Studente pleit vir behoud van Puk-kampus

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

’n Geveg is die afgelope paar weke aan die opbou oor die pad vorentoe vir die Puk-kampus van die Noordwes-universiteit.

Aan die een kant is prof. Dan Kgwadi, rektor van die NWU, en sy ondersteuners wat alles in hul vermoë wil doen om ’n unitêre universiteitsmodel af te dwing wat die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal en gehalte-onderrig op die spel kan plaas.

Aan die ander kant is ’n groeiende getal studente, alumni, ouers, akademici en onderwyskenners wat hulle vir die behoud van Afrikaans, die bestaande onderrigmodel op die Puk-kampus en die unieke studentelewe beywer.

Soos een onderwysontleder tereg opgemerk het: “Dit is jammer dat min sogenaamde ontleders en politici nog nie ter harte geneem het wat by ander Suid-Afrikaanse universiteite gebeur het wat deur ’n samesmeltingsproses gedwing en vernietig is nie. Daar is ’n hele paar sprekende voorbeelde van instellings wat as’t ware ten gronde gegaan het na die samesmelting en wat toenemend sukkel om studente van hoë gehalte te lok.”

Die stryd rondom die behoud van die Puk-kampus gaan na alle verwagting Vrydag in felheid toeneem wanneer die universiteitsraad vergader.

Kgwadi se planne, wat neerkom op ’n sentrale universiteitstelsel met een dekaan vir die drie verskillende kampusse (Potchefstroom, Mahikeng en Vaaldriehoek) wat onder meer oor die taalbeleid van ’n fakulteit sal kan besluit, gaan sonder twyfel sterk teengestaan word.

Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Puk-kampus, het die afgelope week gewaarsku dat talle studente nie meer Puk toe sal gaan as die aard en karakter van die instelling sodanig verander nie. Hy het daarop gewys dat ondeurdagte veranderinge kan meebring dat die Puk tot R650 miljoen per jaar sal verloor as ouers besluit om hul kinders na ander universiteite te stuur.

AfriForum Jeug het met die aanvang van die nuwe akademiese jaar ’n NWU-Puk-video opgeneem waarin studente geen geheim gemaak het van die redes waarom hulle die NWU gekies en na die Puk gegaan het nie.

Henk Maree, voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die organisasie hoop dat die raad en universiteitsbestuur kennis sal neem van die video. “Geen universiteit kan sonder studente voortbestaan nie. Die universiteit, in dié geval die Puk-kampus het ’n eiesoortige kultuur. Dit is ’n kultuur wat tot gevolg het dat meer as 80% van die studente by die Puk van buite Noordwes kom en dus by twee of drie universiteite verby ry om in Afrikaans te kan studeer.”

Volgens Maree is dit duidelik uit die video (aangeheg) dat studente wat ernstig is oor hul studies, graag in Afrikaans wil studeer en trots is op hul moedertaal. “Heelparty studente het in die opname aangedui dat die gees op die kampus, die gehalte van onderrig en die omgee-kultuur van die belangrikste aansporings was waarom hulle die Puk gekies het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Ou Blade dit was nou die ideale geleentheid vir jou en jou rugkrappers om julle menings aan die studente en hulle ouers oor te dra.Bring ook sommer vir Wessels/ Adriaan Basson / Piet Crause en handvol ondersteuners saam om n groot indruk op die algemene luisteraars te maak dit is die regte geleentheid in pleks van agter die skerms te skuil.

Bruno Stef ·

Adriaan Basson jy moet vinnig spring ek merk op dat n hele paar studente meisies die NAZI Saluut by die byeenkoms gegee het.Dit kan nou dien as n bevestiging van jou vorige vermoede dat die Universiteit oortrek is met NAZIS wat n besondere geleentheid vir jou.

Faan ·

Nou praat jy. Ek wonder ook hoekom is al die ander nuusdraers (Beeld, SAUK) so stil oor die PUK. Bang hulle maak slapende honde wakker? Ek as oud PUK sal alles doen wat ek kan om Daan Kwaatg@t te keer om die PUK te vernietig.

Mike ·

“Studente pleit vir behoud van Puk-kampus” Ons moet nou al pleit by hulle dat hulle tog nie ons taal en kultuur moet vernietig nie, is daar nog iets waarvoor ons nie meer hoef te pleit nie? Die afrikaner het homself op sy kniee gedwing in 94.

HEVW ·

Die gevolge van vorige eerlose leiers wat van verhoog tot verhoog die volk belieg het en te veel goedgelowiges wat dit gesluk het, en al wat n behoudende party en organisasie as verregses gehoon en bespot het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.