Valentynsdag vir alleenlopers

Valentynsdag

Foto: Pixabay.com

Dis weer daardie tyd van die jaar: Die winkels is vol pienk en rooi harte en die rakke staan volgepak met sjokolade- en borrelbadpakkies spesiaal opgemaak, en as jy twee koop, kry jy nog een gratis. My e-pos loop oor van advertensies met spa-pakkette vir “my en my geliefde” en ek kan selfs rose gratis laat aflewer as ek nóú bestel. Sug.

As adverteerders maar net geweet het dat ek saam met vriende (of my ouers) dié dag gaan deurbring, sou hulle nie eers moeite doen om e-posse te stuur nie.

Nou wat doen ʼn mens op Valentynsdag as jy enkellopend is? Ek het (gelukkig) nog vriende wat ook alleen is, maar dié klomp is besig om al hoe minder te word. Ek kry uiteenlopende reaksies as ek vra wat húlle planne vir Valentynsdag is. ʼn Vriendin in die Kaap sê sy het ʼn “warm afspraak” – sy gaan haar tekkies aantrek en ʼn wedloop aanpak. Ek het respek vir haar want ten minste doen sy iets vir haarself. ʼn Kollega sê hy gaan sy sorge in duur koek en wyn verdrink en na romantiese rolprente kyk. ʼn Universiteitsmaat sê sy gaan haarself in die huis toesluit want sy wil nie in ʼn klomp verliefdes vaskyk nie. Ander sê dis net nog ʼn dag en die lewe gaan voort soos normaal.

Ek het nog nooit regtig vreeslike emosies oor Valentynsdag gehad nie, selfs wanneer ek blomme en sjokolade gekry het. Ek het eers gedink daar is iets fout met my, maar toe ek sit en dink oor wat die rede kan wees, besef ek dat Valentynsdag vir my soos nuwejaarsvoornemens is: Vreeslike groot beloftes en gebare wat op een dag gemaak word, is gewoonlik nie volhoubaar nie. Ja, ʼn mens moet êrens begin, beslis, maar dié beloftes (aan jouself of ʼn geliefde) moet mos daagliks gebeur?

Dit is goed om dae soos Valentynsdag te hê – dis ʼn geleentheid om weer herinner te word aan alles wat jy gesê het jy gaan doen. As jy ewige trou aan iemand beloof het, laat jou woorde nie net woorde bly nie.

Dit hoef nie noodwendig in die vorm van rose en sjokolade te wees nie, maar ek dink dis die klein gebare wat die meeste sê. Niks sê “ek het jou lief” soos ʼn warm koppie koffie en ʼn sterk skouer wanneer die dag net te lank was nie.

My wens vir elkeen (met of sonder ʼn geliefde) is dat Valentynsdag weer ʼn bevestiging sal wees van al die beloftes wat jy aan jouself en iemand anders gemaak het.

Hoewel ek nie veel gepla is oor Valentynsdag nie, sal wyn, koek en ʼn romantiese fliek nie te versmaai wees nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eliza-beth ·

Valentynsdag – sommer net pret. Van ‘n ge-belowery van dinge weet ek nou nie, dis nie vir my waaroor Valentysdag is nie maar sommer net ‘n pretdag om die mooiheid van die liefde te vier – of dit nou korstondig of ‘n lewenslange storie is. Vier dit om die liefde self eerder as om ernstige dinge aan dit vas te knoop sê ek. Want wat is wondelriker as die liefde- of jy liefde tussen mense, liefde vir jou troeteldier of liefde vir die lewe self vier – vier dit!

SkarrelKind ·

Ek dink jy het dit baie mooi gestel. En in daardie geval: Gelukkige Valentysdag Sondag!

Eliza-beth ·

Skarrelkind – vir jou ook! AG nee wat Hennie, dis mens se eie skuld as jy vir die winkels se goete val – ‘n blommetjei uti die tuin, handgemaakte kaartjie is opreg en net so welkom wat! En as mens gereeld ‘n choccie eet, hoekom nie op Valentyns ook – sit ‘n mooie tuinblommetjie by. VIER die leifde – dis lekker!

Eliza-beth ·

..en van pure haas is ek sommer disleksies ook – moet natuurlik wees “blommetjie”, “uit” en “liefde” !!

Salome ·

Dag sê almal , ek is al solank alleen dat ek al vergeet het hoe is dit om bederf te word. Valentynsdag behoort elke dag
te wees en nie een spesifieke dag in ‘n jaar nie…..

Eliza-beth ·

@Salome – nou-ja ek wens jou dan ‘n Valentynsdag toe en bederf jouself man! Sommer iets kleins, lekker laaaang bad met lekkerruik badgoedjies (hoef glad nie die duurste te wees)by kerslig en ‘n choccie, hoekom nie? Ja, liefde moet heeljaar gevier word, maar wat, om ‘n spesiale dag daarvoor uit te sonder is pret, hoekom nie?

Karin Bloem ·

Hierdie enkel-ouma kry mooi Valentynswense van haar kinders en kleinkinders wat vir my kosbaar is, maar omdat hulle almal ver weg woon, sal ek en my liewe worshond-kind die dag heerlik saam geniet. Ek sal vir haar ‘n hartjie maak uit eetgoed en weer vir haar vertel hoe lief haar ounooi haar het – en ek weet ek sal beloon word met baie hondesoene en stertswaaie! Gelukkig Valentyn aan almal xx

Eliza-beth ·

@Karin Bloem – daar’s hy, dis die gees! Geniet jou Valentynsdag!

Siela ·

Hiep Hiep Hoera Skarrelkind!!!!! Ons is 34 jaar getroud en weet v Valentynsdag seker net d helfte daarvan.. N geldmaakfoefie soos min!! Ek en my man sien dit presies soos jy…. Dis rooi harte ens ens om elke hoek em draai Advertensies ens.. Nee wat d media weet hoe om mens se laaste sente ook te kry. Liefde is elke dag 365 dae n jaar maar voorgesê’de liefde.. Nee wat net skyn. Geniet elke dag met liefde vir jou God.. Vir jouself.. Jou mense.. Jou diere.. Jou lewe.. Die natuur ens ens. Dus geseënde elke dag vir jou!!!

nig ·

Siela, jy is in die war. Skarrelkind het niks gese van geldmaakfoefie. Viva die liefde en viva ‘n pret dag soos Valentyns waarop die leifde gevier word. Ek stem met Eliza-beth!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.