Verbruikersake: As jy nie meer jou skuld kan betaal nie

finansies-platsak-beursie-flickr-com

(Argieffoto: Flickr.com.)

Miljoene Suid-Afrikaners het hul werk of ʼn groot deel van hul inkomste verloor weens die Covid-19-pandemie en kan gevolglik nie hul maandelikse skuldafbetalings bekostig nie. Asof jy nie bekommerd genoeg is oor jou en jou geliefdes se kanse om Covid-19 op te doen nie, moet jy nou ook snags wakker lê oor jou skuld. Ina Opperman verduidelik watter bepalings in die Nasionale Kredietwet jou kan help om van jou skuldprobleme op te los.

Die Nasionale Kredietwet bied verskeie maatreëls wat vuisvoos verbruikers wat sukkel om hul skuld te betaal, kan help. Verbruikers met skuldprobleme word aangemoedig om daarvan gebruik te maak, sê adv. Kedilatile Legodi, waarnemende bestuurder: opvoeding en kommunikasie, by die Nasionale Kredietreguleerder.

Kredietlewensversekering

Jy word gewoonlik gevra om kredietlewensversekering uit te neem wanneer jy aansoek doen om krediet of ʼn lening. Dit dek jou uitstaande skuld in sekere onvoorsiene omstandighede, onder meer dood, aflegging, werkloosheid, onvermoë om ʼn inkomste te verdien en gestremdheid.

Indien jy dan jou werk verloor of nie ʼn inkomste kan verdien nie, verskaf die versekering dekking waar die kredietverskaffer jou skuldpaaiemente moet betaal vir ʼn tydperk van 12 maande of die tydperk wat oorbly, of totdat jy werk kry of weer ʼn inkomste kan verdien.

Mense kla egter dat hulle sukkel om hul kredietverskaffers sover te kry om hulle hiermee by te staan, maar verbruikers word aangemoedig om dan by die reguleerder te kla. Al jou premies vir die polis moet egter opbetaal wees as jy daarop wil staatmaak.

Skuldhersiening en skuldberading

Skuldberading is hulp met jou skuld wat daarop gerig is om verbruikers met te veel skuld te help met begrotingsraad, onderhandelings met jou skuldeisers vir verminderde paaiemente, verlenging van die afbetalingstydperk en herstrukturering van jou skuld. Dit bied verbruikers ook beskerming teen regsoptrede of die terugneem van goedere deur kredietverskaffers.

Die reguleerder raai mense aan wat negatief geraak word deur die pandemie en nou minder verdien, om hierdie maatreël te gebruik, aangesien jy ʼn inkomste moet hê om te kwalifiseer vir skuldberading. Jy moet egter sorg dat jy die proses en die gevolge daarvan goed verstaan. Skuldberaders moet registreer by die reguleerder en hul besonderhede is beskikbaar op die reguleerder se webwerf.

Teruggee van goedere

Die Nasionale Kredietwet maak voorsiening daarvoor dat jy goedere vrywillig kan teruggee aan kredietverskaffers wanneer jy nie nou of in die toekoms meer die paaiemente kan bekostig nie. Artikel 127 van die wet bepaal dat jy goedere kan teruggee as jy ʼn kredietooreenkoms gesluit het om goedere op skuld te koop op paaiemente, gesekureerde lenings of bruikhuur.

Jy moet egter die regte prosedure volg, sê Legodi. Jy moet ook seker maak dat jy alles goed verstaan voordat jy die kredietverskaffer kennis gee dat jy dit gaan doen. Die kredietverskaffer moet dan vir jou ʼn brief gee wat die geskatte waarde van die goedere aandui, tien dae nadat jy kennis gegee het.

Jy kan die kennisgewing dat jy die goedere wil teruggee, terugtrek binne tien werkdae nadat jy die kredietverskaffer se brief ontvang het indien die rekening nie agterstallig is nie. Wanneer jy die goedere teruggee, sal die kredietverskaffer probeer om dit te verkoop om jou skuld te delg, maar daar is geen waarborg dat die opbrengs al jou skuld sal dek nie.

Indien die opbrengs nie genoeg is nie, sal jy die bedrag wat oorbly, moet afbetaal. Jy kan goedere ook self verkoop om ʼn beter prys te kry. Jy moet egter onthou dat jy die kredietverskaffer in kennis moet stel indien jy iets verkoop wat nog nie afbetaal is nie.

Lenings?

Indien jy geld wil leen, moet jy eers seker maak dat jy die maandelikse terugbetalings kan bekostig. Leen net by ʼn geregistreerde kredietverskaffer en moet in geen omstandighede geld leen by ʼn ongeregistreerde kredietverskaffer wat jou bankkaarte hou om seker te maak jy betaal nie.

Vra raad en kla hier:

Besoek die reguleerder se webwerf by www.ncr.org.za of tree met die kantoor in verbinding by 0860 627 627.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Nou wat maak jy as jy so bankrot is jy kan nie eers meer aandag skenk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.