Verbruikersake: As dit te goed is om waar te wees   

Foto ter illustrasie. (Foto: Jp Valery/Unsplash.)

Almal praat deesdae oor die geldmaakskema Crowd1. Deskundiges sê dit is beslis ʼn piramideskema, maar mense wat al geld daaruit verdien het en die maatskappy self beweer dit is nie ʼn piramideskema nie, aangesien dit “opvoedkundige produkte” verkoop. Mense wat al geld gemaak het uit die skema, waar jy R2 000 betaal en ander mense werf om aansienlike bedrae te verdien, raak warm onder die kraag as jy die skema bevraagteken.

Dit het egter opnuut die soeklig op piramideskemas laat val. Maar wat is ʼn piramideskema? Ina Opperman verduidelik en waarsku dat enigiemand wat by ʼn piramideskema betrokke is in die moeilikheid kan beland.

Die Finansiëlesektoreguleerder (FSCA) het verbruikers verlede week teen Crowd1 gewaarsku omdat dit nie geregistreer is om finansiële dienste te lewer nie en dus nie ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer of ʼn verteenwoordiger van ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer is nie. Die FSCA het die omsigtigheidsowerheid van die reserwebank gevra om ondersoek in te stel.

Die Nasionale Verbruikerskommissie het ook bevestig dat hy ʼn klagte oor Crowd1 ontvang het en ondersoek instel om te sien of daar gronde is vir ʼn formele ondersoek. Indien die ondersoek dui op enige oortreding van die Wet op Verbruikersbeskerming, sal die kommissie besluit wie om aan te kla.

Die kommissie wys verbruikers daarop dat deelname aan ʼn piramide- of vermenigvuldigingskema en die werwing van lede ʼn strafbare oortreding is. “Covid-19 het ekonomiese ontwrigting veroorsaak en verbruikers probeer om ekstra geld te maak. Die wet verbied egter deelname aan enige onwettige skema.

“Artikel 43 van die wet raai verbruikers af om deel te neem of wetend of onwetend ʼn ermenigvuldigingskema te bevorder en dit is ʼn  oortreding van die wet,” sê Thezi Mabuza, waarnemende verbruikerskommissaris.

Artikel 43: Piramide en verbandhoudende skemas

Volgens artikel 43 beteken “deelnemer” in hierdie opsig iemand wat tot ’n skema toegelaat word vir ʼn “teenprestasie”. ʼn Teenprestasie is, volgens die definisies in artikel 1 van die wet, enigiets van waarde wat in ruil vir goedere of dienste gegee en aanvaar word, insluitende:

  • geld, eiendom, ’n tjek of ander verhandelbare instrument, ’n bewys, kaartjie, elektroniese krediet, krediet, debiet of elektroniese skyfie of soortgelyke voorwerp
  • arbeid, ruilhandel of ander goedere of dienste
  • lojaliteitskrediet of -toekenning, koepon of ander reg om ’n aanspraak uit te oefen; of
  • enigiets anders, of ʼn onderneming, belofte, ooreenkoms of versekering, ongeag die ooglopende of intrinsieke waarde, hetsy dit direk of indirek oorgedra word, of slegs die verskaffer en gebruiker of ander partye benewens die verskaffer en verbruiker betrek.

Die betekenis van teenprestasie sluit egter nie volgens artikel 43 die volgende in nie:

  • die koop van goedere teen kosprys vir gebruik in verkope, of wat nie vir herverkoop bedoel is nie
  • die koop van goedere in ruil waarvoor die verkoper aanbied om die deelnemer se produkte op redelike kommersiële bedinge terug te koop; of
  • die deelnemer se tyd en inspanning vir verkope of werwingsaktiwiteite.

Wat beteken dit vir jou as verbruiker?

Jy is ʼn deelnemer aan die skema as jy ʼn bedrag betaal om aan te sluit.

Artikel 43 verbied enigiemand om direk of indirek:

  • ʼn vermenigvuldigingskema
  • ʼn piramideskema
  • ʼn kettingbriefskema; of
  • enige ander skema soos deur die minister verklaar

te bevorder, of wetend daarby aan te sluit, in te skryf of daaraan deel te neem, of enigiemand anders kry om dit te doen.

Vermenigvuldigingskema: Wanneer iemand ’n effektiewe jaarlikse rentekoers, op die voorgeskrewe wyse bereken, wat minstens 20% meer is as die reserwebank se repokoers, soos op die datum van belegging of aanvang van deelname, aan ’n verbruiker, belegger of deelnemer aanbied, belowe of waarborg, ongeag of die verbruiker, belegger of deelnemer ’n lid van die skema word.

Piramideskema is ’n reëling, ooreenkoms, praktyk of skema indien

  • deelnemers vergoeding ontvang wat hoofsaaklik afkomstig is van hul eie werwing van ander mense as deelnemers en nie die verkoop van goedere of dienste nie; of
  • die klem val op die bevordering van hierdie skema.

Kettingbrief: ’n reëling, ooreenkoms, praktyk of skema wat:

  • verskeie vlakke van deelname het
  • van bestaande deelnemers vereis om nuwe deelnemers te werf; of
  • van elke nuutgewerfde deelnemer verwag om
    • by aansluiting ’n sekere teenprestasie te betaal, wat onder een, sommige of al die bestaande deelnemers verdeel word, ongeag of die nuwe deelnemer goedere of dienste in ruil vir daardie teenprestasie ontvang en op die laagste vlak van deelname begin; en
    • by die werwing van nuwe deelnemers deel in die teenprestasie wat ’n nuwe deelnemer betaal en na ’n hoër vlak binne die skema beweeg.

Wat beteken dit vir jou as verbruiker?

  • Die hoë rentekoers wat deelnemers aan die skema belowe word, is meer as 20% van die repokoers, dus voldoen Crowd1 aan die vereistes van ʼn vermenigvuldigingskema.
  • Deelnemers verkoop nie goedere of dienste nie en moet nuwe lede werf om vergoed te word.

Wees versigtig

  • Hierdie skema is nie volhoubaar nie, aangesien die getal lede op die ou einde gaan opraak en wanneer die geld opraak, stort dit ineen.
  • Indien ʼn ondersoek na die skema gedoen word, word alle deelnemers ondersoek. Dit beteken dat jy self in die hof kan beland en die geld moet terugbetaal wat jy “verdien” het.

Meer inligting

Besoek die webwerf van die FSCA by www.fsca.co.za of bel die tolvry nommer 0800 110 443.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MAGRIETHA ·

Sal nooit marietjie se geld maak skema in die vaal driehoek vergeet nie , syt almal hand en mond belowe alles is wettig en toe stort alles in duie baie mense het baie geld verloor en het op die ashoop beland ,dis waar as dit goed gaan ja maar as dit in duie stort huil jy , ek my self het paar rand da verloor so mense neem kennis van bogenoemde skrywe en bly weg

koos10 ·

En wat van die kubus koning? Hy het mos vrot melk gekoop. Hope mense het ook baie verloor.

Mauritz ·

Universele en tydlose formule: Onnoselheid + Gierigheid = Geld verloor

Scalla ·

Solank daar nuwe geld inkom kan die eerstes n bo gemiddelde inkomste verdien maar as dit opdroog stort alles in duie, natuurlik n paramide skema, dit word geldgierigheid genoem, as daar n maklike manier was om geld te maak het almal dit gedoen!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.