Verbruikersake: 419, die skelmstreek waarvoor selfs bekendes nog val

slenter aanlyn bedrog

Argieffoto.

Almal van ons het al van daardie briefies gekry: iemand het ’n groot klomp geld wat ’n nuwe baas moet kry en jy is gelukkig genoeg om daardie nuwe baas te wees. Die meeste van ons sal die uitveeknoppie druk en aangaan met ons lewens, maar jy sal altyd iemand kry wat dit onwrikbaar glo, selfs al kos dit hom ’n fortuin om die geld in te kry. 419-skelmstreke is al sedert die vroeë 1980’s met ons en word aangepas soos nuwe dinge, byvoorbeeld die pandemie, gebeur. Ina Opperman verduidelik hoe die skelms te werk gaan en waarvoor jy moet oppas.

Mense wat vir hierdie soort skelmstreke val, val net so hard soos diegene wat val vir die aantreklike vreemdeling wat in ’n ander land werk en skielik ’n groot klomp geld moet leen voordat sy skip inkom.

Die 419-briefies is gewoonlik vol taal- en spelfoute, baie hoofletters en maak altyd beloftes van gróót geld. Deesdae is die briefies ook aangepas om meer werklik te klink met verwysings na die pandemie daarin.

Die jongste briefie lui dat die persoon wat aan jou skryf, ’n boekhouer of ouditeur is by ’n bank wat met jou ’n vertroulike sakevoorstel wil deel. Hy skryf dan voorts dat daar ’n ongelooflike hoeveelheid onopgeëiste geld in die bank is wat behoort het aan ’n buitelander wat nou saam met sy hele familie dood is aan Covid-19.

Die skrywer vra dan dat jy saam met hom werk om die geld na jou toe oor te plaas as die naasbestaande tot jou en die skrywer se voordeel en ook “om die behoeftiges te help in hierdie moeilike tyd”. As jy belangstel, sal hy dan meer inligting stuur.

Dit is hoe hierdie skelmstreke werk

Volgens die Reserwebank begin die skelms gewoonlik met ’n brief, e-pos, teksboodskap, faks of inskrywing op sosiale media wat jou inlig dat jy ’n groot persentasie van ’n groot bedrag geld (gewoonlik in dollar en gewoonlik miljoene) kan kry as jy kan help om die geld “los” te kry.

Die geld is gewoonlik erfgeld, ’n kontrakbetaling waarvoor te veel begroot is of geld wat in ’n lotery gewen is. Die boodskap plaas klem op vertroulikheid ten alle tye en sodra jy antwoord, skop die skelmstreek af.

Sodra die skelm ’n positiewe antwoord kry, sal hy vra vir jou bankbesonderhede, paspoort en ID nommer, sowel as ander persoonlike inligting. Hy sal aanhou kommunikeer met jou totdat julle ooreenstem oor hoe en wanneer die geld uitbetaal sal word.

Nou stuur hy vir jou dokumente wat heel werklik lyk, wat na bewering onderteken is deur invloedryke mense, soos die hoof van die Reserwebank of sy adjunk, op ’n briefhoof van die bank. Volgens die dokumente is die geld reg om oorgeplaas te word na jou bankrekening.

Maar nou moet jy jou beursie styf toeknyp, want nou moet jy begin om te betaal om al daardie dollars te kry. Die verskoning is gewoonlik dat jy moet betaal om die klaringsdokumente te kry wat bevestig dat die geld nie bekom is deur dwelmhandel of geldwassery nie. Elke keer is daar iets anders waarvoor jy moet betaal.

Dit is gewoonlik hier waar jy jou tussen die duiwel en die diepblou see bevind: jy verloor die geld wat jy reeds betaal het of jy kan nog geld betaal om nog meer te kry. En dit maak nie saak hoeveel jy betaal nie, die geld daag net nooit in jou rekening op nie. Dit is hoe duisende mense uit duisende rande bedrieg word, want die geld was nooit daar nie.

Reserwebank

Die Reserwebank sê hy kry dikwels versoeke vir hulp van mense wat aan die ontvangkant was van hierdie soort bedrog waar jy eers moet betaal voordat die geld inbetaal word. Hierdie soort bedrog word genoem “advance fee fraud”, ook bekend as “419” of “Nigeriese brief”-skelmstreke. Dit word dikwels “4-1-9” genoem na die artikel in die Nigeriese strafkode wat handel oor bedrieglike skemas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Aikie ·

Die laaste een wat ek gekry het, het my die ekwivalent van R85 miljoen belowe in Dollars. Ongelukkig het ek oë en sien toe dat die spook se e-mail in Duitsland is en ek moet die “bankfooi” in Euros betaal.
Ek lyk miskien soos ‘n pampoen, maar ek is nie onder een uitgebroei nie.

OW ·

Daar is altyd een of ander opportunis wat sal val vir hierdie tipe bedrog.Gaan maar verby.

Anoniem ·

Ek is dalk ‘n aap, maar ‘n ou aap. Jy vang nie ou ape met nuwe truuks nie. Daar bestaan nie iets soos geld waarvoor jy nie gewerk het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.