Uit die Puk-rektor se kantoor: ‘Spanning’ by die NWU

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

Hierdie brief is oorspronklik op die Puk se webwerf gepubliseer onder die opskrif: “Uit die rektor se kantoor“. Dit is opgestel deur prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die NWU – Red

Beste kollegas,

Na aanleiding van gebeure die afgelope tyd, wat ons Universiteit direk raak, ag ek dit noodsaaklik om op hierdie wyse met u te kommunikeer.

In die onlangse verlede was daar heelwat berigte in die media rondom die strategiese proses wat die NWU tans deurloop. Die jongste voorbeeld daarvan was die afgelope naweek in Beeld (7 Maart). (Lees die berigte hier, hier en hier.) Die twee hooftemas van die naweek se berigte, wat ook ʼn samevatting is van die mediaberigte, is:

  • Dat daar spanning is rondom die strategiese proses en veral tussen die NWU-bestuur en die Potchefstroomkampus, en dat dié spanning sleg is vir die land.
  • Bydraend tot hierdie spanning, word die verhouding tussen die Visekanselier en my as motivering gegee.

Gekoppel aan hierdie twee temas, het Beeld ook die indruk geskep dat ek nie op hul navrae wou reageer nie. Sulke foutiewe bewerings in die openbaar kan nie onbeantwoord gelaat word sonder dat die NWU benadeel word nie.

Die debat is verder versterk deur ʼn mediakonferensie wat die Institusionele Studenteraad Maandag 9 Maart gehou het, sonder dat die Potchefstroomkampus se SR betrek is.

Ek is bewus daarvan dat hierdie berigte onsekerheid by personeel, studente en ander belanghebbendes skep en dat daar ʼn behoefte vir meer inligting is. Daarom het ek dit goedgedink om met u te kommunikeer. Ek hoop dat dit sal bydra dat u die debat sal kan volg, konstruktief daartoe sal kan toetree en dat dit meer perspektief sal gee en só rustigheid sal skep. Ongelukkig was die kampusbestuur vir ʼn lang periode verhoed om inligting oor die proses te kommunikeer.

Dat daar spanning is tussen die NWU-bestuur en die Potchefstroomkampus, en dat dit sleg is vir die land

Die Universiteit is in ʼn strategiese beplanningsproses wat potensieel ook implikasies vir die bestuursmodel en struktuur van die NWU inhou. Daarom is dit belangrik dat daar ʼn debat onder interne en eksterne belangegroepe gevoer word. So ʼn debat kan tog nie sleg wees vir die land nie en moet eintlik aangemoedig word.

Goeie universiteite sal tydens ʼn strategiese herposisioneringsproses daarop fokus en dit sy hooftema maak om sy kernbesigheid te versterk. Suid-Afrika sal ook baie daarby kan baat as meer van sy universiteite met die bestes in die wêreld kan skouer skuur.

Enige strategiese proses verloop makliker wanneer daar gemeenskaplike gronde is. Dit beteken dat daar ʼn gemeenskaplike visie of droom moet wees waaroor saamgestem word. Dit geld ook vir waarheen ons op pad is en die gevolge wat dit vir die Universiteit inhou. Indien dit in plek is, is dit makliker om by die droom uit te kom en is die interne en eksterne debat makliker te bestuur, want dan gaan dit net oor verskillende maniere om daarby uit te kom.

Alhoewel daar op ʼn suksesmodel vir die NWU vir die toekoms besluit is, neem die debatvoering ons telkens terug na transformasie en ʼn ander bestuurstruktuur. Dít word dan die nuwe einddoel.

Dat transformasie belangrik is, word deur die kampusbestuur onderskryf. Ons doen dit in ooreenstemming met die transformasiedoelwitte wat die Raad van die NWU in 2012 goedgekeur het, naamlik: Diversiteit, Toegang, Belyning, Herstel, Gelykheid, Hulpbrontoewysing, Verhoogde eenheid, Studente-ervaring, Sukses en Kwaliteit. Ons is besig om ons strategieë tot uitvoer te bring om in ál hierdie opsigte te transformeer, en nie eensydig net ten opsigte van gelykheid nie.

Bewys hiervan is dat ongeveer 66% van die NWU se studente swart is (kontak en afstand). Wat kontakstudente betref, is 54% van alle studente swart. Wat personeel betref, is 37% swart. Wat die Potchefstroomkampus betref, is 65,3% van alle studente oor al ons programme (kontak en afstand) swart, terwyl 26% van die kontakstudente swart is, en 25% van ons personeel. Hierdie statistiek vergelyk goed met die amptelike data van die ander universiteite, wat onder die top sewe in Suid-Afrika tel.

Vergelykende statistiek ten opsigte van transformasie en ander sukses-indikatore kan hier gesien word.

Dit is dan ook gepas om almal te bedank wat bygedra het tot die sukses en die algemene status van die Universiteit oor die afgelope paar jaar, soos die tabel wys.

Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar dat spanning sal ontstaan wanneer die ervaring is dat getalle-transformasie nagestreef word, in plaas van wel oorwoë transformasie- doelwitte met die oog op die verbetering van die kernbesigheid van die Universiteit. Wat die bestuur van die Potchefstroomkampus bekommer, is dat die voorgestelde “een fakulteit een dekaan oor kampusgrense heen” -model potensieel groot implikasies vir die kampus se toekomstige kliënte kan inhou. Dit mag veroorsaak dat ons groot getalle studente verloor.

Voorts vind die beplanningsproses stuksgewys plaas wat mag veroorsaak dat daar tot iets ingestem kan word, sonder dat die geheel of einddoel bekend is. Later – wanneer die gevolge duideliker word – is jy klaar gekompromitteer.

Belyning van die NWU se akademiese aanbod word gebruik as motivering vir die “een fakulteit een dekaan model”. Belyning en effektiewe bestuur word heelhartig deur die Potchefstroomkampus-bestuur gesteun. Dit is egter nie nodig om die bestuursmodel radikaal te verander en só potensieel nuwe probleme te veroorsaak nie. Ons is van mening dat daar baie alternatiewe metodes is om die probleem aan te spreek, maar dan moet dit eers behoorlik geïdentifiseer en verstaan word.

Beweerde weiering van kommentaar op media-navrae

In die Beeld van 7 Maart is daar in twee berigte beweer dat ek nie kommentaar wou lewer nie. Die eerste navraag het gehandel oor die verlenging van my termyn en die interne ondersoek wat teen my geloods is. U sal begrip hê dat ek regtens hierop nié kommentaar kon lewer nie, en dat ek die versoek daarom na die Institusionele Kantoor verwys het.

Op die tweede navraag (oor onder andere die strategiese proses) het ek wel kommentaar gelewer. Beeld het egter verkies om dit as “geen kommentaar” aan te bied.

My formele en enigste kommentaar was: “My ervaring van Beeld se beriggewing die afgelope tyd oor my en die Potchefstroomkampus was dat dit nie objektief of gebalanseerd en dus regverdig was nie.”

Ek het intussen by Beeld beswaar gemaak oor die foutiewe aanhaling. In ʼn interne proses by die Nasionale Persgroep, is my beswaar gehandhaaf, soos in die briewekolom van Beeld op 11 Maart verskyn het.

My frustrasie met die betrokke koerant en daarom ook my antwoord op hul navrae, kom oor ʼn lang tyd. Sonder om u met detail te bemoei, het dié frustrasie verlede jaar daartoe aanleiding gegee dat ons ʼn formele klag, met die medewete van dr. Theuns Eloff as visekanselier, by die Persombudsman ingedien het. Na dr. Theuns se bedanking, is hierdie klag egter téén ons advies teruggetrek.

Die verhouding tussen my en die Visekanselier

Anders as die indruk wat in koerante geskep word, is die spanning tussen my en die Visekanselier nié persoonlik van aard nie. Die verskille handel oor sake van kernbelang vir die NWU soos die vertrekpunte, verloop en uitkomste van die strategiese beplanningsproses. Hieronder tel die de facto implementering van ʼn nuwe bestuursmodel wat nog nie aan die Senaat of die Raad voorgelê en goedgekeur is nie. Dit het onder andere veroorsaak dat die Potchefstroomkampus een van sy hoogs aangeskrewe viserektore verloor het.

Die pad vorentoe

Die Bestuur van die Potchefstroomkampus bly verbind daartoe om konstruktief deel te neem aan die beplannings- en visioeneringsproses. Dit is jammer dat ons insette en goedgemotiveerde deelname om die NWU na ʼn nog hoër vlak te neem en skade te verhoed of te beperk, gesien word asof dit onnodige spanning veroorsaak. Die feit dat daar aanvanklik nie behoorlik gekommunikeer kon word oor die proses nie, is dalk bydraend tot dié persepsie.

Ons gaan voort om die Potchefstroomkampus se saak op die tafel te sit. Ons onderneem egter om die gesprek voortaan na ʼn breër basis te neem om sodoende te sorg dat ons die standpunt van die Potchefstroomkampus effektief oordra.

Die NWU bevind hom in ʼn stroomversnellingstyd. Ons Universiteit het diep wortels en ons weet waar ons krag vandaan kom. Daarom gaan ons die toekoms met hoop en verwagting tegemoet.

Ek gee om; ek weet jy gee om. Saam sal ons die NWU na hoër hoogtes neem.
Vriendelike groete
Herman van Schalkwyk
Rektor: Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Prof van Schalkwyk se brief was toe darem in die Beeld, sonder enige kommentaar / verskoning daarby.

Bruno Stef ·

Net vir die nodige inligting wat het geword van die eis teen Jonathan Jansen by die OFS universiteit of is dit buite die hof in die stilligheid geskik met belasting betalers geld.

Johannes ·

My persepsie is dat die aanslag op die Afrikaner al hoe feller word, met die einddoel om hom van sy gronwetlike reg tot moedertaalonderrig te ontneem, onder die valse voorwendsel van transformasie. Maar wat ek nooit sal verstaan nie , is hoekom ‘n jong Afrikaner man soos Adriaan Basson duidelik nie die kernbelange van die Afrikaner op die hart dra nie, wel dis maar my persepsie, en ek glo duisende ander Afrikaners sien dit ook so. Gelukkig is daar darem nog baie goeie en sterk Afrikaners soos Prof van Schalkwyk wat wat die prosesse by die NWU met uitnemendheid bestuur. Hy is waarlik iemand met ‘n visie vir die Afrikaner se toekoms by die NWU. Hy het my volle ondersteuning en ek wens hom alle sterkte toe vir waarmee hy daar besig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.