Verbruikers se grootste bankpyne en wat jy daaraan kan doen

(Foto: Pixabay)

Ons lewe in ʼn tyd van verandering en baie ondernemings moes vrede maak met al die veranderings weens Covid-19, soos die groot skuif na aanlyn platforms wat meegebring is deur sosiale afstandhandhawing. Hierdie verandering is egter nie sonder struikelblokke nie en banke moet hard werk om hul stelsel by te werk sodat hulle kan voldoen aan die tegnologiese vereistes van hul kliënte. Ina Opperman het gaan kyk na al die huidige uitdagings vir verbruikers en hoe om dit te bowe te kom.

Dit is waar dat banke baie doen, maar hulle is ook soms verkeerd. Die pandemie het baie finansiële druk op verbruikers geplaas wat hulle moet hanteer en hulle het bloot nie die geld om hofsake te maak teen banke wat hulle nie onregverdig hanteer nie.

Gelukkig is die Ombudsman vir Banke daar om verbruikers te help, met Reana Steyn aan die hoof as Ombudsman. “In baie ondersoeke wat ons gedoen het, het ons gevalle gekry waar banke daarmee sou weggekom het om verbruikers onregverdig te behandel as dit nie vir my kantoor was nie,” sê sy.

Hier is ʼn paar van die kommerwekkende neigings wat die Ombudsman al geïdentifiseer het en waarvan verbruikers bewus moet wees:

Vaste eiendom

Die Ombudsman het oor die afgelope paar jaar gevalle gekry waar banke vonnisse teen verbruikers se vaste eiendom verkry het wat dan aan die hoogste bieër op ʼn veiling verkoop is. Die opbrengs word dan gebruik om die bank se finansiële verlies te dek.

“Indien die eiendom verkoop word vir meer as wat die verbruiker skuld, kry die verbruiker darem iets uit. As die skuld byvoorbeeld R900 000 was, regskoste ingesluit, en die eiendom word verkoop vir R1 miljoen, word die R900 000 in die huisleningrekening betaal en die R100 000 word aan die bank se kliënt uitbetaal,” sê Steyn.

Sy wys egter daarop dat daar gevalle is waar banke hul handelsdiskresie gebruik en ʼn eiendom self gekoop het, wat andersins vir ʼn belaglik lae bedrag verkoop sou word. In hierdie gevalle word van banke vereis om die koopprys in die verbruiker se rekening te betaal.

Voordat die Ombudsman tussenbeide getree het, het sommige banke die eiendom weer verkoop vir meer as wat hulle daarvoor betaal het en dan nie die bedrag wat die verbruiker toekom in die verbruiker se rekening inbetaal nie.

Roerende eiendom

Volgens Steyn het haar kantoor ook baie klagtes ontvang van verbruikers wat beweer dat hul voertuie teruggeneem is wanneer hulle nie die maandelikse betalings kon bybring nie, sonder dat hulle ʼn vrywillige beëindigingsbrief onderteken het of ʼn hofbevel gesien het.

Die Ombudsman het tot nou toe 460 klagtes ontvang oor voertuigfinansiering. Steyn sê sy het gehoor van gevalle waar verbruikers by winkelsentrums genader word deur mense wat beweer hulle werk vir die bank en moet beslag lê op hul voertuie weens wanbetaling. Sommige verbruikers beweer hulle is gedwing om hul voertuie terug te gee.

Sy is nie tevrede met die optrede van sommige opspoorders van die banke nie en waarsku verbruikers daarteen om hul roerende eiendom vir mense te gee sonder bewys dat hulle die balju is en ʼn oorspronklike hofbevel het wat hulle die mag gee om die bates te vat.

Steyn raai verbruikers aan om, indien daar geen hofbevel is nie, te onthou dat die enigste ander manier waarop iets soos ʼn motor teruggeneem kan word, is om ʼn beëindigingsbrief te teken en om dubbel seker te maak wat dit is wat jy teken. Sy het al gevalle gehad waar die banke wel die brief het, maar nie voldoen aan die vereistes van die artikel van die Nasionale Kredietwet nie.

Artikel 127 vereis dat die bank ʼn brief aan die verbruiker stuur wat aandui hoeveel die motor of ander roerende eiendom werd is. Die Ombudsman raai banke aan om die uitstaande balans af te skryf indien die vereistes nie nagekom is nie, om die verbruiker te vergoed vir die probleme wat die kwessie veroorsaak het.

Hoe om te kla

Steyn sê verbruikers moet eerstens formeel by die betrokke banke kla en seker maak dat hulle ʼn verwysingsnommer kry. Jy moet die bank dan 20 werksdae tyd gee om iets aan jou klagte te doen. Jy moet ook sorg dat jy ʼn geskrewe antwoord van jou bank kry.

Andersins kan jy kla by die Ombudsman se kantoor, wat jou gratis sal help om probleme of klagtes op te los.

Kla hier:

Jy kan jou klagte se vordering hier volg: www.obssa.co.za/track-a-complaint of die kantoor bel by 0860 800 900.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.