Vandag is Internasionale Verbruikersregtedag

verkope-koop-aankope

(Foto: Rawpixel/Unsplash)

Vandag is Internasionale Verbruikersregtedag, wat jaarliks op 15 Maart gevier word. Die dag word al sedert 1983 uitgesonder om verbruikers daaraan te herinner om aktief toe te sien dat hul regte gerespekteer word en wêreldwyd saam te staan vir verbruikers. Ina Opperman het gaan kyk hoe Verbruikersregtedag vandag gevier word en hoe dit ook in Suid-Afrika gedoen word.

Consumers International (CI) is ’n internasionale verbruikersorganisasie wat die tema vir elke jaar se vieringe kies. Vanjaar se tema is “Pak plastiekbesoedeling”, wat verbruikers se aandag daarop vestig dat hulle die mag in hul beursies hou om te sorg dat die mark regverdig, veilig en volhoubaar is vir almal.

Niemand sal stry dat plastiekbesoedeling deesdae krisisafmetings aanneem nie. Al kan plastiek ’n baie bruikbare materiaal wees in ons daaglikse lewe, het ons gebruik en produksie van plastiek onvolhoubaar geraak.

Die Pew Charitable Trusts and SYSTEMIQ-verslag, “Breaking the Plastic Wave”, wat in Augustus verlede jaar bekendgestel is, bereken dat die vloei van plastiek na die see sal verdriedubbel teen 2040 indien ons nie nuwe oplossings uitdink en ons beleid en gedrag verander nie.

Daarom reken Consumers International dat die tyd nou daar is om plastiekbesoedeling uit te lig, behoorlike aandag daaraan gee en aan te pak, aangesien die pandemie nou weer lei tot die gebruik van enkelgebruikplastiek, soos maskers, handskoene en kosverpakkings.

“’n Totaal van 82% deelnemers het in ’n wêreldwye studie in 2019 aangedui hulle weet van plastiekbesoedeling en doen klaar iets om dit hok te slaan. As ’n globale verbruikersbeweging moet ons verbruikers ondersteun om ondernemings, regerings en die burgerlike samelewing aan te spoor om plastiekbesoedeling aan te pak en volhoubare gebruik aan te moedig.

Die organisasie beplan om vanjaar namens verbruikers voorspraak te maak wat sal eis dat regerings en ondernemings hul sienings oor plastiek moet verander en die 7 R’e (in Engels) van afvalbestuur nakom: vervang (replace), herdink (rethink), weier (refuse), verminder (reduce), hergebruik (reuse), herwin (recycle) en herstel (repair).

“Plastiekbesoedeling is een van die grootste kwessies wat ons planeet moet hanteer. Verbruikers begin wêreldwyd al hoe meer bewus raak van die probleem met plastiek. Verbruikers vervul ’n belangrike rol in die mark en ons hulle moet ondersteun om ondernemings en regerings so ver te kry om volhoubare gebruik te verseker,” sê Helena Leurent, direkteur-generaal van Consumers International.

Hoe vier ons die dag in SA?

Die Nasionale Verbruikerskommissie het besluit om in sy vieringe af te wyk van die internasionale tema en liewer aandag te skenk aan die “Beskerming van verbruikers in die tyd van Covid-19”.

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK/NCC) het vanjaar gewerk saam met die Vrystaat se department van ekonomiese sake, kleinsake en omgewingsake, die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS/NRCS), die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, (Okosa/ICASA), die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste (CGSO), Ombudsman vir die Motorbedryf (MIOSA), Nasionale Kredietreguleerder (NKR), Finansiële Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) en verskeie reguleringsliggame onder die sambreel van die Verbruikersbeskermingsforum oftewel Consumer Protection Forum (CPF).

Die program is bekendgestel in die Vrystaat om te fokus op die regte en verpligtinge van verbruikers tydens transaksies. Die Fort Hare-Universiteit se regsfakulteit het ook as deel van die vieringe sy verbruikersregmodule bekendgestel wat vir studente in hul vierde jaar aangebied sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

deHAS ·

Ja, dit was glad nie regerdig dat ‘n foon netwerk jou lugtyd/data/sms’e terug vat na 3 maande wat dit nie gebruik word nie. Ek het stoele in my huis wat ek nie gebruik nie en die persoon by wie ek dit gekoop het kan dit nie terug vat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.