STROOP: Op pad na die geheime ontmoeting met ʼn renosterhoring-verbruiker

Stroop-Scott-rubriek-05-susan-scott

STROOP-filmregisseur Susan Scott tydens verfilming in die Krugerwildtuin. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod en Susan Scott, die vervaardigers van die dokumentêre fliek STROOP, skryf in dié rubriek oor hul ervaring met die gebruikers van gestroopte renosterhoring in Hanoi in Viëtnam. Dié twee is onlangs met ʼn ATKV Mediaveertjie bekroon vir ʼn insetsel oor padreëls in die Kruger-wildtuin.

Ons het dit geruik voordat ons dit gesien het. Dit het ons onmiddellik teruggeneem na die bosveld van KwaZulu-Natal. Die skerp, onwelriekende reuk van gebrande hare wat kleef in ʼn mens se keel. Dit moet die hitte van die elektriese saag wees wat die gebrande reuk veroorsaak. Maar saam met die reuk van groen gras in die vars oggendlug, hang daar ʼn oorweldigende reuk van die onthoringde renosters wat ons verfilm het.

En ná weke van die inaseming van klewerige chemies-gevulde lug vol besoedeling van miljoene motorfietsenjins, was dit ʼn skielike herinnering van wat by die huis in Suid Afrika aan die gebeur is en die rede waarom ons hier is.

In die weke en maande in die aanloop tot ons besoek aan Asië het ons na elke dokumentêre rolprent en ook video’s gekyk wat ons in die hande kon kry oor die gebruikers van renosterhoring in Viëtnam. Maar dit het alles na toneelspelery gelyk en ons wou ware verbruikers sien. Ons kon hulle nie kry nie. Natuurlik was daar baie mense wat gepraat het van iemand van wie hulle weet wat ʼn stukkie renosterhoring in ʼn spesiale bakkie maal as ʼn kuur vir babelas of vir kanker of teen koors by kinders, maar dít was die omvang daarvan… iemand wat iemand geken het.

Toe ons uiteindelik in Viëtnam aanland, het ons uitgevind waarom. Almal weet die gebruik van renosterhoring is onwettig en die veldtog om gebruik te verminder het goeie werk gedoen om daardie mense weg te hou van Westerlinge wat nie die gebruik van renosterhoring goedkeur nie.

Van die eerste dag in Hanoi het ons elke Jan Rap en sy maat ontmoet, diegene wat ons sou sien… Van Amerikaanse diplomate tot diereregte-aktiviste tot hulpwerkers tot tradisionele dokters tot onkoloë tot regeringsamptenare. Wie ook al ja sou sê om ons te sien, het ons ontmoet. Ons het ure bestee op wat na ʼn gejaag na wind gelyk het, maar ons het bly hoop vir daardie ‘iemand wat iemand ken’. Nie die gebruiker nie, die eerste een. En uiteindelik, ja, het iemand, wat iemand ken wat ʼn renosterhoring-gebruiker ken, na vore gekom en moontlik kon ons die ‘iemand’ ontmoet. Nie die gebruiker nie, die eerste ‘iemand’. Hierdie persoon sou ons dan eers goed deurkyk voor die tweede persoon ons sou sien… die een wat ʼn ware gebruiker ken.

Ritte in huurmotors oor die lengte en breedte van die stad, na wolkekrabbers en kantoorgeboue, en so het ons ons beloofde ontmoeting gehad met die tweede iemand. Maar hierdie keer moes ons ʼn lys vrae vir goedkeuring aan die gebruiker se familie stuur. En onder geen omstandighede kon ons afwyk van die vrae of vra om die produk te sien nie. Ons kon slegs met die gebruiker praat oor sy/haar gebruik daarvan. Nou nie presies waarna ons gesoek het nie, maar ons het gou agtergekom dat ons dalk die ondersoekende nuusprogramme wat ons gesien het voor ons op hierdie reis vertrek het, te gou veroordeel het.

Ons is aangesê om vir ʼn telefoonoproep te wag. Twee dae het verbygegaan en uiteindelik op die derde dag, net voor sononder, het die oproep gekom en daar is vir ons gesê waar om te ontmoet. Instruksies is via SMS aan ons vertaler gestuur. Binne sekondes was ons in ʼn taxi, op pad na die gebruiker se adres. Ons was kalm… daar was geen angstigheid met kameras en oudio-toerusting wat op die agterste sitplek nagegaan word nie. Ons het al ʼn geruime tyd hiervoor gewag. Ons het buite ʼn woonstelblok stilgehou en na die ingang geloop… stadig en versigtig. Dit was half onwerklik om uiteindelik daar te wees… net die ewigdurende geluide van die motorfietse wat gevaarlik naby verblyflits het ons laat besef ons is nie in ʼn slakkepas nie.

Die deur gaan oop, ʼn jong regeringsamptenaar laat ons in en ons trek ons skoene uit by die ingang. Die hele gesin kom in die gang af gestap, groet ons en bring tee sitkamer toe. Ons kyk nie vir mekaar nie… wonder wanneer, indien wel, ons die rede moet opper waarom ons hier is en watter een van die gesinslede die gebruiker is. Hulle weet waarom ons hier is, maar net hoe geduldig kan ons wees?

Lees alle vorige berigte oor STROOP – die film op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.