Verbruikersake: Rek jou rande met jou bonus

geld 4

Argieffoto.

Dis bonustyd, nie net vir die kleinhandelaars nie, maar ook vir gewone verbruikers wat gewoonlik in Desember hul dertiende tjek of ʼn ietsie ekstra ontvang. Impulsiewe kopers sal dalk dadelik die winkels invaar en koop vir die vale, maar dis beter om eers na te dink en jou huiswerk te doen terwyl jou bonus in jou bankrekening asem skep. Ina Opperman gee wenke oor hoe jy jou bonus kan gebruik om jou rande te rek.

Jy kan jou rande rek met jou bonus deur skuld af te betaal, wat sal verseker dat jy meer besteebare inkomste het in 2019, of jy kan voorsiening maak vir Januarie, wanneer die meeste verbruikers met plat beursies en ekstra uitgawes sit of jy kan dit spaar of belê en rente verdien.

Met Suid-Afrikaanse verbruikers se skuldlas is dit moeilik om te spaar en bonusse koop ook nie altyd soveel soos in die verlede nie. Dit sal daarom ʼn goeie idee wees om jou bonus te verdeel tussen alles wat jy daarmee kan doen. Gebruik byvoorbeeld die helfte om skuld te betaal, 40% om vir 2019 voorsiening te maak en 10% om jou gesin te bederf.

Pak jou skuld

Jy kan jou bonus gebruik om jou skuld te verminder. Begin by die duurste skuld, wat gewoonlik jou kredietkaart is. Wanneer jy ʼn groot bedrag op jou kredietkaart afbetaal, bly die bedrag in elk geval beskikbaar vir ʼn noodgeval, soos ʼn hospitaalopname of ʼn motor wat breek. As jy nog ʼn deel van jou bonus oor het, probeer dan om enige persoonlike lenings af te los. Pak jou klererekeninge volgende en daarna jou huisverband. Op al hierdie rekeninge spaar jy rente as jy dit vinniger afbetaal.

geld spaar spaarvarkie pensioen

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Op spoed vir 2019

Januarie is nie verniet bekend as die langste maand in die jaar nie, aangesien almal nuwe uitgawes soos skoolgeld en skryfbehoeftes het in die eerste maand van die jaar nadat die Kerstyd ook nog in jou beursie doenig was. As jy dus jou bonus spaar om jou las ligter te maak in Januarie, sal jy nie spyt wees nie.

Jy kan jou bonus ook gebruik om gereelde betalings eenmalig te doen, soos skoolgeld, universiteitsgeld en versekering, veral as die eenmalige betaling gepaardgaan met ʼn afslag. Dit sal ook beteken dat jy nie die maandelikse uitgawe het nie, wat jou beursie ʼn bietjie dikker sal maak.

Spaar of belê

As jy nie skuld het nie, is die beste opsie om jou bonus te spaar of te belê. Dit sal beteken dat jy rente verdien, geld beskikbaar het vir ʼn noodgeval of die geld het om jou drome te verwesenlik, of dit nou is om te trou, oorsee vakansie te hou of jou kwalifikasies te verbeter. Maak planne vir die nuwe jaar en kyk hoe jou bonus jou kan help om die planne uit te voer. Jy kan ook jou aftreefondse aanvul met jou bonus.

Bederf jou gesin

Gebruik ʼn deel van jou bonus om jou gesin te bederf. Almal het lus om aan die einde van die jaar bietjie pret te hê en as jy mooi beplan kan die deel van jou bonus wat jy hiervoor gebruik jou en jou gesin beloon vir ʼn jaar se harde werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.