Uit die Puk-rektor se kantoor: Ondersteuning en gebalanseerde, verantwoordelike debat oor die NWU se toekoms

Prof-Herman-van-Schalkwyk

Prof. Herman van Shalkwyk, rektor van die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: Argief.

Hierdie brief is oorspronklik op die Puk se webwerf gepubliseer onder die opskrif: “Uit die rektor se kantoor”. Dit is opgestel deur prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die NWU – Red.

Ek wil graag my dank uitspreek vir die volgehoue ondersteuning en gebede wat ek en die NWU se Potchefstroomkampus die afgelope tyd van personeel, studente, alumni, ouers en die groter publiek ontvang het. Dit was oorweldigend.

Die breë ondersteuningsgebied se stemme speel ʼn belangrike rol in die debat oor die toekoms van die Noordwes-Universiteit. Ek wil ook alle belanghebbendes uitnooi om op ʼn gebalanseerde en verantwoordelike wyse by die debat betrokke te bly, veral waar dié debat belangrik is vir die NWU en sy rol vorentoe.

My ervaring van die afgelope Raadsvergadering oor die strategiehersieningsproses van die NWU was dat dit ʼn opbouende vergadering was, waar almal se standpunte aangehoor en ʼn goeie gesprekplatform geskep is.

Wat my persoonlike posisie as rektor van die Potchefstroomkampus betref, neem ek kennis van die Raad se posisie met betrekking tot die hernuwing van my termyn as rektor. Ek word regtens aangeraai om my nie hieroor uit te laat nie aangesien dit tans die onderwerp van ’n dispuut tussen my en my werkgewer, die Noordwes-Universiteit, is. Wat ek wel kan bevestig, is dat die uitvoerende komitee van die Raad in gesprek met my tree met die oog op die toekoms. In hierdie gesprek sal ek deur twee oorwegings gelei word. Natuurlik my eie persoonlike situasie wat my gesin insluit, want hulle word direk deur hierdie gebeure geraak.

Ek sien my verantwoordelikheid as rektor as ʼn roeping en is van mening dat ek wél nog ʼn belangrike rol in die strategiehersieningsproses het. Dit sal dan ook deel vorm van my gesprek met die uitvoerende komitee van die Raad.

Weereens dankie vir u ondersteuning en opbouende betrokkenheid rakende die strategiehersieningsproses. Ek is vol vertroue dat die NWU, met sy diep wortels, wel daarin sal slaag om ʼn universiteit van uitnemendheid te bly.

Vriendelike groete

Herman van Schalkwyk

Rektor: Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Dankie Prof Herman vir die opofferings en leidende rol wat jy speel namens die studente en die behoud van AFRIKAANS by Pukke.Wees verseker dat daar letterlik duisende mense jou ondersteun en dat vorentoe dit nog kan boemerang in die gesigte van diegene wat op agterbakse wyse die huidige stelsel probeer omverwerp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.