Slimmer verbruikers oor feestyd

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Suid-Afrikaanse verbruikers het na verwagting vanjaar R204 miljard bestee oor die feestyd, al het hul besteding met sowat 10% gedaal gedurende Swart Vrydag in November. Dit beteken elke werkende mens in die land het sowat R5 706 bestee aan kos, drank, geskenke en vakansies. Die land het pas uit ʼn tegniese resessie beweeg en verbruikers het nie juis goeie vooruitsigte vir 2019 nie. Gelukkig raak verbruikers al slimmer in die huidige ekonomiese situasie waar hulle die rieme maar dun moet sny om prysstygings, soos byvoorbeeld in brandstof, te bekostig.

Wonga SA se navorsing onder 7 000 Suid-Afrikaners het einde verlede jaar gewys die meeste mense (76%) wat aan die peiling deelgeneem het, sou meer geld as gewoonlik oor Desember uitgee, wat beteken elkeen sou sowat R2 174 bestee aan kos en drank, R1 633 aan vervoer, R1 232 aan geskenke en R667 aan vermaak. Vergeleke met Bankserv Africa se jongste indeks, beloop die R5 706 byna ʼn derde van die gemiddelde Suid-Afrikaner se netto salaris, met Januarie, die langste maand in die jaar, wat nog wag.

Die helfte van die deelnemers het darem ʼn bonus gekry, wat die las moes verlig, terwyl ander uitbetalings van ʼn stokvel (25%) of spaargeld (37%) sou gebruik om Desember te oorleef. Van die deelnemers het 18% aangedui dat hulle geld sal moet leen vir die ekstra uitgawes.

“Suid-Afrikaners het baie skuld, maar die resultate van die opname wys dat baie mense darem goeie finansiële planne maak om te verseker hulle gaan die nuwe jaar in met ʼn goeie finansiële grondslag. Dit is egter kommerwekkend dat so baie mense op hul bonus staatmaak om te sorg dat daar genoeg is om van te lewe, aangesien hulle in die moeilikheid kan beland as die bonus nie betaal word nie,” sê Taryn Schmidt, hoofbemarkingsbeampte van Wonga SA.

Byna 40% van die deelnemers het aangedui hulle het vakansieplanne, met 75% wat by vriende of familie sou gaan kuier het. Durban is ʼn gewilde bestemming met 18% wat aangedui het hulle gaan soontoe, terwyl 11% op pad was Kaapstad toe. Van die mense wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, het 29% aangedui dit is te duur om te reis en 39% dat hulle moet werk.

Net meer as 70% van die deelnemers het aangedui hulle koop Kersgeskenke, met 98% wat vir familie koop en 25% wat ook vir vriende geskenke koop en 20% wat ook hulself sou bederf. Ten spyte van die oorvol winkels, het 81% gesê hulle gaan die winkels aandurf en 12% dat hulle liewer aanlyn gaan koop. Die meeste van hulle verwag egter nie dat iemand vir hulle moet toustaan nie: 32% het aangedui hulle wil liewer geld hê as geskenke en 27% koopbewyse, sodat hulle iets kan koop wat hulle werklik nodig het.

inkopies-aankope-sakke-vrou

Argieffoto: Gonghuimin468/Pixabay.com

Die land se ekonomie het effens gegroei in November volgens BankservAfrica se ekonomiese transaksie-indeks (BETI), wat moontlik die gevolg was van mense wat meer geld bestee het op Swart Vrydag.

Gedurende Desember verlede jaar het kleinhandelaarbesteding met 3,8% gegroei omdat die rand sterker en inflasie laer was, volgens Mastercard SpendingPulse, die sterkste maandelikse toename in besteding in die land sedert Mei 2013. Die ekonomiese toestande in die land het egter nie soos verwag verbeter nie en verbruikers moes elke sent twee keer omdraai.

Suid-Afrikaanse verbruikers het al geleer hoe om na hul swaarverdiende geld om te sien oor die afgelope dekade met alles, van kos tot brandstof, wat jaarliks duurder raak. Die jongste navorsing van BMI wys dat verbruikers hul huiswerk doen voordat hulle geld uitgee.

Hulle vergelyk pryse en sal liewer verder ry om by ʼn ander winkel as die naaste een te gaan koop. Verbruikers is ook meer geneë om minder van hul gunstelingproduk te koop as dit te duur is, of dit met ʼn goedkoper keuse te vervang. Die bekendste handelsmerke voer nie meer die botoon nie en verbruikers vervang dit met goedkoper soorte of selfs produkte wat die winkel se eie handelsmerk dra.

Verbruikers besef hulle moet hul beursies dig toe hou terwyl dit sleg gaan met die ekonomie. Luukshede soos badprodukte, dubbellaagtoiletpapier, kaassmeer en roomys verskyn nie meer op maandelikse inkopielyste nie. Wanneer verbruikers wel hierdie produkte koop, maak hulle seker hulle gebruik dit spaarsamig of kry alternatiewe daarvoor.

Vir spesiale geleenthede, soos Kersfees, huiwer verbruikers egter nie om hul hand diep in die sak te steek en die duurder handelsmerke te koop nie om vriende en familie te beïndruk en dit te laat lyk asof alles klopdisselboom gaan.

Nou is dit terug na die soutmyne en streng begrotings en kleinhandelaars moet weer van vooraf begin om planne te beraam om hul produkte op verbruikers se inkopielysies te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.