Solidariteit se klag teen die regering se rasmalheid is gereed

(Foto verskaf)

Suid-Afrika is die mees rasgereguleerde land ter wêreld. Ras oorheers ons mooi land. Die regering dink dat ras selfs die reg kan troef. Suid-Afrika word ʼn rassestaat en die Grondwet word ingespan om dit ondersteun, sê die Solidariteit Beweging.

ʼn Laagtepunt is in Suid-Afrika se rasse-ideologie bereik toe hulp tydens die Covid-19-pandemie op grond van ras toegeken is. “Suid-Afrika se obsessie met ras druis teen internasionale konvensies en riglyne oor rassediskriminasie in. Minderhede word soos tweedeklasburgers behandel. Die internasionale forums en regerings moet die nodige uitsprake lewer en stappe teen die Suid-Afrikaanse regering doen.”

Die Solidariteit Beweging sê dit is tyd dat ons voor die wêreld nee sê vir rasmalheid. Solidariteit gaan ʼn klag by die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) indien en gaan ook mosies oor die regering se rasmalheid by verskeie Europese parlemente indien. Om daarmee te slaag moet Solidariteit massasteun vir die klag en mosies kan bewys.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Foto verskaf)

Dit volg op die sukses wat Solidariteit in 2016 by die VN behaal het. Nadat Solidariteit voor CERD verskyn het, het die komitee kritiek teen die regering se rasseklassifikasie uitgespreek en gevra dat die regering aan die komitee moet verduidelik waarom rasseklassifikasie steeds gebruik word.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het in 2018 ʼn verslag uitgebring waarin gesê word dat die regering die land se regstellendeaksiewetgewing moet aanpas om aan die VN se aanbevelings te voldoen, spesifiek wat rasseklassifikasie en ʼn meer genuanseerde benadering ten opsigte van regstellende aksie betref.

Die regering het nie aan die aanbevelings van óf die Verenigde Nasies óf die SAMRK voldoen nie. Dit plaas Solidariteit nou in ʼn baie sterk posisie om ʼn formele klag teen die Suid-Afrikaanse regering by internasionale platforms, insluitende die VN en Europese parlemente, te lê.

(Foto verskaf)

Solidariteit se klag teen die regering se rasmalheid is gereed om virtueel ingedien te word op 27 Julie. Laai die massaklag af: klik hier.

Vir die klag om suksesvol te wees, moet daar massasteun aan die VN kan bewys word. Voeg jou stem by, maak die klag ’n massaklag! Sê hier nee: https://solidariteit.co.za/cerd/

Kyk hier:

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.