Sowetodag – ʼn oudjoernalis onthou

Die Soweto-jeugopstande in 1976 Foto: SAHistory.org.za

Die Soweto-jeugopstande in 1976 Foto: SAHistory.org.za

Deur Pierre Massyn, oud-TV-nuusverslaggewer

Sowetodag, het ons dit in die nuuskantoor genoem. “Pierre, vat vir Rusty en gaan doen die storie,” kom die opdrag van die nuusredakteur. Rusty van Druten kon toor deur ʼn lens, en soos alle SAUK TV-nuuskameramanne kon hy die hel uit ʼn Peugot 504 ry.

Ek het in 1977 by TV-nuus ingestap, dieselfde jaar dat ek klaar geswot het in Bloemfontein. Pas die vorige jaar was Soweto nog in vlamme, toe Suid-Afrika se politieke landskap onherroeplik verander is oor die studente-opstand.

Hulle was drie swaargewigte in die SAUK se topbestuur: Jan van Zyl, Kobus Hamman en Sakkie Burger. Al drie Broederbonders, maar hierdie feit was die laaste ding in my kop toe ek myself ongenooid in Van Zyl se kantoor in die hoë gebou in Henleystraat, Aucklandpark, gaan voorstel het met die vae plan om dalk as TV-nuusman ʼn werk te kry. Hulle peper my met vrae. “Hoe sal jy as verslaggewer ʼn opstand weergee?” vra Hamman.  “Is jy objektief?” kom dit van Van Zyl. “Kan jy gebalanseerd verslag lewer?” is Burger se vraag. Burger, die broer van Staal Burger van Brixton Moord-en-Roof, soos ek spoedig sou agterkom. “Jy moet net een ding besef, en dit is dat dit verantwoordelikheid verg om ʼn storie te dek wat miljoene mense se lewens direk raak,” word dit by my ingeprent. Ek stem met alles saam, belowe plegtig ek sal die waarheid en net die waarheid laat seëvier as hulle my sou aanstel…

Ek het dikwels in Soweto gekom vir stories. Hier was ʼn skool beskadig, daar was ʼn vlagpaal met die vlag van die ou Suid-Afrika afgesaag. Nou en dan was daar op dagga en Mandrax-tablette beslag gelê… maar daar was deurentyd politieke ondertone. Die pot was aan die kook.

16 Junie 1978. Die Regina Mundi-kerk, Rockville, Soweto. Ek en Roger Harris van CNN is die enigste twee wit gesigte in ʼn swart see. Rusty het prontuit gesê hy laat hom nie vermoor nie. Dit sing en dans en skree en fluit. Die woede in die lug is tasbaar. Woede teen die wit heerskappy, teen Bantoe-opvoeding, teen die paswette. En ja, woede teen die Boer en sy taal, Afrikaans. Vandag sê ontleders soos prof. Willie Esterhuysen die ANC het die jeug in 1976 gebruik en dikwels misbruik vir hul eie politieke gewin. Op Monitor vertel Harald Pakendorf op 17 Julie 2016 dat een van die grondoorsake vir Soweto 1976 eintlik die verhoging van bustariewe in die Vaaldriehoek was.

Maar toe was dit ek en Soweto… In Regina Mundi is daar ʼn priester in ʼn purper gewaad op die verhoog. Hy is die compère maar eintlik die aanhitser. “Amandla!” dreun dit dat die kerkbalke antwoord gee. Die aanhitser maak ʼn skaars merkbare gebaartjie met sy kop. Vir ʼn oomblik stop die gejil. Hulle gryp vir Roger Harris, ruk sy televisiekamera uit sy hand en pluk die films uit. Hulle boender hom by die deur uit. Nou is dit my beurt. Ek staal my teen die oormag. Ses fris jong mans druk my teen die kerkmuur vas. “We are in doubt about your identity,” vertel die hoofindoena my terwyl hy na my SAUK TV-ID-kaartjie met my foto daarop wys. Die bewyse teen my is verdoemend. Ek werk vir die propaganda-arm van die regering, die onderdrukker. “Get out now if you want to stay alive,” beveel hy my. Onder luide toejuiging takel hulle my toe en marsjeer my by die deur uit, stamp my in Mkizistraat in.

Ek skat ek was gelukkig. In daardie dae was Soweto ʼn gewelddadige plek. Nie ʼn plek waar ʼn wit joernalis sommer sy gesig sou wys nie. Buite die kerk sit ander verslaggewers veilig in hulle karre, toegesluit, om die gebeure van ʼn afstand dop te hou. Ek klim in die Citizen se voertuig. Chris Olckers en ek was bevriend. Hy stop my ʼn bier in die hand. “Vertel, Pierre.” Chris maak sy notas.*

Nou borrel die massas uit die kerk. Hulle is kwaad. Hulle soek bloed. Soweto verval in ʼn see van anargie. Casspirs, honde, traanrook en klippe. Sommer baie. Malende histeriese mense. Tonele soos in Apocalypse Now speel hulle voor ons af. “Why are you rioting?” waag ek dit aan ʼn groep gillende jong meisies. “We want our land!” kom die antwoord. Ek het toe al begin wonder of alles werklik oor Afrikaans gegaan het.

“Alle lede van die media verlaat die gebied nou!” So bulder ʼn polisie-luidspreker die volgende oomblik. In Afrikaans en Engels. Alles gebeur geweldig vinnig, maar tog voel dit asof ek binne-in ʼn rolprent staan wat teen stadige aksie gespeel word. Langs my loei ʼn sirene, ʼn polisieman in kamoefleerdrag skop ʼn deur oop. ʼn Hond, ʼn Duitse herdershond, blaf skerp en aggressief. Seth Mazubuko vertel later dat die eerste wese wat in 1976 gewelddadig gesterf het, ʼn polisiehond was wat die skare doodgeslaan het…

Ek het Soweto nie dadelik ontruim nie, was dalk te oorywerig in die uitvoering van my pligte. “Jy’s in arres!” Vir die tweede keer daardie dag word ek gegryp, die keer deur polisiehande. Hulle prop my voor in hul voertuig. Daar is ʼn lid langs my, nog een agter my. Die man agter my druk die loop van sy aanvalswapen teen my agterkop vas. Die adrenalien pomp. Hulle neem my na die Protea-polisiestasie. Daar is wit en swart polisiemanne op ʼn gereedheidsgrondslag. Hulle ondervra my. Maar ek hou een troefkaart. Ek ken brig. Jan Visser. Visser het die SAP se eerste amptelike Direktoraat van Openbare Betrekkinge gestig. Ek het Jan Visser op TV geplaas met ʼn onderhoud. Dit was my redding. Hulle laat my vry met ʼn waarskuwing.

Ek en Rusty was laatmiddag betyds terug in Aucklandpark om die storie aan miljoene kykers uit te saai. “Jy’t nogal guts,” sê Sakkie Burger.

Ek het rede om Sowetodag 1978 nooit te vergeet nie…

*Ingrid Pepler, verslaggeefster van Beeld, het ook die betrokke voorval gedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Christo ·

Jammer Pierre …. gelukkig het jou insette vryheid teweeggebring van n superliggewig !

Dawie ·

Ja, vir almal wat destyds betrokke was, was dit mal, chaotiese tye wat niemand ooit weer wil beleef nie. Ongelukkig dit wat jy saai sal jy ook maai. So is dit weer besig om te gebeur.

Hendrik ·

Pierre wat is jou mening oor die huidige S.A? Ons almal is al deur baie dinge en jy is nie die eenste een nie. Ons beweeg aan en wat in die verlede gebeur het kan jy nie verander nie. Netso moet ons ‘n toekoms gee aan ons kinders wat na ’94 gebore is en wat nou onder afdwingende wetgewing plek vind in die arbeidsmag. Wat dink jy?

Lious ·

Ok ek belowe om nooit van Sowjeto dag te vergeet nie en ek sal ewig skuldig voel oor die arme bloedtjies se vreeslike lyding. Dat dit nie oor Afrikaans gegaan het nie, maar oor die uitwissing van die Boer is vir die meeste van ons baie lankal glashelder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.