Springbokke wen die Wêreldbeker in die Richtersveld

Foto verskaf deur Erik van Zyl

Deur Erik van Zyl (Napier)

Dit was die jaar 1995. Dit was die begin van my en my broer Johan se 4×4-avonture. Twee jaar gelede het ons Namibië verken in twee Ford 3L-voertuie, ’n Sierra-stasiewa en Cortina-bakkie. Net daar het ons besluit, ons toer nie weer sonder 4×4-voertuie nie.

Met die Junie-Julie-skoolvakansie voor die deur was al ons planne reg vir die Richtersveld- nasionale park. Hy, gewapen met sy betroubare wit makou (ʼn 2.2 Toyota-dubbelkajuit) en ek met my effens geriefliker borriegeel ’84 Isuzu Trooper-stasiewa.

Soos wat die vakansie al hoe nader kom, het dit al hoe meer begin lyk of die Springbokke ons vakansieplanne wil omverwerp. Hulle sal mos in elk geval nie eers die halfeindstryd haal nie, wat nog te sê die eindstryd. Wat gebeur het, is geskiedenis, maar toe die Bokke die Franse naelskraap in die halfeindstryd klop, toe sit ons met ’n enorme probleem. Daar is mos nou net geen manier dat ons ’n Wêreldbekereindstryd tussen die Springbokke en die All Blacks kan misloop nie. Al probleem was dat ons kampplekke by De Hoop vir Vrydagaand betaal was en Saterdagmiddag sit ons langs die Oranjerivier en nie soos die res van Suid-Afrika op Ellispark of vasgenael voor hulle televisies nie.

Foto verskaf deur Erik van Zyl

Die baie unieke klein swart-en-wit televisietjie van ouma Klara, wat ook met batterykrag kon werk, het ’n vonkie van hoop in ons harte gesit. Dit was eers nadat ek uitgevind het dat daar by Sendelingsdrift wel TV-opvangs is en daar op een van die hoë berge in die Richtersveld- nasionale park wel ’n toring is vanwaar ons ’n TV-sein sal kry. Ons moes ons kleur-TV in ouma Klara se aftreeoordkamer gaan opstel voordat ons ouma se TV kon saamneem na die Richtersveld.

Met ons belangrikste besitting in sy boks agter die bestuurder se sitplek, vertrek ons die Donderdagaand vanuit Wellington. Ons konvooi het ingesluit my vrou Hester, my dogters Klara (toe twee jaar oud) en die eenjarige Magdaleen, asook my eie ma wat kans gesien het vir die ekspedisie. In my broer se wit makou was sy vrou Julie en sy kinders Reneé (10), Frikkie (8) en Maleen (6).

Vrydagaand kom ons ongeskonde by De Hoop aan. Toe ons Saterdagoggend opstaan, was ons baie seker dat ons saam met die res van SA die rugby gaan kyk. Later die oggend toe dring dit tot ons deur: Dit is nie so eenvoudig om die Wêreldbekereindstryd in die Richtersveld te kyk nie. Op ’n verkenningstog langs die rivier het ons ná vele probeerslae geen sukses behaal nie. Ons het met baie hoop elke keer die TV aan die bakkie se battery gekoppel, maar kon geen TV-sein vind nie.

Teruggekom by die kamp. “Ons kry nie ’n sein nie, ons sal seker maar verder moet uitry op die pad wat ons gekom het as ons ’n sein wil kry.” Al het ek dit nie regtig geglo nie, wou ek nie so maklik moed opgee nie. Om 14:00 lig ek almal in dat ek nou gaan rugby kyk en almal wat wil saamkom, is welkom. Die reaksie was nie oorweldigend nie, maar toe ek en my broer vertrek, was almal in.

By De Hoop uit, ry twee Land Rovers by ons verby. Ons kon dalk lyk soos natuurliefhebbers wat op hierdie dag nie sportmal is nie! Met die groetslag deel ek hulle die nuus mee dat ons op pad is om dié rugby te gaan kyk.

Erik en sy dogter Magdaleen (sy was in 1995 een jaar oud tydens die Wêreldbekereindstryd) (Foto verskaf deur Erik van Zyl)

Die groot soektog het begin na daardie berg, die een met die TV-toring op. Gewapen met Andrew St Pierre White se 4×4 trails in SA se Richtersveldkaart begin ons die soektog. Met elke nuwe berg in sig het ons stilgehou, enjinkap oopgemaak, TV uitgehaal, gekoppel en dan die knoppie gedraai in die hoop dat daardie suisraasgeluid onderbreek sal word met ’n “Welkom hier van Ellispark” en die Springbokke wat staan om die volkslied te sing … maar dit was alles tevergeefs.

Nadat ons al ’n paar keer deur hierdie ritueel is en dit reeds verby 15:00 was (die afskop was om 15:00), ry ons so ’n lang vlakte binne. In terugskoue waarskynlik die vlakte tussen Rooiberg en Peilkop.

Met die laaste bietjie hoop wat nog oor was, besluit ek dat ek nog een keer sal probeer. Binne sekondes is die TV gekoppel en soek ek met die desperaatheid van ’n gewonde soldaat in vyandelike gebied na die geringste tekens van enige sein, maar tevergeefs – en dit terwyl kosbare minute van die wedstryd verbytik.

En toe gebeur dit, eers die stem en toe die beeld. In daardie helder sonlig van die Richtersveld sien ek hoe Andrew Mehrtens die eerste drie punte van die All Blacks op die telbord sit. My vrou wou my nie glo nie: “Jy lieg, ek sal my hoed opeet.” Daar was nie tyd daarvoor nie. Ons moes vinnig laer trek. Neus aan neus het ons gestaan. Albei enjinkappe oop en met komberse het ons ’n sondigte koepel gevorm waarbinne ons die Wêreldbekereindstryd kon kyk.

Dit was ’n eenmalige en unieke ervaring. Hoe langer die wedstryd geduur het, hoe duideliker het die beeld natuurlik geword. Dit het later vir ons gevoel asof ons voor ’n flatscreen kleur-TV gestaan het. Halftyd het ons koffie geniet. Die kinders het daardie wye vlakte net vir hulle self gehad soos wat hulle vir meer as 80 minute en toe later meer as 100 minute in die wintersonnetjie gespeel het. Toe Joel Stransky daardie laaste skepskop in ekstra tyd oorsit, het ons vreugde amper die koepel verongeluk.

Daardie aand het ons langs die Oranjerivier saam met die res van Suid-Afrika die vreugdevure aangesteek, want ons was ook daar! En was ons nie daar nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Goeie storie. Vir julle familie sal sal dit altyd een van daai uitstaande gebeure wees, waar julle kinders eendag op julle begrafnis sal kan vertel waar julle was met die Bokke se 1ste WB oorwinning van ’95.

Marnits ·

Goeie storie oom. Ek het nou lekker gelag.
In die artikel sê oom ons het neus aan neus gestaan. Op die fotos lyk dit of die Toyota omgedraai is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.