Swart Vrydag: Wenke vir verbruikers en besigheidseienaars

(Foto: CardMapr/Unsplash)

Deur Salomien Boshoff

Swart Vrydag is om die draai en daar is oral spesiale aanbiedings vir hierdie groot inkopiedag, een van Suid-Afrika se besigste inkopiedae van die jaar. Maar die groot vraag is, is dié aanbiedings werklik winskopies? Moet entrepreneurs en klein besigheidseienaars aan hierdie dag deelneem? Of is dit net nog ʼn geldmaakstorie van die groot en bekende kleinhandelaars in Suid-Afrika? Watter raad is daar vir die besighede en verbruikers?

Navorsing toon dat die aanbiedings op Swart Vrydag wel die beste winskopies is wat jaarliks aangebied word. Dit skep die norm vir wat ʼn goeie prys is vir sekere items vir die volgende paar maande. Verbruikers sal sommige van die Swart Vrydag-aanbiedings eers weer volgende November sien, maar daar is ook bewys dat baie van die winskopies weer in Januarie of later die volgende jaar kan voorkom.

Swart Vrydag is ʼn Amerikaanse fenomeen. Op die vierde Donderdag van November vier Amerikaners die jaarlikse Dankseggingsdag (beter bekend as Thanksgiving). Hierdie dankseggingsdag is ʼn vakansiedag en daarom het baie Amerikaners die Vrydag ook afgevat (daar is selfs state in Amerika waar hierdie dag ʼn formele vakansiedag vir staatsamptenare is). Die term “Black Friday” het sy oorsprong in die vroeë 1960’s in Philadelphia, Amerika, waar die verkeerspolisie hierdie dag vernoem het as gevolg van die skerp toename in verkeer en voetgangers oral in die stad. Die dag is gekenmerk as die begin van die Kersseisoenaankope en kleinhandelaars het ʼn geleentheid in die mark geïdentifiseer. Die ander mooi storie oor die naam Swart Vrydag is dat die meeste kleinhandelaars eintlik hul wins tydens die Kersseisoen maak en die res van die jaar in die rooi (winsgewys) is – dus was hierdie die dag wat die wins begin draai het. Hierdie Amerikaanse verskynsel het met globalisering na ander lande, ook Suid-Afrika, oorgespoel. Toe Swart Vrydag in Suid-Afrika nuut was en elke kleinhandelaar nog nie aan boord was nie, was dit ’n geleentheid om vroeg in die seisoen markaandeel te “steel”, maar nou gaan dit meer daaroor om jou eie aandeel te beskerm. Vanjaar gaan selfs die groot tegnologiemaatskappy Apple vir die eerste keer aan Swart Vrydag deelneem.

Raad aan entrepreneurs en klein besigheidseienaars is om dit as ʼn geleentheid te gebruik om van ouer voorraad ontslae te raak, die Kersseisoen af te skop of die laaste verkope vir die jaar in te kry.

Paar wenke aan entrepreneurs en kleinhandelaars:

  • Maak seker daar is genoeg voorraad, asook genoeg personeel, om op Swart Vrydag (vanjaar op 26 November) in die winkel te help.
  • Aanlyn winkels moet seker maak dat hul webwerf en stelsels die verhoogde aanlyn verkeer kan hanteer.
  • Maak seker jou teikengehoor weet wat om te verwag en watter spesiale aanbiedings jy gaan hê. ʼn Studie deur Finder.com (onder 1 203 verbruikers in Suid-Afrika) toon dat mans (48% teenoor 45% van vroue) en die jonger generasie, tussen 25 en 34 jaar oud, meer geneig is om produkte aan te koop.
  • Om verbruikersvertroue te verhoog, bied ʼn vaste afslag aan verbruikers, byvoorbeeld 20% op alle goedere in jou winkel. Navorsing deur com toon egter dat 74% van Suid-Afrikaners ʼn gemiddelde afslag van meer as halfprys (60%) wil hê.

Paar wenke aan die verbruikers:

  • Doen goeie marknavorsing. Maak seker oor die gewone prys en die afslagprys en of dit werklik ʼn winskopie is.
  • Doen aanlyn aankope op webwerwe wat jy ken en maak altyd seker dat die webwerf betroubaar is.
  • Maak deur die jaar ʼn lys en sorg dat dit wat jy wil koop werklik items is wat jy nodig het.
  • Kry ʼn begroting en hou daarby. Swart Vrydag kan veroorsaak dat jy geld uitgee wat jy nie eintlik het nie, op dinge wat jy nie nodig het nie. Kredietkaarte is dalk geduldig, maar slegs tot op ʼn punt. Niemand wil die Kerstyd met spanning oor slegte skuld leef nie.

 

  • Salomien Boshoff is ʼn passievolle dosent en ook vakhoof van Ondernemingsbestuur by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Ek kan nie glo die woord swart verskyn op MM nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.