So word jou regte beskerm wanneer jy krediet gebruik

Omdat inkomstes nie werklik groei nie, verhoog verbruikers hul inkomste met ongesekureerde skuld. (Foto: Maroela Media)

Die wêreld het op 15 Maart Wêreldverbruikersregtedag gevier met die tema “Regverdige digitale finansies” en Suid-Afrika se kredietwaghond, die Nasionale kredietreguleerder, het dit ʼn stappie verder geneem en verbruikers ingelig oor hul regte in terme van die Nasionale Kredietwet. Ina Opperman het gaan kyk hoe die Nasionale Kredietwet jou regte beskerm.

“Digitale tegnologie het die hele finansiële landskap verander deur alle finansiële transaksies, insluitende krediet, geriefliker, eenvoudiger en toegankliker te maak vir verbruikers, maar terselfdertyd word verbruikers se regte bedreig,” sê Boitumelo Geldenhuis, waarnemende bestuurder vir opvoeding en kommunikasie by die reguleerder.

Die pandemie het ongelukkig ʼn invloed gehad op verbruikers se finansies en verbruikers het so desperaat geraak dat hulle baie makliker en meer impulsief krediet sal uitneem. “Daarom wil ons verseker dat alle verbruikers wat aanlyn transaksies doen, ingelig is sodat hulle dit veilig kan doen en hul regte en inligting beskerm, terwyl die transaksies ook slim en volhoubaar is,” sê Geldenhuis.

Die Nasionale Kredietwet beskerm verbruikers op verskeie maniere, maar verbruikers moet ook hulself beskerm deur te sorg dat hul krediettransaksies aan die vereistes van die wet voldoen.

Kredietverskaffers moet geregistreer wees

Alle kredietverskaffers moet by die reguleerder registreer en moet die regulasies wat in terme van die wet gemaak is om na te gaan of verbruikers krediet kan bekostig, nakom.

Kredietregulasies

Die kredietregulasies help kredietverskaffers om te besluit of jy krediet kan kry en dit beskerm jou teen roekelose uitleenpraktyke. Volgens die regulasies moet kredietverskaffers praktiese stappe doen om jou inkomste na te gaan deur ten minste die laaste drie maande se salarisstrokies na te gaan of die bankstate van die laaste drie maande as jy nie ʼn salaris ontvang nie.

Die kredietverskaffer moet ook bepaal of jy die paaiemente kan bekostig nadat belasting, werkloosheidsversekering, onderhoud en alle ander verpligte betalings, insluitend paaiemente op krediet, afgetrek is. Inligting van ʼn kredietburo moet hiervoor gebruik word.

Verder moet kredietverskaffers ook praktiese stappe doen om te verseker dat jy krediet gebruik vir die doel waarvoor jy dit leen. As jy reeds skuldberading kry, mag jy nie nog geld leen nie.

Roekelose uitlening

Volgens artikel 80 van die wet is ʼn kredietooreenkoms roekeloos indien die kredietverskaffers nie seker maak of jy dit kan bekostig om die lening af te betaal nie, of ten spyte van die feit dat dit blyk dat jy dit nie kan bekostig of nie die uitwerking daarvan begryp nie, steeds die lening goedkeur.

Artikel 81 bepaal jy moet eerlik wees wanneer jy aansoek doen vir krediet sodat die kredietverskaffer al die nodige inligting het om te besluit of krediet toegestaan sal word. Kredietverskaffers mag nie roekeloos geld uitleen nie en moet:

  • seker maak jy begryp die risiko’s en koste verbonde aan die kredietverskaffing en verstaan jou regte en verpligtinge wat daarmee verband hou
  • jou terugbetalingsgeskiedenis vir kredietooreenkomste nagaan
  • seker maak van jou bestaande finansiële vermoë, vooruitsigte en verpligtinge en
  • kyk of daar redelike gronde is om ʼn onderneming suksesvol te bedryf indien dit is waarvoor jy krediet nodig het.

Maar ʼn kredietverskaffer is volgens die wet nie skuldig aan roekelose uitlening indien jy oneerlik was nie en indien die Verbruikerstribunaal bevind dat jou oneerlikheid ʼn wesentlike invloed gehad het op die kredietverskaffer se vermoë om vas te stel of jy dit kan bekostig.

Die howe kan jou regte en pligte met betrekking tot die kredietooreenkoms tersyde stel of die ooreenkoms opskort en jy hoef dan volgens artikel 84 van die wet nie verder te betaal nie.

Kan jy ʼn lening bekostig?

Volgens artikel 82 van die wet moet ʼn kredietverskaffer regverdig en objektief besluit of jy krediet kan bekostig. Regulasie 23A is later bygevoeg en bepaal dat kredietverskaffers verbruikers se bestaande finansiële vermoë moet bepaal om te kyk of hulle die terugbetalings kan bekostig.

Kredietverskaffers moet jou inkomste voor aftrekkings bevestig met die laaste drie salarisstrokies van salaristrekkers of die bankstate van die laaste drie maande wat die salarisinbetalings wys, of dokumentêre bewys van inkomste, of die laaste drie maande se bankstate indien jy nie ʼn salaris verdien nie.

As jy vir jouself werk, of werk waar jy nie bewys van inkomste het nie, moet jy die laaste drie maande se bankstate indien of die jongste finansiële state.

Jy moet al jou finansiële verpligtinge aandui en die kredietverskaffer moet dit volgens die voorgekrewe tabelle bereken saam met jou vooruitsigte, soos inkomste voor aftrekkings, statutêre aftrekkings, kredietbetalings, onderhoud en ander verpligte uitgawes om die bedrag te kry wat beskikbaar is vir terugbetaling van nuwe skuld.

Kredietwenke

  • Gaan die registrasienommer van die kredietverskaffer na by die reguleerder en onthou onwettige skemas het nie ʼn registrasienommer nie of gebruik vals nommers.
  • Wettige kredietverskaffers vra nie dat jy enige bedrag betaal om ʼn lening te kry nie en dit is onwettig om dit te doen. Kredietverskaffers kan wel vra dat jy ʼn aanvangsfooi betaal, maar jy betaal dit eers wanneer die lening toegestaan is.
  • Oppas vir kredietverskaffers wat lenings op teksboodskappe aanbied, veral as hulle beweer die lening is “gewaarborg”.
  • Oppas ook vir maatskappye wat aanbied om vir jou ʼn lening “te vind”.
  • Lees alle dokumente goed deur voordat jy ʼn lening aanvaar. Onwettige skemas laat jou dikwels maandeliks aansluit vir iets soos ʼn begrafnispolis en as jy nie betaal nie, begin hulle jou pla met dreigoproepe.
  • Moenie jou bankbesonderhede gee wanneer jy aanlyn vir ʼn lening aansoek doen nie.
  • Loop lig vir aanbiedings vir krediet wat woorde bevat soos “no credit checks”, “blacklisted welcome” en “free credit”.
  • Oppas ook vir verskaffers wat vra vir “upfront fees” en moenie dit betaal nie.
  • Lees die voorwaardes noukeurig deur voordat jy klik om aan te dui dat jy dit gelees het.
  • Sorg dat jy die totale koste van die krediet waarvoor jy aansoek doen, verstaan voordat jy die aansoek onderteken. Die koste van krediet sluit rente, eenmalige leningsfooie, maandelikse diensfooie en kredietlewensversekering in.
  • Voordat jy ʼn aansoek om krediet teken, kry ʼn staat en kwotasie wat wys presies hoeveel jy op die ou end vir die krediet gaan betaal.
  • Die wet bepaal dat jy die reg het om inligting te kry in eenvoudige en verstaanbare taal en redes te kry waarom jou aansoeke afgewys word indien krediet nie toegestaan word nie.
  • Ongeregistreerde kredietverskaffers of uitleners vra gewoonlik buitensporige rente wat nie voldoen aan die bepalings van die wet nie. Hulle maak ook nie seker dat jy die maandelikse betalings kan bekostig nie en hulle gebruik ongeoorloofde taktieke om te sorg dat jy betaal, soos om jou identiteitsdokument, bankkaarte en geheime nommers of Sassa-kaarte te hou.
  • Wees eerlik wanneer jy vir krediet aansoek doen en gee korrekte inligting oor jou finansiële status.
  • Onthou die goue reël: “As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit.”

Kla hier:

Vir navrae of klagte oor krediet, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Whatever jy doen, bly weg van skuld. Dit is die banke se manier om die laaste druppel bloed uit jou te wring, nadat SARS klaar is met jou. Skuld is nie goed nie, al sê wie wat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.