Tussen dwaasheid en wraaksug

Argieffoto

Argieffoto

Meneer so seker as die Here leef en u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. – I Samuel 25:26

Ferdinand Deist het op ’n stadium opgemerk hoe mense op ’n slinkse manier woorde kan gebruik om die waarheid te versag of te verdraai:

  • Wanneer ’n firma of munisipaliteit weens swak bestuur finansieel in die moeilikheid is, sê die bestuurder die winste is onder afwaartse druk en verplaas so die skuld na anonieme ekonomiese kragte.
  • Wanneer mense op ’n dag hulle werk verloor soos die afgelope tyd in Witbank gebeur het, sê die bestuur hulle word gerasionaliseer. So word die onmenslike impak op gesinne se toekoms versag.
  • Wanneer ’n boek onsmaaklikhede bevat en vulgêre tonele beskryf, word dit as volwasse literatuur beskryf, so asof mense wat dit nie lees nie effens onvolwasse is.
  • Wanneer ’n rolprent eksplisiete sekstonele bevat, word dit as ’n erotiese rolprent beskryf.

Ons samelewing het die vermoë ontwikkel om harde dade agter slim woorde weg te steek. Die feit bly dat woorde wat mense soms gebruik om hulle eie aksies te regverdig, te versag en goed te praat ander mense geweld aandoen.

Soms is woorde selfs dodelik gevaarlik soos in I Samuel 25 verhaal word.

Israel is vasgevang in die burgeroorlog tussen koning Saul en sy voormalige hoof van die leër, generaal Dawid. Soos wat die mag stadig maar seker uit die hand van koning Saul glip, gebruik hy geweld as ’n politieke instrument om staatsmag af te dwing. So vermoor hy die priesters van Nob. Die afwesigheid van sterk morele leierskap skep in ʼn reeds verdeelde land ʼn morele vakuum wat gevul word met magswellus, onredelikheid, onverdraagsaamheid en bloedvergieting omdat elkeen maak wat hy wil.

Dit is teen die konteks waarin Nabal en Dawid se woordetwis afspeel.

  • Nabal sê hy het niemand gevra om sy skape op te pas nie en as Dawid herder wou wees, dan is dit sy eie saak. Hy betaal niks.
  • Dawid sê hy het Nabal se skape versorg en eis sy regmatige loon.
  • Nabal leef soos ’n hoogmoedige koning wat net sorg vir homself en sy eie mense. Hy hou fees terwyl die woestynmanne honger bly.
  • Dawid word blind van woede oor Nabal sy finansiële eise ignoreer en maak sy manne bymekaar om uit wraak Nabal met die dood te straf.
  • Dawid wil ’n koning word wat kan opeis wat hy wil en die reg in eie hande wil neem wanneer dit hom pas.

Toe Abigajil een oggend by ’n bang veewagter hoor dat haar wêreld as gevolg van Nabal se dwaasheid en Dawid se wraaksug op die punt van vernietiging staan, het Abigajil besef sy sal moet optree. Op die kantlyn staan is nie ʼn opsie nie. Daar gaan nie een of ander politieke verlosser op die horison verskyn om dit wat vir haar kosbaar is te red nie. Sy het geen waarborg op sukses gehad nie. In die oë van ou-Israel was ’n vrou ondergeskik, magteloos, onbeduidend, ’n persoon sonder aansien met geen inspraak in landsake nie.

Abigajil gaan staan vrou-alleen tussen die dwaasheid van Nabal en die wraaksug van Dawid. In die hitte van die oomblik bly sy koelkop. Sy tree met wyse woorde en dapper dade op:

  • Sy vat sonder toestemming kos van koning Nabal se feestafel om honger mans te voed.
  • Sy klim op ’n donkie en ry vrou-alleen 400 woedende, geharde soldate tegemoet.
  • Sy argumenteer nie met Dawid nie. Sy probeer hom nie van die teendeel oortuig nie. Sy beskuldig hom nie. Sy gebruik wyse woorde om teenoor Dawid te getuig van ’n ander mag. Van God wat mag het oor lewe en dood. Abigajil kies nie Nabal of Dawid se kant nie. Omdat sy glo dat God nie ’n God van dooies is nie, maar van lewendes, kies sy lewe en pleit vir behoud van lewe.

Haar sagte woorde en nederige optrede bring Dawid se blinde woede tot bedaring. Vrou-alleen op ’n donkie stuit sy 400 bloeddorstige mans en weer nóg ’n tragiese bloedbad in ’n bloeddorstige land af. Dit is ’n heldedaad.

Te midde van die morele vakuum is Abigajil se getuienis ook ’n harde protes:

  • teen dwase woorde en wraakdade wat lei tot verharding in verhoudinge,
  • teen dwase woorde wat geweld aanblaas,
  • teen dwase konings wat op die vettigheid van die land feesvier terwyl honger mense in toenemende frustrasie toekyk, en
  • teen toekomstige konings wat die reg in eie hande wil neem en daardeur onskuldige bloed vergiet.

Abigajil se sagte woorde is ’n harde protes wat oor duisende jare eggo tot in ons eie land. Dit is ’n protes teen:

  • karaktermoord op twee jong studente wat deur slim woorde en skerp tonge verguis en verneder word,
  • kampusse, beelde en kunsskatte wat vernietig word met woorde van haat, aggressie en rassedreigemente van dood,
  • wraaklus wat ons taal vermoor,
  • dwase mense wat met wraakwoorde wit rassisme en swart rassisme aanwakker.

Ten spyte van klippe wat vlieg, vure wat aangesteek word, haatspraak op sosiale media en opportunistiese politieke leiers wat geweld aanblaas, is daar steeds in hierdie land wit, swart en bruin Christene wat glo in die lewende God en mekaar lewe wil gun. Miljoene mense in hierdie land begeer om in vrede te lewe: vrede by die werk; vrede by die huis; vrede in my gemeenskap. Vrede in Modimolle en Sabie se strate. Vrede op my kampus.

Vrede bly ons egter ontwyk as gevolg van dwaasheid en wraaksug wat lewe en lewenskwaliteit vernietig.

Wat Suid-Afrika nou nodig het, is koelkop Christene wat nie op die kantlyn staan nie, maar tussen dwaasheid en wraaksug opstaan om te beskerm wat vir hulle kosbaar is.

  • Ons behoort soos die Bybelskrywer van ouds wat Nabal, Dawid en Abigajil se storie eerlik opgeteken het sonder om die waarheid te versag, ons woorde ook so te gebruik dat onreg nie agter slim woorde van selfregverdiging verdoesel word nie. Laat ons met eerlike woorde en dapper dade teen die dwaasheid van Nabal en wraaksug van Dawid bly protesteer.
  • Ons behoort nie so deur die hitte van die oomblik meegesleur te word dat ons met dwase woorde en wraaksugtige dade kwaad stook of verder olie op die vuur gooi nie. Met gesonde verstand en goeie oordeel kan morele leiers soos Abigajil woede tot bedaring bring. Selfs al staan ons alleen tussen dwaasheid en wraaksug, laat ons soos Abigajil dapper wees om ons land se morele vakuum te vul met sterk morele leierskap wat verdeelde mense saambind, wat nie die reg in eie hande neem nie, wat bly praat oor wat reg, regverdig en billik teenoor almal is.
  • Wie glo in die lewende God moet positief bly leef. Op die eis van God in die sesde gebod, “Jy mag nie doodslaan nie”, antwoord die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 107: “Terwyl God alle afguns, haat en woede verbied, beveel Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor ander mense geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, en alles wat ander kan benadeel sover as moontlik vermy en selfs aan ons vyande goed doen.”

Eers wanneer ons Abigajil se geloofswoorde oor die lewende God teenoor mekaar bely en leef, sal Suid-Afrika ’n land van lewensruimte vir almal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Ferdi Everts ·

Die tyd om net te BID en te sit is virby. BID vir krag en wysheid, staan op en doen iets. GOD het nog nooit iets in sy eie hande gevat nie HY het mense die krag en wysheid gegee om dade te doen. Ek voel dat GOD se staan op my volk staan op. Die berig is die Berig van die jaar so ver.

anna ·

Fantastiese berig – baie dankie daarvoor!!!Kom ons staan saam en red hierdie land. Die Christene kan dit doen. Kry Christelike leiers- mense met integriteit en insig. Met hoe morele waardes en rugraat wat weet hoe om te lei. Op die oomblik is daar niemand wat aan hierdie vereistes voldoen wat regeer nie. Ook nie wat leierskap by Universiteite aanbetref nie.

Frans ·

Moet my nou net nie weer verkeerd verstaan nie. Dawid het God geken en kon dus oorreed word tot ‘n ander optrede.Die huidige regeerders verwerp Jesus en beskou hom as ‘n vryheidsvegter soos hulle, wat opgekom het vir die armes en in ‘n gewapende stryd met baie buitelandse hulp en druk aanbewind gekom het.

Wanneer jy om ‘n tafel gaan sit en in die naam van humanisme onderhandel met mense wat God en sy gebod verag het jy ‘n resep vir wanorde. Sommige Konings van Israel het God verlaat en op ander staatgemaak om hul in hul uur van nood by te staan en bedroë daarvan afgekom.

Netso het die Afrikanervolk bedroê daarvan afgekom en gaan niks die siedende, woedende
opgesweepte massas keer nie.Sorg eerder dat jou mense veilig is en eers as die storm verby is kan die stukke van dit wat oorbly weer opgetel word en herbou word soos die terugkerende bannelinge Jerusalem herbou het.

Carina ·

Net so was Farao ook nie Godvresend nie… en Israel ia vrygelaat. Esra se man was ook nie gelowig nie. Jul onderskat God se krag.

mm ·

God se tog in Sy woord….”Roep My aan in die dag van jou benoudheid”. – Waak en Bid

Charles Skeen ·

Selfs toe die stad se mure al brand was daar nog mense wat gemaan het dat hulle versigtig moes optree. Ja dit is reg, ek as ware gelowige, het reg om uit gande aanspraak te maak op God se hulp. Daar is egter nêrens enige vers in my Bybel, die Woord van God waar daar vir my voorgeskryf word dat ek myself nie mag verdedig nie. Ek stem egter saam dat ons nie in die hand van die bose moet speel, en net sommer onge-organiseerd prober terugslaan nie. Ons is beslis slimmer, het die nodige ervaring en het die regte leiers. Ons leiers is egter ondergronds omdat hulle nie ons “eie mense” kan vertrou nie. Die skrif is lankal reeds teen die muur, en die uitlegging is daar. Sal ons mense kan saamstaan wanneer die keuse gemaak moet word? Dit is die groot vraag. Tans is ek slegs gewillig om te volg waar God se vaandel vooraan wapper, want “politiek” het geen meriete meer nie.

Sarel Strydom ·

Daar is verskeie menings en oproepe . Hoe wil jy aksie verkry indien jy reken tyd vir BId is verby. Hoe moet God my volk red as daar steeds Afrikaners is wat meer rassisties is as die gepeupel. Die problem is, ons as Afrikaners het ons Geestelike riglyne en waardes waarop hierdie land gebou was prys gegee. Moet nou asb. nie weer vir my vertel dit was die 1994 Ja stem nie. Luiser en lees hoeveel negatiewe en neerhalende kommentaar daar was, in Afrikaans , oor die studente wat hulle tot gebed gewend het. Hoe verwag ons anwoord van God as ons Hom bly verloen.
Ek is hartseer, dit is ons kinders, ons kleinkinders, ons broers en ons susters wat geraak word. Bid ons vir vrede, of bid ons vir wraak. Met die droogte het ons gesien wat God kan doen as ons bereid is om nederig op ons kniee met oe gerig op Hom te smeek om uitkoms en die veilige bewaring van ons nageslag.

Flippie ·

Daar sal altyd rassisme wees. Tenspyte van die rassisme tussen Boer en Brit het ons die land maak werk. Ons kan nie wag totdat al die rassiste ter dood veroordeel is voordat ons kan voortgaan met die opbou van die land nie.

MM ·

Tyd vir bid is altyd maar ook nou ; ook tyd vir die regte dade, gedrag en integriteit. Na Jesus se hemelvaart is ons geseend met die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Dit is ‘n heilige tyd waarin ons Hom in oorvloed kan ken – diê wat na Hom roep. Soos lewende water verkwik Hy jou . Doen en sê die regte dinge. Gaan bloot aan met leef – en doen jou bes – al woed die storms. Ondersteun mekaar met alles wat jy het. Bid vir jou leiers wat jou saak moet beskerm dat hulle moed kan hê – ondersteun hulle soos hulle nodig het. . Ek as mens het ook heelwat lesse geleer = die grootste een = Leef in eenvoud en sorg dat jy jou naaste liefhet, al is dit ook wie.

Frans ·

God is nie ‘n paniekknoppie wat jy druk as jy hom nodig het nie, Dit is enige mens se plig om in die misdadidge omstandighede waarin ons leef alle voorsorgmaatreëls te tref om hom en sy gesin veilg te hou.
Israel was nooit ‘n passiewe ongewapende mag toe hul Egypte verlaat en deur die woestyn na die beloofde land getrek het.Ons sien vandag in die Midde Ooste wat gebeur met mense
wat nie instaat is om hulself te verdedig nie en waar die regering se beskermingsmag afwesig is, omdat dit self misdadig geword het.

In Suid Afrika gaan dit nie om ‘n geloofstryd nie-dit gaan om die taal en behoud van ‘n klein groepie mense wat op alle gebiede eenkant gestoot word. Ons verloor dus nie meer ons lewens omdat ons gelowig is nie maar omdat die huidige regering met onvanpaste uitsprake oor taal, grond en geskiedenis mense teen Blankes opsweep.

As jy dus nie bereid is om op te staan vir dit wat vir jou kosbaar is nie-gaan bid jou niks help nie.Daarvan getuig die geskiedenis van Israel.

Steveb ·

Mugabe en Zuma gaan ook vir jou sê hulle is christene. Ons het nie noodwendig christene nodig nie maar earlike mense met common sense en goeie morele waardes of hulle nou christene, moslems, ateiste of wat ookal is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.