‘Sjoep’, en toe’s Tjippie weg

Argieffoto (Foto: Nadja Golitschek/Pixabay)

Kerk is deesdae anders. Die Kerk is uit die kerkgebou gehaal en word deur middel van wonderlike tegnologie in ons huise of waar ons ook al is, ingedra. Vir die oues van dae raak dit lastig want al die nuwerwetse goed is soms bo hul vuurmaakplek. Darem seker nie vir almal nie, want daar is tog van hulle wat hulle daarin verkneukel om knoppies te druk en skermpies te vryf.

Sondag ná Sondag is ons gedwing om die intieme gemeenskap van die gelowiges te verruil vir dit wat oor die radio of op die klein foonskermpie of die groot TV-skerm aangebied word. Soms kan dit nogal jou geestelike horison verbreed. Soms maak dit jou opgewonde om te sien en hoor dat ingrendeling nie die Kerk aan bande lê nie.

Afgelope Sondag was dit weer só. Van vroegoggend af het RSG gesorg vir die mooiste stemmingsmusiek in aanloop tot die uitsaaidiens. Die oggenddiens was een van daardie wat ‘n mens diép laat nadink het – ‘n klinkklare Bybelgefundeerde boodskap wat ‘n mens laat wens het dat die hele wêreld dit moes hoor.

Ná die uitsending was ons net betyds om in Ou Meule se sitkamer te gaan luister na Riversdal Moedergemeente se gestroomde diens. Vóór sy uitstaande boodskap was daar ‘n insetsel van iets wat baie kosbaar en aangrypend was. Iets wat nie binne die kerkgebou moontlik was nie.

Op die plaas aan die voet van Sleeping Beauty het ds. André ‘n aangrypende dankgebed gedoen. Ná ‘n paar droogtejare en misoeste is baie gebede verhoor toe milde reën vanjaar uitgesak het. Ds. André het op die grondpad, met wuiwende graan weerskante van die pad, eers sy “oë opgelaan na die berg” en toe opgewonde begin bid.

Jy ken nou nie vir die lang dominee nie, maar hy is ‘n entoesiastiese, woelige prediker. As sy hande en voete vasgebind is, sal hy beswaarlik kan preek. So besluit ek toe ek wil nie net die gebed hoor nie, ek wil ook sien hoe gebid word.

Dit was vir my mooi en aangrypend. Ek het gedink hy praat met die Here daar lángs hom. Hy het oop oë gebid en na alles gekyk waarvoor hy dankie gesê het. Hy het alle kante toe beduie terwyl hy dankie gesê het en toe hy gebid het oor die Korentepoortdam wat 80% vol is, het hy heel omgedraai en dam se kant toe beduie. Ek dink dit het Vader laat glimlag want daar was opreg voor Hom gejubel en gejuig.

RSG se aanddiens was so ‘n bietjie anders. Van die boodskap kan ek, eintlik ons, tot ons skande, maar met goeie rede nie veel onthou nie. Wat ons nie maklik sal vergeet nie, was Doktor Dominee se inleiding en slotgebed. Dit was waarskynlik weens die mens se aangebore, natuurlike geneigdheid tot die kwaad. Om juis dít te doen wat jy nie wil of moes doen nie.

Ter inleiding het hy ‘n storietjie vertel. Hy vertel toe van Tjippie, ‘n kanarie wat in ‘n koutjie aangehou is of dalk wás want Tjippie leef dalk nie meer nie. Die stof en saaddoppies en goed het in die hok opgehoop en die eienaar, wat besig was om die huis skoon te maak, het gedink om sommer die koutjie ook skoon te suig. Terwyl die stof opgesuig is, het die eienaar se foon gelui en met die gesukkel om die foon in die hande te kry, het iets verkeerdgeloop.

So met die terugkyk na die koutjie was dit net “sjoep” en toe’s die kanarie weg. Sy het die masjien afgeskakel, die stofhouer se deksel afgepluk en daar sit Tjippie toe, nog lewend, maar al verstikkende in die stof. In plaas daarvan dat ons geskok reageer het, het die prentjie van die verskrikte voëltjie ons laat lag. Ekskuus Tjippie!

Sy gryp toe die voëltjie en haas haar kombuis toe, waar sy die ou dingetjie onder die lopende kraan afgespoel het. Toe sy daarmee klaar was, was daar net so ‘n bewerigheidjie, maar darem nog lewe. Foeitog, maar dit neem nie die snaaksheid van die storie weg nie. Veral nie in die kerk, vóór die preek nie.

Al wat die ou lewetjie kon red was ‘n haardroër. Sy gryp toe die haardroër en begin die voëltjie droogblaas en na ‘n rukkie was daar weer belowende tekens van lewe en na ‘n ruk het sy hom weer in die koutjie teruggeplaas. “Máár,” seg die dominee, “Tjippie wou nie meer sing nie. Hy’t net gesit en staar.” Hoe dominee die storie gaan toepas, het ons laat wonder en weer aan die lag gekry. Amper onbedaarlik!

Nie omdat ons wóú nie, het ek en my ou Mede-luisteraartjie onbeskaamd, onkerklik en ongereformeerd gelag oor die storietjie wat eintlik vir ons skreeusnaaks was. Seker maar die ding van as jy in kerk begin lag, kan jy nie ophou nie.

Toe kom die Skriflesing. Die dominee lees uit die boek Job. Hy lees uit Job 2 uit die stuk waar Job se vriende, ná al sy teëspoed, gekom het om hom te ondersteun. Sy onbeskryflike teëspoed het hom sprakeloos gelaat. Job 2:13. Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit, sonder om ‘n woord met hom te praat want hulle het gesien dat sy smart baie groot was.

Nogal aandoenlik en seker nie rede om te lag nie, sou ek reken, máár: Die dominee het uitgewei oor Job se ellende en toe het hy teruggewerk na sy aanvanklike inleiding en hy sê ‘n ding wat nie komies bedoel was nie. “Broers en Susters en nou kyk ons weer na Tjippie. Tjippie wou nie meer sing nie en Job wou nie praat nie. Die ellendes was net te groot.”

So is dit vandag. Die aanslae teen ons is erger as ooit tevore en dis iets waarteen ons ons moet staal. Dominee het sterk daarop gewys dat die stryd gestry moet word en die luisteraars gemaan tot geloofsvertroue en volharding. So ernstig het hy gepreek dat ons aandagtig geluister het. Ons wou nie meer lag nie. Soos Tjippie en soos Job.

Toe kom die slotgebed en daar loop weer ‘n dingetjie verkeerd. ‘n Groot mate van stemmigheid het geheers en ek het aanvaar ek en my Mede-laggertjie het klaar gelag en toe word die lagsnellertjie weer getrek. Dit was net die onverwagse prentjie wat in ons gedagtes opgetower is wat die stemmigheid verbreek het.

Dominee het uit sy hart uit gebid en toe bid hy: Hemelse Vader, en nou bring ek al die Tjippies en die Jobs na U toe. Ontferm U oor elkeen van hulle …” Ek het so sydelings na my Mede-luisteraartjie geloer toe ek ‘n geluidjie hoor en toe sien ek haar onderdrukte proeslaggie. Dwarsdeur die gebed het ons onsself bedwing, maar toe hy Amen sê, toe lag ons verder.

Of dit nou regtig so snaaks was, weet ek nie, maar dat die inleiding en toepassing vir ons vreemd en skreeusnaaks was, was nie altemit nie. Ons moes seker maar stemmig sit en luister het, maar toe kom daai kerklag. Daai lekkerlag wat met die beste wil van die wêreld net nie onderdruk wíl word nie.

Die Sondag was egter nie tevergeefs nie, want dit wat van vroegoggend af op verskillende maniere in ons harte vasgelê is, het ons harte brandend gemaak en ons laat juig oor die goedheid van ons Vadergod.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Baie oulike storie.
Laat my verlang na my oom wat sendelingpredikant was en die boodskap kon oordra in die gemeente se taal en uitdrukkings wat vir ons natuurlik heerlik was om na te luister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.