Terug op Aberdeen

Pagel Sirkus (Foto: Unknown author via Wikimedia Commons)

Met vriend Lourens se storie oor Pagel House op Aberdeen, het ek nou die dag weer op Aberdeen gaan draai om sy storie op te volg. Van Graaff-Reinet se kant af het ons in die laatmiddag Aberdeen toe gery. Ons was nog ver van die eens pragtige Karoodorp, toe die bekende kerktoring amper soos ʼn vuurpyl die blou lug in die verte “ingeskiet” het.

Toe ons die dorp binnery was dit ʼn hartverskeurende toneel. Aan die een kant was dit die gevolg van ʼn uitmergelende droogte en aan die ander kant alle tekens, soos in ander dorpe, van munisipale dienste wat totaal in duie gestort het. Tóg was daar nog die eiendomme van die bittereinders, die vasbyters wat soos Maartlelies uit die stof uit, in volle blom staan.

Hierdie keer het ons in einste Pagel House oornag, met die hoop dat ek die inligting wat ek wat ek gesoek het, daar sou kry. My stoutste verwagtings is oortref, met die bonus van baie besonderse stories wat ek later nog moet gaan haal. Die verteller het egter die negentig-merk al verbygeskuif en tyd raak min.

Die eienares, Lyn Dugmore, het ons baie vriendelik ontvang en ons na die ruim woonkamer genooi waar die nodige formaliteite afgehandel kon word. Terwyl sy besig was met die skryfwerk, het my oë gedwaal en teen die plafon vasgesteek – meer as drie meter hoog en ʼn kunswerk van hoek tot kant.

“En dié plafon?!” het ek gesê-vra.

Sy vertel toe dat dié huis een van die eertydse volstruispaleise uit die goue volstruisbedryf-era was, en dat van die ander “paleise” ook tans as gastehuise bedryf word.

“Behalwe die een hier langs my,” het sy met ʼn wrang smaak in die mond gesê, “waar die munisipale bestuurder in weelde woon, terwyl die dorp in duie stort.” Toe besef ek dit kan dalk die ander huis wees wat aan Frank Wilke behoort het.

“En jy?” wou ek weet. “Hoe lank is jy al hier op die dorp?”

Al laggend het sy vertel dat sy op die dorp gebore en getoë is. Haar voorouers was Britse setlaars en haar oupagrootjie was die eerste Metodiste predikant op die dorp en dat haar pa later ook predikant op die dorp was. “Aberdeen is my liefde en my grootste hartseer. Die dorp se hart is uitgeruk. Jy kan mos sien!”

Ek het vir haar gevra wat sy vir my van Frank Wilke kan vertel.

“O! Baie, wat wil weet?” het sy opgewonde gesê. Sy het na ʼn berg boeke en albums gewys. “Frank se kleindogter en haar seun het ál daai kosbare goed van hom hier by my kom aflaai. Hulle emigreer na Nieu-Seeland want sy wil nie haar kind hier grootmaak nie. Dit sal my jare vat om al daai goed deur te werk! Fantasties!”

“Wie en wat was Frank?” wou ek weet.

“Oeee, hy was alles. ʼn Vermoënde man van aansien! Hy’t die grootste winkel besit, hy was burgemeester, begrafnisondernemer, raadgewer en hy was ook transportryer tussen Aberdeen en Aberdeen Road-spoorwegstasie. Man, hy was al die jare die king pin van hierdie wêreld. Ja en dan was hy ook wêreldbekende wildtemmer, van veral leeus!”

“En ek het verneem dat hy ook ʼn dieretuin bedryf het,” het ek aangepor, “en wat is die storie dat hy Pagel Sirkus se diere gekoop het?”

“Nee, nie regtig ʼn dieretuin nie. Dis waar hy diere getem het en dan oor die hele wêreld aan sirkusse en dieretuine verkoop het. Hy en Carl Fischer, Pagel se beroemde leeuhanteerder, was boesemvriende.”

Sy was lus vir vertel.

“Laat ek vir jou vertel. Toe Boswell-Wilkie op die sirkustoneel verskyn het, was dit nie lank voordat Pagel Sirkus noustrop begin trek het nie. Toe hulle uiteindelik handdoek ingegooi het, het hulle met alles wat hulle gehad het, tot op Aberdeen Road-spoorwegstasie gery en vir Frank geskakel en vir hom gesê dat hulle nie geld het om verder vir optredes te ry nie en of hy nie kon help nie.”

Frank is inderhaas Aberdeen Road toe waar hy die Pagelgeselskap moedeloos, in sak en as gevind het. Dit was skynbaar die einde van die pad, maar tóg op die ou end nié. Koppe is bymekaar gesit en seker die vreemdste kooptransaksie is beklink en afgehandel. Frank Wilke het ʼn aanbod gemaak, die aanbod is aanvaar en vir £2 000 kontant was Pagel Sirkus huidjie en muidjie sy eiendom.

Vir die volgende paar jaar is daar in Frank se wêreld tent opgeslaan en sirkus gehou. Die slangvrou wat slangvertonings gelewer het, is met ʼn plaaslike boer getroud en die res het met verloop van tyd iewers heen koers gekies. Twee van die leeus, Tiekie en Tokkie is kort ná mekaar dood en die vermoede was sterk dat hulle om een of ander rede vergiftig is.

Al wat oorgebly het, is Frank Wilke se Pagel House, ter ere van en in herinnering aan ʼn geliefde sirkuseienaar wat moes handdoek ingooi.

Teen die mure van Pagel House se breë gange hang egter nou nog dosyne geraamde foto’s van die sirkus se roemryke, landswye optredes. Frank pronk self op talle foto’s tussen sy sirkusvriende en steeds doenig met die diere.

Ek het gewaag om die tergende vraag te vra hoe die dorp se pad vorentoe lyk. Daar was ʼn lang stilte en toe sy opkyk, het haar oë boekdele gespreek.

“Ons weet nie eens meer wat munisipale dienslewering is nie. Wat is ʼn munisipaliteit nou weer? ʼn Paar boere en gemeenskapsleiers het die dorp skoongemaak en toe die gemors voor die munisipale kantore gaan aflaai, met ʼn vriendelike brief dat hulle nou die hele dorp skoongemaak het en dat die Raad dit nou na die vullisterrein kon neem. Die Raad het dit afgelag.”

Verstom, geamuseerd het ons geluister en sy het verder vertel.

“Een van die dorp se grootste bates was dat daar leiwater in die dorp beskikbaar was. Toe droog die leiwater op en toe ons ondersoek ingestel het, het ons ontdek dat die watervoor uit die fontein toegegooi was en die water het in die veld in geloop. Met groot moeite het ons die voor weer oopgegrawe.

Toe die water nie die dorp bereik nie, wou ons verder oploop om te kyk of daar nie nóg ʼn blokkasie was nie. Daar was nie nog een nie, maar die een wat ons oopgegrawe het, was weer toegegooi.”

Lang stilte, elkeen met eie dwalende gedagtes en toe sluit sy af: “Dis die prys wat ons betaal vir sabotasie deur die politieke aktiviste met duistere planne.”

Lyn het in die vertes ingekyk en ek het gevra hoe sake in die distrik lyk en of daar iets van die volstruisbedryf oorgebly het. Skielik was daar opgewondenheid te bespeur: “Nee, nie juis nie, maar die boere staan sterk. Dis net die droogte wat erg knyp. Hulle boer dat dit bars, maar nou boer hulle hoofsaaklik met sybok en skaap. Jy sien hulle nie van die pad af nie, maar glo my, hulle is dáár!”

Ons het gegroet, ʼn draai deur die dorp gery en toe ons pad vat Willowmore toe, het ons tussen plase deurgery, nie juis iets kon sien nie, maar ons het geweet die boere is nog dáár. By die vasbyters, die bittereinders op plase en in die dorp, blaas die vlam hoog. En hulle sal uit die stof van droogte soos Maartlelies bly blom.

Slegs ʼn week later was daar in Die Burger ʼn berig wat my oog gevang het. Daar is berig oor ʼn boer van Aberdeen wie se sybokhaar die hoogste prys van alle tye behaal het. Op die foto het hy tussen sy spogdogters gestaan. In dieselfde berig is daar berig oor nog ʼn boer van Aberdeen wie se wolskeersel die hoogste prys op die wolveiling behaal het. Ja, hulle is daar, maar ʼn mens sien hulle nie van die pad af nie …

Aberdeen is ʼn legkaartstukkie van ʼn stuk Groot-Karoo wat steier onder jare se uitmergelende droogte en ʼn tragiese ineenstorting van munisipale bestuur en lewering van dienste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Saartjie ·

Pagel House is die wonderlikste oorblyplek en Lyn Dugmore ‘n uitmuntende gasvrou! Hoe hartseer dat dit so sleg op Aberdeen gaan …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.