Spandau se oorlogsmisdadiger-tronk

‘n Fees word by die Zitadelle in Spandau gehou. Foto: Pixabay

Spandau is die mees westelike voorstad van Berlyn (en waar die outeur tans woon). Die oorspronklike stad is daar aangelê waar die Spreerivier, wat deur die middel van Berlyn vloei, in die groter Havelrivier mond en wat aan die westekant van Berlyn raak.

Spandau was dus strategies geleë en het om dié rede ook ’n garnisoen gehuisves. Uit die 17de eeu dateer die groot Zitadelle, ’n vesting wat nogal vergelyk met die kasteel in Kaapstad en wat Spandau se bekendste baken is. Spandau is selfs vroeër as Berlyn gestig, in 1197, maar omdat Berlyn later die hoofstad van Pruise geword het, het dit vinniger gegroei en het Spandau daarom sy selfstandigheid verloor en is in die vroeë 20ste eeu by Berlyn em omstreke ingelyf.

In die tweede helfte van die 20ste eeu is Spandau veral geassosieer met die tronk van die Nazi-oorlogsmisdadigers. Direk ná die Tweede Wêreldoorlog is die belangrikste Nazi-leiers wat nog geleef het en in hegtenis geneem kon word, in die opspraakwekkende Nuremberg-oorlogstribunaal deur regters van die vier oorwinnaars, naamlik die VSA, Brittanje, Sowjetunie en Frankryk, verhoor en veroordeel.

Die mees bose leiers – Hitler, Goebbels, Himmler, Bormann en Heydrich – was egter nie daar nie, omdat hulle almal reeds dood was. Die oorblywendes wat verhoor is, was veral ministers en militêre leiers. Van die 24 is die helfte gehang, maar twee van hulle, Göring en Ley, het voor die voltrekking van die oordeel selfdood pleeg. Drie is vrygespreek en sewe is ’n lang (of selfs lewenslange) tronkstraf opgelê. Hulle was admiraal Karl Dönitz, hoof van die vloot en ná Hitler se selfdood die aangewese opvolger; Albert Speer, minister van bewapening en Hitler se persoonlike argitek; Walther Funk, minister van ekonomiese sake en president van die Reichsbank; Rudolf Hess, adjunkpartyleier van Hitler, maar reeds sedert 1941 in Britse gevangenskap; Konstantin von Neurath, diplomaat en goewerneur van Bohemia; admiraal Raeder, hoof van die vloot (voor Dönitz); en Baldur von Schirach, leier van die verskeie Nazi-jeugorganisasies.

Hierdie sewe wat elk ’n lang tronkstraf opgelê was, moes saam gevange gehou word. Dit moes in Berlyn wees, die stad wat deur al die vier oorwinnaars in vier sektore opgedeel en (ten minste aanvanklik) gesamentlik geadministreer is.

In die Britse sektor, wat ook Spandau ingesluit het, was ’n militêre tronk geleë wat reeds in die 19de eeu deur die Pruise en later ook deur die Nazi’s gebruik is. Dit is as die geskikte plek beskou, al was dit eintlik veels te groot vir slegs sewe gevangenes. Al was dit in die Britse sektor, het die oorwinnaarsmagte mekaar maandeliks afgewissel met die bestuur en bemanning van die tronk. Dit was trouens een van die min plekke waar die drie Westerse magte aan die een kant, en die Sowjetunie aan die ander kant, saamgewerk het. Andersins was hulle tydens die Koue Oorlogtydperk, wat op die Tweede Wêreldoorlog gevolg het, vyande.

Die tronk in Spandau. Foto: Bauamt Süd, Einofski/Wikimedia Commons

Die gevangenes is aan ’n streng tronkroetine onderwerp en ingeperk, maar nie mishandel nie, alhoewel die gevangenes onder die Russe beduidend harder hanteer is. Hulle is een vir een vrygelaat soos hul straf uitgedien was of hulle weens gesondheids- of ouderdomsredes begenadig is: Neurath, Raeder, Dönitz en Funk in 1954, 1955, 1956 en 1957, onderskeidelik; Speer en von Schirach in 1966. Net Hess, wat lewenslank gekry het, is nooit vrygelaat nie en vir meer as 20 jaar is die hele tronk met die steeds wisselende toesig van die oorwinnaarsmagte en met groot koste, bedryf. Alles vir een gevangene. Die Duitse regering en die Westerse magte was bereid om Hess weens ouderdom te begenadig, maar die Russe het voet by stuk gehou dat hy, as die laaste van Hitler se binnekring, moes boet. Hess het nooit sy Nazi-oortuigings afgelê nie of, soos Speer, met sy eie verlede afgereken nie, en het daarom ’n martelaar vir die Neo-Nazis geword. Hess se persoonlike tronkpastoor het egter in sy boek beskryf hoe Hess se fanatisme gewyk het en hy ’n persoonlike verandering ondergaan het. In 1987 het Hess blykbaar selfdood gepleeg deur hom (in die ouderdom van 93) aan ’n kragkabel op te hang. Daar bestaan ook bewerings dat dit moord was.

Daarmee is die laaste prominente Nazi dood en ’n era verby. Bykans onmiddellik ná sy dood is die tronkgebou totaal en al afgebreek, al was dit eintlik ’n argitektoniese erfenis uit 1881 en in die historistiese kasteelstyl gebou. Selfs die stene is fyngemaal en in die see gegooi sodat dit nie as versamelaarsitem vir die Neo-Nazis te dien nie.

Op die perseel is vandag ’n supermark en ’n parkeerplek. Slegs dele van die tuin en die omliggende militêre geboue is nog behoue wat nou vir ander doeleindes gebruik word. ’n interessante feit is dat die barakke waar die Britse soldate gewoon het en wat langs die tronk geleë was, die Smuts Barracks – vernoem na die Suid-Afrikaanse generaal en eerste minister Jan Smuts, wat ’n groot rol aan Britse kant in die Eerste- en Tweede Wêreldoorlog gespeel het.

 

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Therese

Wat ‘n interessante artikel!
Twintig jaar teen groot onkoste bedryf vir één oud-Nazi, en daarna word hierdie histories- en argitektoniese erfenis vernietig op erg kortsigtige wyse! Ai tog, dat die Duitsers van alle mense so optree.
Om die lot oorlogsmisdadigers in ‘n gewone tronk toe te sluit, sou minder moeite en ‘n groter straf wees. Hulle het sekerlik baie spesiaal gevoel al die jare.