Só skep jy ʼn positiewe toekoms danksy lesse uit 2020

Argieffoto (Foto: Shad0wfall/Pixabay)

Deur Daan Potgieter
Hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON)

Januarie 2021. Die eerste maand is byna op sy rug en tot dusver was daar nog geen werklike goeie nuus nie. Selfs die welkome somerreën is vir party mense te veel!

Nuwejaarswense is nog in omloop en ʼn gelukkige, voorspoedige en gesonde nuwe jaar word oral vir almal toegewens. Vir baie mense bestaan daar egter twyfel of daar nog enigsins geluk in die lewe oor is en baie mense het ʼn siniese uitkyk op en verwagting vir 2021. Hierdie wending en uitkyk is te verstane gegewe die agtergrond van ʼn onseker 2020.

Aan die begin van 2021, met nog nét negatiewe nuus, pandemie-vrees en onsekerheid, is dit dalk vir die meeste mense moeilik om gelukkig te wees. Ons ervaring van 2020 bepaal immers ons verwagtinge vir 2021. Aristoteles het gesê dat geluk die betekenis en doel van die lewe is, die sin en einde van menslike bestaan.

In die lig hiervan moet ons die positiewe in die lewe binne die konteks wat deur 2020 se uitdaging geskep is, kan sien en daaruit geluk en sin vir 2021 skep. Sinies kan ons redeneer dat om “negatief” te wees die enigste positiewe in 2020 was!

As ons ʼn positiewe toekoms wil skep, sal ons dit self moet bepaal. Skep uit ervaring en lesse wat geleer is – hou aan om op die positiewe dinge te fokus. Jy sal dalk nou tereg jouself die vraag afvra watter positiewe ervarings of lesse ons uit 2020 kan neem. Hier is ʼn paar wat vir my opvallend was:

Aanpasbaarheid: Ons het weereens besef dat die mens onder byna alle omstandighede kan aanpas en oorleef. Dit is weens ons aanpasbaarheid dat ons verandering kan koester. Ons kan nie die verandering in die wêreld stop nie, maar ons kan bepaal hoe ons daarop reageer. Ons kies immers om te oorleef en gelukkig te wees.

Kommunikasie: Voor 2020 het die mens afgestomp geraak. Ons het verleer hoe om te luister. Kenmerkend van ons kommunikasie was dat ons geluister het om te hoor waar die gaping is, sodat ek myself weer kon hoor. Dit was meer “ek” as “ons”. Luister is sekerlik dié belangrikste beginsel van kommunikasie en gelukkig is ons in 2020 gedwing om weer te luister, om regtig te hóór wat ander sê. Dit bring ons by die volgende positiewe les wat ons uit 2020 kon leer:

Interpersoonlike verhoudinge: Ons het begin om weer tyd en aandag te gee aan dit wat werklik belangrik in die lewe is. Ons het die belangrikheid van interpersoonlike verhoudinge besef en effe harder daaraan gewerk. Vryetyd het een van die kosbaarste kommoditeite geword.

Ons het persoonlike vaardighede ontdek en ontwikkel. Digitale uitdagings soos eindelose Zoom- en Google Teams-sessies, aanlyn leer en aanpassing van ons kommunikasiestyle om by omstandighede aan te pas het ons verryk en laat groei en die grense van ons kreatiwiteit laat groei.

Einstein is eens gevra wat die geheim van ʼn gelukkige lewe is. Almal het ʼn lang teorie verwag, maar hy het dit eenvoudig gestel: “As jy ʼn gelukkige lewe wil hê, bind dit aan ʼn doel, nie aan mense of goed nie.”  Geluk vir 2021 gaan bepaal word deur die doelwitte wat ons stel en die keuses wat ons uitoefen.

Einstein se formule vir geluk was eenvoudig: werk – dit skep ʼn skans of skuiling teen die storms. Solank as wat ek in staat is om te werk, moet ek nie kla nie. Werk is die enigste ding wat substansie aan die lewe bied – aldus Einstein.

Verder stel hy geluk as die proses wanneer ons oor die toekoms droom. Stel doelwitte en werk met ywer daaraan, ten spyte van omstandighede. Die mens is die enigste skepsel wat die vermoë het om te droom en om verbeelding te gebruik.

Gedurende 2020 het ons weer die waarde van eenvoudige aspekte ontdek. Sokrates het dit soos volg gestel: “Die rykstes onder ons is dié wat met die minste tevrede is. Die beste dinge in die lewe is nie net gratis/verniet nie – dit is nie eers noodwendig dinge nie.”

Ons is die skeppers van ons eie geluk, nie die bestuurders van ons omstandighede nie! Dit is die positiewe uit 2020 waarop ons in 2021 kan en moet bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.