Verbruikersake: Adverteerders moet jou regte respekteer

advertensies-verkope

Foto: Justin Lim/Unsplash.com

Advertensies is gerig daarop om mense lus te maak om geld te bestee, maar advertensies mag dit net binne die grense van die Wet op Verbruikersbeskerming doen. Dit beteken dat advertensies jou nie mag mislei of bedrieg nie en ook nie liegstories mag gebruik om jou sover te kry om jou sak te skud nie. Ina Opperman verduidelik wat verbruikers se regte is wanneer maatskappye adverteer.

Met die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde wat onlangs gelikwideer is, kan verbruikers dalk meen hulle word nou nie meer voldoende beskerm teen misleidende en oneerlike advertensies nie, maar die Wet op Verbruikersbeskerming is steeds van krag om te sorg dat verbruikers se regte beskerm word.

Deel E en F van dié wet maak dit baie duidelik wat adverteerders en verbruikers se regte is wanneer goedere en dienste bemark word. Deel E van die wet hanteer verbruikers se reg op billike en verantwoordelike bemarking, en deel F jou reg op billike en eerlike verhandeling.

Artikel 29

Artikel 29 stel die algemene standaarde vas vir die bemarking van goedere of dienste en bepaal dat maatskappye, of hulle nou produsente, invoerders, verspreiders, kleinhandelaars of diensverskaffers is, nie hul goedere of dienste op ’n valse of misleidende manier aan jou mag bemark of jou mislei of bedrieg nie.

Dink hier aan daardie lekker hamburger wat geadverteer word teen ’n spesiale prys, maar as jy by die restaurant opdaag, is die een wat jy op jou bord kry, nie eens halfpad so groot soos die een op die advertensie nie.

Hierdie artikel stel dit duidelik dat maatskappye nie oneerlik mag wees oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike van goedere of dienste nie, of hoe en op watter voorwaardes dit verskaf kan word nie. Iemand mag byvoorbeeld nie ’n reis na Europa adverteer teen ’n prys “wat alles insluit” as daar nog ekstra kostes is waarvoor jy sal moet opdok nie en wat jy kan “afbetaal” terwyl jy, wanneer jy bespreek, daarvoor moet betaal nie.

Die maatskappy mag jou ook nie mislei oor die prys waarteen die goedere verskaf kan word nie. Dit sluit die verhouding van die prys met ’n vorige prys of ’n mededinger se prys vir vergelykbare of soortgelyke goedere of dienste in, soos wanneer ’n bank in ’n advertensie sê hy is die enigste wat gratis aanlyn bankdienste bied, maar ander banke doen dit ook.

Hulle mag jou ook nie mislei daaroor dat die maatskappy ’n geleentheid borg indien dit nie waar is nie, soos om te adverteer dat ’n sekere gholfbal deur alle professionele gholfspelers by ’n toernooi gebruik word, terwyl dit nie die geval is nie.

Maatskappye mag jou ook nie mislei oor enige ander wesenlike aspek van goedere of dienste nie, soos om in ’n advertensie aan te voer “alle mans gebruik dit”. Dit is net waar as elke man in die land die produk gekry het en nie betaal is om dit te gebruik nie.

Artikel 41

Voorstellings

Volgens artikel 41 mag maatskappye nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings maak nie en nie deur hul woorde of gedrag direk of indirek ’n valse, misleidende of bedrieglike voorstelling oor ’n wesenlike feit gee nie. ’n Maatskappy mag net in ’n advertensie aandui “ons is die goedkoopste in die land” as hy ’n landwye opname gedoen het en kan bewys hy is inderdaad die goedkoopste.

Oordrywing en dubbelsinnigheid

Hulle mag ook nie oordryf, insinueer of dubbelsinnig wees oor ’n  wesenlike feit nie en nalaat om ’n wesenlike feit bekend te maak indien die versuim op bedrieglikheid neerkom nie. As ’n werknemer by ’n winkel agterkom dat jy totaal onder die verkeerde indruk is oor ’n produk, moet hy jou reghelp en seker maak jy begryp die ware feite.

As jy byvoorbeeld ’n dekodeerder koop met die idee dat jy alle televisiekanale kan ontvang, maar jy neem net ’n kontrak uit vir ’n beperkte aantal kanale, moet die verkoopsman jou reghelp en verduidelik watter kanale jy wel sal kan kyk. Dit is dus die winkel se plig om ’n klaarblyklike wanbegrip by die verbruiker reg te stel as dit kan lei tot ’n valse, misleidende of bedrieglike voorstelling.

Borgskappe en goedkeuring

Winkelpersoneel mag ook nie voorgee dat produkte ’n borgskap, goedkeuring of verbintenis het met iets of iemand as dit nie waar is nie. ’n Tennisraket mag byvoorbeeld nie verkoop word as “die soort waarmee Kevin Anderson speel” as hy dit nie gebruik nie.

Hulle mag ook nie voorgee dat produkte of dienste bestanddele, prestasiekenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte, borgskap of goedkeuring het (wat dit nie het nie), of van ’n bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is, as dit nie die geval is nie. ’n Advertensie mag net ’n produk aanbeveel wat “goedgekeur is deur dokters om jou hart gesond te hou” as elke dokter in die land die produk aanbeveel vir sy pasiënte.

“Nuut”

Winkels mag nie opgeknapte, gebruikte of teruggeneemde produkte as nuut verkoop nie.

Onroerende eiendom

Maatskappye mag nie grond of ander onroerende eiendom bemark met eienskappe wat dit nie het nie, of aandui dat dit wettig gebruik kan word vir ’n doel wat onwettig of onuitvoerbaar is of naby geriewe is wat dit nie het nie, of wat nie beskikbaar of nabygeleë is nie.

“’n Strandhuis met ’n see-uitsig op die strand, naby die sentrale sakedistrik” moet byvoorbeeld presies dit wees: ’n strandhuis teenaan of baie naby die strand met vensters wat op die see uitkyk, naby die winkels en restaurante.

Naverkopediens

Produkte mag ook nie bemark word met misleidende stellings oor die nodige diens-, onderhouds- of herstelgeriewe of onderdele wat geredelik binne of vir ’n redelike tydperk beskikbaar is nie.

Misleidende stellings oor ’n diens, onderdeel, vervanging, onderhoud of herstelwerk, spesifieke prysvoordeel of heffing mag ook nie gemaak word nie. Toestelle mag byvoorbeeld nie verkoop word met beloftes van herstelwerk as dit nie die geval is nie.

Tussengangers

Verteenwoordigers mag nie voorgee dat hulle magtiging het om ’n ooreenkoms te beding of te sluit as dit nie so is nie. Hulle mag ook nie voorgee dat jou regte of regsremediese verpligtinge nie geraak word nie as dit wel geraak word.

Hierdie mense mag jou ook nie na ’n demonstrasie of geleentheid uitnooi of met jou kommunikeer as hulle jou mislei oor die doel daarvan nie, soos tyddeelverkopers wat jou na ’n ete nooi en daar druk op jou plaas om tyddeel te koop nie.

Tussengangers mag jou ook nie korting of geskenke belowe as jy help om klante te werf nie.

  • Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor misleidende advertensies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Pompies ·

SA het goeie verbruikers wette maar die toepassing daarvan is ‘n reaktiewe daad. Die winkel moet eers die wet oortree voordat hy kortgevat word. Hiermee verwys ek as ‘n handelaar in SA 50 persent afslag op sy produkte gee weet ons dit is bloot bemarking en daar is glad nie afslag, in teendeel, jy kry dieselfde produk by ‘n ander handelaar teen ‘n goekoper prys sonder dat hy afslag gee. In Engeland moet die handelaar eers aan die advertensie raad bewys dat hy 50 persent afslag gee, voordat hy sy spesiale aanbieding mag publiseer. Ek het al skokbrekers wou koop teen 70 persent afslag….. en die persoon wat geen afslag bied se prys is dieselfde. Ons het goedere bestel met oornag aflewering, dit is nou ‘n week later en dit sal eers Woensdag by my wees. Die regte van verbruikers word nie pro aktief beskerm.

Kosie Kramer ·

Op RSG adverteer FNB (First National Bank) in Afrikaans, met `n witman wat die foon antwoord en sê “Hoe kan ek help?” In die werklike lewe kan ek nie Afrikaans met FNB praat nie; die foon word altyd in Engels beantwoord, en as ek vra vir `n Afrikaanssprekende, lag hulle vir my. Selfs klagtes wat ek in Afrikaans op hul webwerf indien, word geignoreer. Eenkeer is ek darem teruggebel, met die woorde “I don’t speak Afrikaans. Tell met what’s your problem in English”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.