Uber en uit!

‘n Skermskoot van die Uber-toepassing.

Geoordeel aan die “getoet” wat ek al hoe meer hoor, weet ek ek is nie die enigste een wat grensloos geïrriteerd is met Uber-bestuurders nie. Dié persoonlikheidslose motors is deesdae oral te sien en dit wil voorkom asof die bestuurders hulself die “vryheid van die pad” toeëien  én nuwe verkeersreëls optower so ver soos hulle ry.

Net gister weer moes ek op my tande byt om beskaafd te bly. Ek het ’n doktersafspraak gehad en sou mooi op tyd gewees het, was dit nie vir die wit Corolla wat soos ’n slak voor my aangekarring het nie. Die man (op sy selfoon) was duidelik in geen haas nie en doelloos aan die rondry al wagtende op ’n passasier. En dié het toe seker te voorskyn gekom, want die volgende oomblik trap die man rem en stop dóód. Reg voor my, sonder waarskuwing. Was dit nie vir my redelike volgafstand en suspisie oor die bestuurder se padvaardighede nie, sou my swart motortjie sonder twyfel vandag by die paneelklopper gestaan het.

Ek weet die Ubers verskaf ’n noodsaaklike diens en ook uitkoms aan duisende migrante uit Afrika wat desperaat is vir werk, maar hierdie manne (en deesdae ook al hoe meer vroue) benodig opleiding! Om teen ’n blinde hoogte te parkeer, teen 30 km/h in druk stadsverkeer rustig te cruise met motors wat agter opdam, of by ’n stopteken stil te hou en gou ’n selfoonoproep te maak, is klaarblyklik deel van baie van hulle se modus operandi.

En klagtes ís daar. Die maatskappy, wat in San Francisco in die VSA gebaseer is, moet gereeld bontstaan om bewerings van onetiese arbeidspraktyke, die ondermyning van die tradisionele taxibedryf en verkeersontwrigting die hoof te bied.

Tog gaan Uber van krag tot krag met ’n beraamde 110 miljoen gebruikers in 785 metropolitaanse gebiede wêreldwyd. En Uber begin vanjaar in vennootskap met Volvo sy derdegenerasie-selfbestuurmotors op openbare paaie toets. In die woorde van Dara Khosrowshahi, die maatskappy se uitvoerende hoof: “Nou word selfbestuurmotors deel van Uber se uiteindelik doelwit om die een-stop-winkel te word vir die vervoer van mense wêreldwyd.”

Dit is dus nog lank nie die einde van Uber se meteoriese opgang én meer Ubers op die pad nie. Ons kan net hoop dat daardie blikbreine met goeie padreëls én padvaardighede geprogrammeer word…

Noem my ou skool, maar gee my enige dag die (nou effens afgeleefde) swart taxi’s wat van Seepunt af ry en vooraf telefonies met my die reëlings tref. Soveel meer persoonlikheid. “Middag mevrou, hoe kan ons vandag help?” in daardie lekker, eg-Kaapse aksent.

Om terug te kom by die Uberbestuurder wat gister in die middel van die besige pad so sonder seremonie voor my rem getrap het: ek hét my motor van die pad afgetrek, uitgeklim en vol vuur aan sy venster gaan klop.

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

’n Skitterwit glimlag het my begroet terwyl die venster stadig oopgegaan het.

Do you need a ride, Ma’am?

En voor ek ’n woord kon inkry… “My parents called me Frederico but you can call me Freddy. At your service, Ma’am!

Uber en uit!

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charmaine ·

Dis nie net UBER bestuurders wat toeter blaas nie, die Quantum en and taxi bestuurders is erger. Ek het verlede wee amper my kar omgegooi toe een van hulle reg langs my toeter blaas ek het so geskrik die eeste wat ek dink is, wat het ek nou verkeerd gedoen?! Maar dit was darem nie vir my nie!

Rina ·

Ag die Uber taxis volg maar net die minibus taxi’s se swak voorbeeld!
Mens het letterlik party dae hare op jou tande nodig!
En my gebedslewe kry ook sommer nuwe lewe!!!
Soos gewoonlik is daar die ordentlikes, maar helaas!
Gelukkig is hier by ons nog nie soveel Uber taxis nie, so ons verduur maar nog die gewone Minibus taxis.

Ek wonder egter oor een ding: Toe ek nou die oggend my kinders skool toe neem en 1 minibus taxi weer net voor my skielik stop, nie eers “hazzards” aansit nie en mense net uitklim in die middel van die straat, toe vra my seuntjie van 8, Mamma het hulle hul lisensie in ‘n “lucky packet gekry?”

Sterkte vir almal wat met taxi’s, Ubers en ander ongemanierde padvarke moet klaarkom.

Ek sê net elke aand Dankie Heer, ons is almal veilig tuis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.