Verbruikersake: As jou goed breek tydens die trek

verhuis-trek-bokse-oorlaai

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Dit is maar altyd ’n pyn om te trek as mens dink aan inpak en uitpak, maar daar is nog ’n groter pyn: wanneer jou kosbare besittings in stukkies aan die ander kant uit die vragmotor gelaai word. Die vervoermaatskappye se verskoning was nog altyd dat jy nie versekering uitgeneem het nie en daarom kan hulle ongelukkig nie help nie. Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en Dienste dink egter nie die vervoermaatskappye het ’n been om op te staan nie. Ina Opperman verduidelik.

’n Verbruiker het verlede jaar by die ombudsman se kantoor aangeklop om te kla oor haar glasgoed en ’n antieke spieëlkas wat stukkend in Durban aangekom het van Kaapstad af. Die vervoermaatskappy het geweier om vir haar skade te betaal, omdat sy nie die goedere verseker het vir die trek nie. Die verbruiker het R4 000 vir die trek betaal en haar skade was R7 000.

Dit is ’n ou laai van vervoermaatskappye om te weier om skade te dek as jy nie hul versekering vir die trek gebruik of jou eie huisinhoudversekering het nie. Die betrokke vervoermaatskappye het ook nie gedink die skade beloop werklik R7 000 nie.

Artikel 65

Die ombudsman se kantoor het gemeen die vervoermaatskappy het artikel 65 van die Wet op Verbruikersbeskerming oortree, wat bepaal dat ’n onderneming wat in besit is van ’n verbruiker se

eiendom dit met die nodige sorg, ywer en vaardigheid hanteer, beveilig en benut wat redelikerwys verwag kan word van iemand wat daarvoor verantwoordelik is.

Die handelaar is aanspreeklik vir enige verlies weens versuim om hieraan te voldoen. Die ombudsman het aanbeveel dat die vervoermaatskappy vir die verbruiker se verlies betaal, maar die maatskappy het geweier omdat hy meen die verbruiker het die kontrak geteken wat aanspreeklikheid uitsluit en sy het nie die goedere vir die trek verseker nie.

Die ombudsman het die maatskappy daarop gewys dat geen onderneming homself kan uitkontrakteer uit die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie, maar die antwoord was steeds nee. Die ombudsman se kantoor het die klagte toe na die Nasionale Verbruikerskommissie verwys vir ’n moontlike formele ondersoek en verwysing na die Nasionale Verbruikerstribunaal aangesien die partye nie kon skik nie.

Artikel 51

Hierdie artikel, wat handel oor verbode transaksies, ooreenkomste, bedinge of voorwaardes, bepaal ’n onderneming mag nie ’n voorwaarde insluit wat daarop gerig is om die oogmerke en beleid van die Wet op Verbruikersbeskerming te verydel, die verbruiker te mislei of bedrieg of bedrieglik op te tree nie. Ondernemings mag nie op hierdie manier ’n verbruiker laat afsien van sy regte kragtens die wet nie.

Artikel 51 plaas dus streng beperkings op die vryheid om kontrakte met verbruikers te sluit. Ondernemings mag nie uitkontrakteer uit die bepalings van die wet nie en daarom het die ombudsman gemeen die enigste vraag is werklik of die vervoermaatskappy die nodige sorg, ywer en vaardigheid aan die dag gelê het om die verbruiker se eiendom tydens die trek te beskerm.

Aangesien die antwoord hier is dat die vervoermaatskappy nie die nodige sorg, ywer en vaardigheid gebruik het nie, is die maatskappye verantwoordelik vir die verbruiker se verlies ongeag die bepalings en voorwaardes wat in die kontrak staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.