Tel jou woorde – Wat’s in ʼn naam?

Argieffoto (Foto: KRiemer, Pixabay)

“What’s in a name?” vra die stomme Juliet vir haar Romeo, en hef dan ʼn ellelange argument aan oor die redes waarom haar geliefde se naam nie hulle liefde sal beïnvloed nie – hy is dan nou so perfek, al is hy ʼn Montague. Goed, sy was jonk en verlief, en aan die einde van die drama weet ons presies wat alles in die naam gesteek het. Meer as wat Juliet gedink het, in elk geval.

Die meeste van ons dink so aan name – as iets wat ons aanwys en in gesinne, families en geslagsregisters kategoriseer. Ons dink nie eintlik aan name as iets wat betekenis inhou nie. En tog kan dit.

Ek het so ʼn rukkie gelede op VivA se Facebookmuur die etimologie van Johannes geplaas. Die naam is Latyn en kom uit die Grieks (Ioannes) wat uit die Hebreeus (johanan) kom. Dit beteken “Jehova het begunstig”.

Baie Afrikaanse voorname het natuurlik dieselfde Bybelse oorsprong: Abraham en al sy vorme soos Abram, Abe, Braam wat “baie” beteken, Adam wat “man” beteken, Stephanus en al sy vorme soos Stefan, Fanus, Faan, Stef en die vroulike Stefanie wat “kroon” beteken. Jacobus en sy vorme soos Jakob, Jaco, Kobus, Koos en die vroulik Jacoba, Koba, Kobie het ons via Latyn (Jacobus) en Grieks (Jakobos) uit Hebreeus (ya’aqov) gekry het dit beteken “enkelgryper”. Volgens Genesis 25:26 verwys dit na Jakob se geboorte toe hy aan sy tweelingbroer Esau se enkel vasgehou het. Maria en al die afleidings (Marie, Mari, Mariëtte, Marieta) is die Latynse vorm van die Hebreeuse miryam wat waarskynlik terugslaan op die Egiptiese woord “mry” wat “geliefde” beteken. Magdalena (en Magda, Daleen, Lena) is afgelei van “Magdala”, ʼn dorpie by die See van Galilea en wat “toring” beteken. En dan natuurlik Petrus en al sy afleidings (Pieter, Peet, Piet, Petro, Petra) wat “rots” beteken, wat die Griekse vertaling (Petros) van die Aramees (Cephas) is en verwys na die naam wat Jesus vir sy dissipel Simon gegee het.

Ons het natuurlik ook ʼn ryke oes uit die Klassieke name: George en sy vorme soos Jurgen en Georgia is Grieks (Georgios) en beteken “boer”. Alexander (van die Griekse Alexandros) beteken “helper/verdediger van mense” en kom uit die mitologie – dit was ʼn ander naam vir die Trojaanse held Paris. Chloe was ʼn bynaam vir die godin van die oes en vrugbaarheid, Demeter, en beteken “groen loot”. Eugene (uit die Grieks Eugenios) beteken letterlik “goed gebore”, Helene beteken “fakkel” (haar ontvoering deur Paris was die rede vir die Trojaanse oorlog), en Melissa, ʼn nimf wat na die jong Zeus omgesien het, beteken “by”. Theodorus (ons ken waarskynlik eerder die verkorte Theo en Ted) is ʼn samestelling van die Griekse woorde “theos” (god) en “doron” (geskenk). Die vroulike naam Dorothea is in die omgekeerde volgorde uit dieselfde Griekse woorde gevorm.

Uiteraard het ʼn groot aantal hedendaagse Afrikaanse name ʼn Germaanse geskiedenis. Conrad is saamgestel uit “kuoni” (dapper) en “rad” (raadgewer). Emma is ʼn verkorting van Germaanse name wat met “emmen” begin het en beteken “universele” of “heel”. Ferdinand is ʼn samestelling van “fardi” (reis) en “nand” (dapper) en is al rondom die vyfde eeu ná Christus deur die Wes-Gote in Spanje ingevoer. Gerhard (met afleidings soos Gert en Gerrit) is saamgestel is uit die woorddele “ger” (spies) en “hard” (gehard). Heinrich (en al die vorme soos Hein, Hendrik, Hennie en Henry) is ʼn vervorming van Heimrich wat saamgestel is uit “heim” (huis) en “ric” (heerser). Herman is ʼn samestelling van “hari” (weermag) en “man” (man), Hilda en al die ander vorme waarin “hild” voorkom, soos Hildegard, Hildebrand en Mathilde het iets te doen met “veldslag”, Ida beteken “werk”, Robert (van Hrodebert) beteken “helder roem”, en Waldemar (die Germaanse vorm van die Slawiese Vladimir) is afgelei van “wald” (heers) en “mari” (beroemd).

Arabies het ook ʼn ryke deposito in Afrikaanse name gemaak: Dana kom oorspronklik uit die Persies en beteken “wys”. Ebrahim is die Persiese vorm van Abraham, Faiz beteken “oorwinnaar” in Arabies, Farah is “vreugde”, Faruq (en die vorm wat ons ken, Faroek) beteken “iemand wat reg van verkeerd kan onderskei”, Fatimah (of Fatima) beteken “om te onthou” en was die naam van die dogter van die profeet Mohammed. Habib beteken “geliefde”, Hussein is die verkleiningsvorm van Hasan wat “aantreklik” beteken, Ismail is die Arabiese vorm van die Hebreeuse yishma’el wat beteken “God sal hoor”, Jamal beteken “skoonheid”, en Juda beteken “goedheid”. Khadija beteken “vroeggebore kind” en was die naam van Mohammed se eerste vrou. Lulu beteken “pêrel” in Arabies, Mansur is “oorwinnend”, Nadia beteken “teer” of “delikaat”, Rashid beteken “reg gelei”, Sharif beteken “vroom”, Suleiman of Sulaiman is die Arabiese vorm van die naam wat ons ken as Salomo, en Yasmin kom van die Persies “yasamen” wat “jasmyn” beteken. Zubaida beteken eenvoudig “die beste”.

Die Indiese tale het nie ʼn groot rol in Afrikaanse naamgewing gespeel nie, maar daar is tog name wat ons sal herken: Chandra wat “passievol” in Sanskrit beteken, Dev wat “god” beteken en Deepak wat “opwindend” beteken”. Gautam is ʼn vorm van Gautama, die familienaam van Siddharta Gautama, die Boeddha, en Imran is die naam wat in die Islam gegee word vir Maria se pa, Joachim. Jaya beteken “oorwinning”, Kartik is die naam van die konstellasie van die Pleiades, Khan beteken “heerser”, en Kiran kom uit die Sanskrit wat “sonstraal” beteken. Lila beteken “speels”, Lina beteken “verenig”, Nikita beteken “huis” in Sanskrit, Raja beteken “heerser”, Sheela is ʼn vorm van Shila wat “karakter” beteken, Singh beteken “leeu”, Sunil beteken letterlik “baie donker blou” en Tara is “ster” in Sanskrit. Vasu is “slim” of “uitstekend”, en Vijay kom ook uit Sanskrit en beteken “oorwinning”. Ajay beteken “onoorwonne” (!).

Wat’s in ʼn naam? vra die stomme Juliet. Dalk meer as wat jy dink.

VivA-groete
Sophia

Ns. Jy kan jou naam gaan soek by: www.behindthename.com

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

A! Baie dankie Sophia, vir hierdie kort artikel. Ek het beland in Mosambiek sonder my kosbare boeke, alhoewel ek hoop om eersdaags herenig te wees met al my Afrikaanse kosbaarhede.
My geliefde en skone vrou is van Skotse herkoms, maar my geliefde en skone meisie is Afrikaans.
Groete uit Quelimane.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.