge self (ten spyte van die departement) laat gebeur.

* Dr. Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Dr Deacon verklaar heeltemal tereg dat die beste manier om onderrig te verbeter daaruit bestaan om klasgroottes te verminder. Maar die poitiewe effek horvan op leerprestasie skop eers in wanneer die klasgrootte onder twintig daal. Soos die klasgrootte van twintig af verder daal, bly die leerprestasie styg totdat dit sy maksimum bereik by klasgroottes van twaalf of minder.

Die onderwysowerheid is dus heeltemal reg dat dit geen verskil aan leerprestasie maak of jy dertig of sewentig leerlinge per klas het nie – minimale leerprestasie is reeds bereik by twintig per klas. Dit is waarom opvoedkundiges in ryk lande hulle beywer vir maksumumklasgrootte van vyftien. Die Kanadese provinsie Ontario het selfs ‘n paar jaar gelede ‘n wet aanvaar wat klasse groter as vyftien verbied.

Dr Deacon verklaar ook dat daar 50 000 onderwysers is wat beheerliggamaanstellings beklee, en 100 000 “nie-opvoeders”.

Hoeveel van hierdie “nie-opvoeders” is daar slegs om die administratiewe las van die disfunksionele CAPS-stelsel te beredder?

Kwintiel vyf-skole (en die elite privaatskole) kan die CAPS-stelsel slegs bedryf met hierdie bykomende administratiewe bronne.

Maar die belangrikste kwessie wat kwintiel vyf-skole ‘n voorsrong gee het niks te doen met sy klasgroottes en ander hulbronne nie – dit lê in die wolk van remediërende, arbeids- en spraak/taalterapeute, ekstra klasse en hupstootstelsels soos Kumon en Kip Mcgrath, opvoedkundige sielkundiges, spel- en musiekterapeute, kinderkinestetici en ander steunselsels wat rondom die “voormalige model C-skole” ontstaan.

Die funksie van hierdie uitgebreide hulpstelsel is om die kinders wat nie netjies in die boksies van die CAPS-stelsel pas nie te duikklop totdat hulle weer “inpas”. Gaan vind maar uit watter persentasie van die kinders in hierdie skole op die een of ander tyd hul toevlug tot hierdie stunstelsels moet neem.

En hulle kan, want hul ouers kan dit bekostig. By die arm skole (die 84% wat nie skoolgeld kan betaal nie) bestaan hierdie dam van terapeute nie, want die ouers kan dit nie bekostig nie.

As ons veg vir die “behoud” van “goeie onderwys” durf ons nie met oogklappe kyk na die stelsel(s) wat ons nie net met ons skoolgeld nie, maar ook met ons belasting aan die gang hou.

Beginnende by die dwangbuis waarin die CAPS-stelsel die kind, die onderwyser en die skool plaas.

Jakatrak ·

Ek kan verstaan dat niks verniet is nie, en iemand daarvoor betaal………..maar ek kan nie byhou met die skool waar my kinders skoolgaan se 122% toename in skoolgeld oor die laaste 5 jaar nie. My inkomste het met slegs 8% per jaar toegeneem. Die beheerliggame sit vol van die rykste pappies van die skool……….wat almal 50% afslag op skoolgeld kry omdat hulle daardie poste beklee. Verder kruissubisideer my skoolfonds die sogenaamde “beurs-kinders”….wie almal minder skoolfonds of selfs geen skoolfonds betaal nie….en dit omdat hulle ‘n bal kan skop, kolf kan swaai, hekkies kan hardloop……….maar niemand gee om oor hulle akademiese vermoëns nie. Hoeveel skole sit met “beurskindertjies” wat kwyt geskeld word van skoolfonds af…..oor hulle sport prestasies? En hoeveel “beurskindertjies” is daar oor hulle akademiese vermoëns? Die stelsel is vrot. Skrap dit.

Weer Jakatrak ·

En waar het jy al ooit gehoor van sogenaamde “beheerliggaamsposte” wat afgeskaf of verminder word? Dit gebeur nie. Die “wit, Afrikaanse” skole het ‘n werkskeppings-aksie vir wit onderwysers onder mekaar geword, en die skoolhoof sê “Moenie worry nie, jy sal jou salaris kry. Ons sit net die skoolfonds op. Wit ouers kibbel nie, hulle betaal maar net….ander diskrimineer ons net subtiel teen hulle kindertjies……..OF ONS DAGVAAR HULLE!!! Maar jou werk sal jy behou, meneer, juffrou.”

Chivago ·

Gratis onderwys = geen onderrig. Verlede week vra ek vir ‘n halwe kilogram ham by ‘n supermark se deli. Die arme voorheen benadeelde en resultaat van huidige gratis onderrig het geen benul,sy sit 2 skyfies op die papier en kyk my hoopvol aan! Nadat ek haar mooi verduidelik het van gram en kilogram, het sy my mooi bedank omdat sy nou ook verstaan.

Kaspaas ·

My kinders is in n staatskool, klomp kinders hoef nie skool geld te betaal nie terwyl ek R2100 per kind per maand moet betaal. Absoluut belaglik hulle is 38 kinders in n klas, subsidieer die disteem al klaar.

Francois le Cochon ·

Skoolgelde is hemels hoog, aangesien skole begroot vir luukshede wat teenstrydig is met die SA Skolewet. Personeel uitgawes van ‘n SBL is slegs van toepassing op beheerraad aanstellings. Skole mag glad nie skoolfonds gebruik om Departementele onderwysers te vergoed nie. Art 38A van die skolewet stipuleer wel dat Depatementele onderwysers bykomend vergoed kan word, indien hulle pligte verrig wat buite hul pligstaat van die Departement val, wat te doen het met die kernbedrywighede van ‘n skool, en dan ook teen ‘n uurlikse tarief wat nie meer is as wat die Dept sou betaal nie.
Skoolfonds mag dus nie gebruik vir bonusse aan dept onderwysers nie. Dit is net hier waar die probleem is.

Skoolhoofde word tot R40,000.00 per maand bykomend vergoed uit die skoolfonds, maar doen GEEN werk buiten wat die dept van hull verlang nie. So ook word bonusse aan dept onderwysers betaal, wat ook geen ekstra pligte verrig nie.

Beurse uit die skoolfonds is ook onwettig. Die wet op skoolgeldvrystelling stipuleer dat slegs ‘n ouer se inkomste skoolgeld afslag mag bepaal.

Min ouers weet dat met skoolgeld van bv. R17,000.00 per jaar, kan ouers wie se inkomste minder as R510,000.00 per jaar is, aansoek doen vir skoolgeld afslag.

Lizl ·

En waar is hierdie gratis skole ??? Ons hik aan die skoolgelde… ! Ek weet daar is subsidies, ek het self voorheen aansoek gedoen vir dit. Moes voor die beheerligaam please en explain hoekom kan ek nie skoolfonds bekostig. Die afslag wat ek gekry het nadat ek “gesubsidieer” was, was R2300 per kind. Jaarlikse skoolfonds was R15600. Ek moes maar dankbaar wees vir die finale rekening van R11000.

Francois le Cockon ·

@Lizl. Download die wet op skoolgeld afslag. Government Gazette 29311 van 18 Okt 2006 (School fees Regulations). Par. 6 dui presies aan hoe om die % van skoolafslag te bepaal. Skoolfondsafslag is terugwerkend vanaf wanner die ouer kwalifiseer.
‘n SBL mag nie hul eie reels maak oor skoolgeldafslag nie. Dit is dus onwetting indien SBL lede of onderwysers se kinders afslag kry weens die posissie wat hul ouers beklee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.