Vakansieplanne: Pak daai tassie vir medisyne

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Roger Brown/Pexels)

Deur dr. Wilhelm von Ludwig

My pa het altyd ʼn sê-ding gehad: “As jy wonder of jy iets moet doen, moenie! Maar as jy wonder of jy iets moet inpak, pak dit in!” Met so ʼn mantra wat in die huis rondgehang het, het ons alles ingepak as ons met vakansie gegaan het. Ons stasiewa was later nie meer ruim genoeg nie, en ʼn bakkie met ʼn sleepwaentjie agterna moes ingespan word om die huisraad heen en weer te kon trek.

Met die medisynetassie kan dit dikwels ook so gaan. Ons weet almal mediese noodgevalle en irritasies gebeur gewoonlik in die nag of ver weg van ʼn dokter af en ons wil voorbereid wees. Siektes en vakansie is immers soos beurtkrag en waaiers op someraande.

So hier volg ʼn voorgestelde medikasie-lysie vir die vakansie:

Chroniese medikasie

As jy of die mense wat saam met jou gaan chroniese medikasie gebruik, maak seker die voorskrifte is steeds geldig en dat daar genoeg van die chroniese medikasie saamgeneem word. Ten minste ʼn week ekstra se voorraad behoort genoeg te wees. Neem ook ʼn selfoonfoto van die voorskrif of die medikasie se verpakking sodat dit altyd by jou kan wees. Die “klein wit pilletjie” en die “bloeddrukpil wat soos ʼn rugbybal lyk” is ongelukkig nie ʼn voldoende beskrywing vir ʼn dokter of apteker nie.

Kontakte

Dokters se telefoonnommers, jou lêernommer by die praktyk en dies meer kom handig te pas as jy skielik by vreemde mediesesorggeriewe opeindig. As jy by my opeindig, sal ek wil weet watter hart of longsiekte jy laas jaar gehad het, en alhoewel die mediese gemeenskap kleiner as ander beroepe is, is ek nie noodwendig huisvriende met “dok Gerrie van Burgersfort” nie. Gevolglik is sy privaat nommer nie op my foon gestoor nie.

Verbande

Baie van die kommersieel beskikbare noodhulptassies het soveel verbande, gaas en haakspelde dat ek partykeer wonder of hulle dink ek gaan doeke ruil in ʼn oorlogsone.
As ʼn wond so groot is dat dit steke benodig, gaan jy sekerlik nie ʼn pleister plak en verder visvang nie. Vir kleiner wonde, is ʼn pakkie gewone pleisters – en simpatie – meer as voldoende.

Maag

Maagprobleme kan nogal mors met jou vakansieplanne. Kry goeie naarpilletjies by jou plaaslike dokter en Smecta (nee, ek word nie deur hulle betaal nie) kan vir diarree ingepak word. Laasgenoemde is veilig en kan vir die hele gesin gebruik word. Sooibrand is jou grootste vyand na Kersete. As jy oor-die-toonbank lansoprasool en ʼn vloeibare teensuurmideel soos Gaviscon in jou tassie het, sal jy my uit dankbaarheid ook nooi vir volgende jaar se ete.

Hoes

Die meeste lugweg-infeksies is viraal van aard en kan met oor-die-toonbank medikasie hanteer word. ʼn Goeie antihistamien is gewoonlik voldoende om te help met die meeste nasale simptome en allergiese uitslae op ʼn vel. ʼn Asmapompie kan ook klaarspeel met die meeste hoesbuie. Soutwater as sinusspoel is iets wat ook altyd in my tas is.

Koors en pyn

Dr Wilhelm von Ludwig (Foto verskaf)

Daar is twee hoofgroepe pyn- en koorsmedikasie wat veilig is vir die meeste volwassenes en kinders en wat sonder ʼn voorskrif beskikbaar is. Parasetamol en Ibuprofeen. Vra jou apteker vir ʼn pakkie van elk wat niks anders bevat nie. Hulle kan ook in die meeste gevalle saam gebruik word vir erge pyn aangesien hulle op verskillende plekke van die liggaam werk. Maak asseblief seker oor die dosis, veral as dit by kinders kom.

Individuele nood-items, soos ʼn EpiPen, reken ek gewoonlik in by chroniese medikasie, maar ek noem dit hier om klem daarop te lê.

Die feit van die saak is, as iets so ernstig is dat jy voorskrifmedikasie benodig, moet jy liefs eerder ʼn dokter gaan sien. Bekommerde pasiënte bel my gereeld van regoor ons mooi land om te hoor of ek antibiotika vir hulle of hulle kinders kan voorskryf. Die feit dat antibiotika voorgeskryf word, beteken dat die persoon so siek is dat hulle eerder in persoon deur ʼn geneesheer gesien moet word.

“Maar ons wil nie ʼn vreemde dokter sien nie,” is gewoonlik die laaste protes. Sien dit egter as ʼn geleentheid: Dalk ontmoet jy vir dok Gerrie van Burgersfort, en raak julle selfs huisvriende.

Let wel: Die raad wat hier genoem word, is my eie opinie en word nie geborg deur enige farmaseutiese maatskappy nie. Verder moet elkeen asseblief by hul eie geneesheer uitvind of die betrokke medikasie gepas is vir hulle. Hierdie is algemene advies en nie gerig op individue nie.

  • Wilhelm von Ludwig is ʼn algemene praktisyn wat in Polokwane praktiseer. Volg hom op TikTok of Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.