Sonde met die bure

Argieffoto (Foto: Dianne Hope/Pixabay)

Deesdae is ons mos almal uitgeleerd en so gedweë: ons lyk geheel en al soos die span koninklikes van doer oorkant die waters. Maar destyds was dit anders. Ook in onse buurtes was daar wonderlike mense. Dikwels het mens sondes met die lot gehad maar meestal was dit net een lekkerte van gejil en gelag.

So het ons ʼn ou wewenaar-oompie wat ons een buurman was. Geheel geleerd met ʼn deftige Ingelse naam en al. ʼn Vrome man van boeke maar hy het een probleempie gehad: hy hou nie van bad nie. Vergeet nog van baard en hare en tande-was. So loop hy week in en week uit met dieselfde klere aan. Soos hy brekfis val daar stukkies mieliepap of eiergeel op sy baard en daar bly dit sit tot volgende maand sodat die ou later soos ʼn leeumannetjie lyk en ruik. Een jaar het mamma vir die oompie ʼn nuwe hemp vir Krismis gegee. So kom bedank hy ons op Ou-Krismis met plat-gekamde hare en baard wat ewe plegtig gesnoei is. Maar die nuwe hemp het hy sommer so bo-oor die ou lot aangetrek so die leeu-reuk kom beur nog daar uit. Ek het by hom ʼn pragtige ou Hollandse Bybel gekry want hy is al voort.

Net neffens hom boer daar ʼn oom en antie wat destyds uit Zambië getrek en hulle hier kom inwortel het. Die antie was ʼn engel self en sy kon die lekkerste boerbrode bak in ʼn buiteoond. Na alle jare glo ek steeds dat ʼn vars boerbrood-korsie met plaasbotter die poorte na die saligheid is. Sit nog net ʼn blertsie heuningkoek bo-op en dan is mens daar binne. In ieder geval, die antie ken die mooiste Hallelujas en was baie lief vir sing. Soos jy weswaarts deur die wingerdlande beur na hulle plaashuis, hoor jy die welkome klanke van “Een goue môre”. Ek het dikwels daarheen verdwaal om net betyds te wees as die brode uit die bakoond kom.

Maar die oom was anders. Mens-moeilik en dwars. By die plaashek het hy sommer so met sy vinger op ʼn stuk sinkplaat ʼn belangrike nota geskrywe: “Privaat pad. Geen toegang vir rusverstoorders, moeilikheidsoekers, fortuinvertellers en assuransie-agente nie. Op las” en dan die oom se name. Saterdae in die somer het hy hom bo-op die bult met sy Lee Metford sit gemaak en sy vrugteboorde vanuit die hoogtes bespied. En stap jy te stadig met die pad daar verby dan laat loop die oom so ʼn paar skote hier bokant jou kop deur die takke. Dan hol mens jou skoon uit jou skoene uit. Hy is ook al voort.

Anderkant die kanaal na die suidekant woon daar ʼn omie en antie. Sy het sulke wilde geel hare gehad en om een of ander onverklaarbare rede het ons haar “Tannie Kattres” genoem. Wat dit sou beteken kan net ʼn kind jou verklaar. Maar die oom was “Oom Beskuitjie”, seker maar oor sy lekker boepens – ek weet nie meer nie. Liewe mense maar so nou en dan het hulle stry gekry. So kom hol die antie een donker nag daar by ons aan, sommer so blootsvoets. Later gaat die grootmense ook slaap en dis doodstil en giet-donker. Toe klop daar ʼn mens aan die voordeur. Ons twee seuns storm saam met pa na die deur en hier staan oom Beskuitjie. Hy’t skynbaar aan’t soek geraak na tannie Kattres maar die ou Vaaljapie-trekkertjie het geen ligte nie en toe ry hy binne in die kanaal in. Nou kom vra hy hulp. Die trekkertjie is later daar uitgesleep en toe maak pappa die Lister brand en mamma sit koffie op die Aga en oom Beskuit en tannie Kattres maak vrede. Die volgende dag was alles weer salig daar teen die Troe-troe-riviertjie. Hulle is ook al voort.

Dit was nie nodig vir sielkundiges en kopdokters nie. Onse mense het die probleme sommer so oor die plaastelefone opgelos terwyl die hele buurt toehoor. Ons nommer was 2804 – dit was ons eie persoonlike nommer – vier lang luie, maar die hele buurt het help luister en sommer help raadgee ook.

Ons het mekaar geken: liegstories en geheime, grootheidswane, skande en vreugdes ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stephan de S ·

Lekker Koos….het amper gedink jy het ophou skrywe! Ja, ons kode was vier kortetjies …..het self enkele kere ingeluister in die hoop om die oulike buurdogter se stem te hoor.

Wielspore ·

Baie mooi storie, het vandag die eerste keer die word “blootsvoets” raakgelees, alhoewel hy sinvol is ken ek hom nie. Gaan hom google….
Skryf gerus nog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.