Stel daai Nuwejaarsdoelwitte

Deur Esmarie Yssel

Esmarie Yssel (Foto: Clareece Smit Photography)

Het jy 2023 tegemoet gegaan met dié ingesteldheid dat jy nié Nuwejaarsvoornemens gaan stel nie, omdat dit sommer simpel is en niemand in elk geval daarby hou nie? Om die jaar dag vir dag te vat soos hy kom?

Die Instagram-inspirasieblad, Peaceful Mind Peaceful Life, sê ons almal se doel in 2023 moet wees om meer bewus te raak van dít wat ons energie werd is.

Castawaywithcrystal.com sê dis nodig dat ons doelwitte stel of voornemens het vir die nuwe jaar, bloot omdat dit ons dwing om nuwe dinge te ervaar en nuwe plekke te verken. Al beteken dit net jy gee ʼn nuwe haarstyl of stokperdjie ʼn kans.

Daarbenewens sal nuwe doelstrewes ons bemagtig om nuwe talente te ontdek en ons belangstellingsbasis uitbrei.

Ons – die mens – is nie gemaak om stil te staan en te stagneer nie. Ledigheid is immers die duiwel se oorkussing. Ons móét in beweging bly vir selfontwikkeling. Al beteken dit dat ons ongemaklik voel of dinge beleef wat ons bang maak. Goed óf sleg, ons sal altyd wyser en meer geslyp aan die ander kant uitkom.

Doelwitte en die gedrewenheid om hulle te bereik maak ons lewens doelgerig. En dís wat noodsaaklik is. Want noem ʼn mens dit lewe as jy vir 40, 50, 60 of 80 jaar elke jaar dieselfde dinge doen?

Dis egter nét so belangrik om dié dinge wat negatief op jou energie inwerk te laat gaan. Dit sal moontlik beteken dat jy jouself van sekere geselskap en situasies sal moet distansieer, maar doen dit dan sonder skroom. Jy weet mos wat jy beplan en wat jy nastreef. Die Vader sal jou hart lei.

Ek was aanvanklik een van diegene wat nié Nuwejaarsdoelwitte wou stel nie, maar nou benader ek dit met ʼn nuwe blik. Ek gaan nie 2023 maar net vat soos hy kom nie. Ek het dit die laaste ses maande van 2022 gedoen, nadat ek my pa aan die dood afgestaan het. Ek wou net oorleef, maar het nie gelééf nie.

Die lewe is té kort en té kosbaar om net elke dag te vat soos hy kom.

Knoop die seer en uitdagings waarmee jy worstel aan jou hart se ritme vas, maar solank as wat hy klop moet ons lééf.

Begin nou maar om jou lysie te skryf. Aan die einde van 2023 voel ons dalk net soos nuwe, voller, ryker mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.