Stook jy of blus jy?

Foto: Pawel Janiak/Unsplash

My liewe Suid-Afrika, ons huis is aan die brand. Vir jare was daar baie van ons met emmertjies wat probeer het om die vlamme te blus, emmer vir emmer. Terwyl andere die vuur stook en nog hout bygooi. Ekstra stompe van haat, misdaad, onreg, geweld, korrupsie, swart ekonomiese bemagtiging, werkloosheid, swaarkry, belastingverhogings, verkragting en dood.

Een vir een het ons die emmertjies begin neersit. Party, uit pure moedeloosheid, het net gaan sit in sak en as. Party het gevlug, landuit, sak en pak. Party probeer net aan die lewe bly, een desperate asemteug op ’n slag. Ander het probeer terugveg – met gewere en woorde en buurtwagte en platgetrapte satellietskottels en getwiete vlaggies.

Maar die huis het bly brand. Terwyl dié wat water gooi al hoe minder word, het die vlamme groter en groter geraak. Dit is nie vlamme wat jou velkleur, jou vriendelikheid met jou anderrassige buurman of die grootte van jou bankrekening respekteer nie. Soos met enige vuur, is dit stom en onnosel. Dit brand alles. Dit brand almal. En in die huis sit onse president en sy vriende, soos Marie Antoinette van ouds, besig om hul knuppeldik te eet aan die koek waarvoor ons betaal. Hulle kan nog nie sien hoe die fondamente van die huis onder hulle uitbrand nie. Hulle lag en dans terwyl hulle nog ’n bietjie die soustrein aanstook, en nog ’n wolhaarstorie aan die wêreld vertel.

Maar die huis bly brand. Die klippe in die strate is te veel. Die gebrande voertuie is te veel. Die geplunderde winkels en trokke is te veel. Die video’s en foto’s op die internet is te grusaam en te veel. Die lyke van die vroue is te veel. Die trane oor ontvoerde dogtertjies is te veel. Die bloed van die boere kan nie die land aan die lewe hou nie. Die vrees is te veel – “#AmINext”? Die plase is ’n slagveld. Die stede is ’n slagveld. Die slaapkamers is ’n slagveld.

Die mense met die emmertjies kan nie meer keer nie. Genoeg is genoeg.

Die huis blý brand. Die wêreld kan nie ignoreer hoe die land in vlamme opgaan nie. Op elke lys van die slegste, is Suid-Afrika die wenner. En elke Suid-Afrikaner is die verloorder.

Want ons huis brand. Die tyd vir rusbankkommentaar is verby. Die tyd vir video’s en kommentare op sosiale media is verby. Die tyd vir aanlynpetisies is verby.

Dis tyd vir besluite: gaan jy veg of vlug? Is jy een van dié wat die vlamme stook of een met ’n emmertjie?

Daar is party wat die vlamme stook in die naam van dit wat “reg” is. Of in die naam van geskiedenis en hul interpretasie daarvan. Heelwat van hulle is te jonk om te weet wat werklik destyds gebeur het en hul tweedehandse haat is ál bewyse wat hulle kan lewer van goed wat lankal betekenis verloor het. Hierdie generasie sal nie 16 Junie onthou nie. Ons sal 6 September onthou.

Vir ’n oomblik hierdie week het ons almal paniekerig na die huis in vlamme gekyk en vergeet dat Sadrag, Mesag en Abednego sonder ’n rookreuk uit die vlamme gestap het. Maar hulle moes eers in die vlamme ingaan om te sien wat die Here kan doen. Dit was sekerlik nie maklik om tog aan te hou vertrou terwyl die vlamme aan hul klere lek nie.

En nou… nou lek die vlamme aan jou. Jy moet besluit: is jy geroep om vuur te slaan in hierdie land? Is jy geroep om op te staan en te veg? Is jy geroep om te sê genoeg is genoeg? Is jy geroep om die wêreld in te gaan en te vertel van wat gebeur sodat meer mense kan gaan help vuur blus?

Jou huis brand. Jou huis brand en jy kan nie stilbly en stilsit nie. Staan op. Trek jou wapenrusting aan. Jy moet nóú iets doen.

Dis tyd.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nettie

Wat? Wat??? Wat moet – of kan – ek doen???

Ek is ‘n wit vrou, ongetroud, sonder afhanklikes of ‘n ondersteuningsnetwerk, met beperkte gesondheid, geld, hulpbronne en woon in ‘n plattelandse dorp; ek is in my laat 40’s – wat kan/moet ek doen???

Dirk

Baie goed geskryf.

Anke

Hierdie het my hart so aangeraak, tot ek lees die skrywer van die artikel bly in NZ, dit is
so maklik om te sê: “ons huis brand” maar waar is jy, daar vêr in NZ waar jy gelukkig is en van buite af inkyk wat ons elke dag moet trotseer, dit voel of die skrywer ook op die soustrein is want sy is duidelik nie in SA nie. Jou artikel het hoop in my opgevlam tot jy homself geblus het.

Boer

Beste Rene Jou woorde is deels waar. Ons wat bly en veg, weet al lankal wat wag. Ons het die keuse gemaak om nie weg te hardloop nie. Soos die oorweldigende meerderheid wat nie kan weg, wil ons nie weg. Die is ons huis. Ons ken Afrika en interessant as jy ons volk se geskiedenis ken, dan weet jy dis niks nuut nie. Baie dorpe is al afgebrand. Tog ons voorouers het gewerk, geveg en oorkom. Ons hoef en is nie paniekerig nie. Ons volk se leiers werk rustig onverpoos voort. Hulle is in SA en buite SA en kry… Lees meer »

John

Hoekom hou mense wat na die buiteland uitgewyk het aan om hulle te bemoei en vermoei met wat hier aangaan? Hoekom nie ‘n brief rig aan ‘n webwerf in Venezuela of Skotland nie? Om nou oor die grote see te skreeu ‘julle huis brand!’ Jy kan net mòre voor jou nuwe huis doodgery word… en? Diegene wat hier agtergebly het, loop in die Lig van Bo, indien ons Christene is. Hoekom moet almal jaloers gemaak word omdat jy skuldig voel oor jou uitwaartse besluit… Wow, julle huis brand… julle huis brand… oy, suster… koebaai!