Verbruikersake: Bank só veilig tydens grendeltyd

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: @helloimnik/Unsplash.)

Baie verbruikers is klaar platsak weens Covid-19 en die grendeltydperk. Baie het hul inkomste verloor en diegene wat gelukkig genoeg is om spaargeld te hê, weet hulle moet mooi werk om met hul beskikbare begroting uit te kom. Nou, nog meer as ooit, wil mense nie ook nog hul swaarverdiende geldjies verloor deur die slagoffer van iemand anders se skelmstreke te wees nie. Ina Opperman het gaan kyk wat die ombudsman vir bankdienste se raad is om jou geldsake veilig te hanteer tydens die grendeltydperk.

Die bankombudsman se kantoor het al baie klagtes van verbruikers ontvang sedert die grendeltyd begin het, sê Reana Steyn, die ombudsman. Die meeste van die probleme het te doen met kitsbanke, besoeke aan banktakke en die hantering van kontant tydens die pandemie.

“Selfs al is ʼn vorm van aanlyn bankdienste deur middel van tegnologie beskikbaar vir sommige verbruikers sodat hulle hul banksake veilig tuis kan afhandel, kan die meeste mense nie aanlyn transaksies doen nie en maak hulle staat op banktakke,” sê sy.

Sy doen dus ʼn beroep op bankkliënte om sosiale afstand te behou, hul hande te was en nie aan hul gesigte te raak voordat en nadat hulle kitsbanke gebruik het of kontant hanteer het of aan enige oppervlak geraak het wat nie ontsmet is nie.

By die kitsbank:

  • Hou by die twee meter sosiale afstand wanneer jy toustaan.
  • Gebruik handskoene wanneer jy die kitsbank gebruik en gooi dit weg wanneer jy klaar is.
  • Was jou hande 20 sekondes lank met seep en warm water of gebruik handsaniteerder voordat en nadat jy die kitsbank gebruik het.

In die bank:

  • Moenie te na aan die persoon voor jou staan nie en behou die regte afstand.
  • Sorg dat jy ʼn sneesdoekie het om in te hoes of nies.
  • Dra ʼn masker.

Aanlyn tuis:

Ongelukkig was daar reeds bedrog met aanlynbankdienste wat verband hou met die pandemie, sê Steyn. Die skelms stuur vir jou e-pos met aanbiedings vir maskers en medisyne wat Covid-19 kan voorkom om mense te lok na ʼn webtuiste waar jou inligting gesteel word. Ander gebruik weer teksboodskappe met ʼn skakel na inligting oor Covid-19 in jou omgewing of ʼn bedreiging wat vereis dat jy dadelik jou bankdetails moet opdateer om toegang tot jou persoonlike inligting te kry. Moenie vir die volgende truuks val nie:

  • Iemand wat bel van jou bank en vra vir jou bankaartnommer en OTP-nommer.
  • Verdagte teksboodskappe met skakels na versoeke om jou vertroulike bankinligting op datum te bring of anders verloor jy toegang tot jou rekening.
  • Jou selfoon hou skielik op werk of jou diensverskaffer laat jou weet van ʼn slimkaart-ruiling vir jou foon wat jy nie aangevra het nie. Stel dadelik jou bank in kennis.

Keer ‘vishing’-bedrog:

  • Moenie vertroulike inligting vir ʼn vreemdeling oor die foon gee nie.
  • Moenie ingee as iemand jou probeer oortuig om dit te doen nie. Laat weet jou bank as jy so ʼn oproep kry.
  • Indien jy ʼn OTP-nommer kry vir ʼn transaksie wat jy gedoen het nie, bel dadelik jou bank en meld dit aan, maar moenie die OTP-nommer vir enigiemand gee nie.

Keer ‘phishing’-bedrog:

  • Bedrieglike e-posse word gewoonlik gebruik om jou vertroulike internet banktoegangskode en wagwoorde te kry. Skelms doen baie moeite om die webwerwe en e-posse soos die ware Jakob te laat lyk, maar loop lig.
  • Moenie kliek op skakels of ikons in ongevraagde e-posse nie.
  • Moenie op dié e-posse antwoord nie, al is dit net om die skelms sleg te sê. Skrap hulle heeltemal.
  • Moenie die inhoud van hierdie e-posse glo nie. As jy bekommerd is oor iets daarin, stel vas wat die waarheid is deur die bank te kontak op hulle gewone nommer.
  • Tik die bank se hele URL in wanneer jy vir internet-bankdienste wil aanmeld en maak seker dit is wel die bank s’n.
  • As jy ooit vermoed jou wagwoord en besonderhede is gesteel, kontak dadelik jou bank.
  • Gebruik ingewikkelde wagwoorde wat nie maklik ontrafel kan word nie.

Nog wenke:

  • Jou bank en enige wettige onderneming sal jou nooit vra vir jou persoonlike, vertroulike of sensitiewe inligting by die bank, aanlyn of oor die foon nie.
  • Gaan gereeld jou bankstate na om te sien of daar transaksies is waarvan jy nie weet nie.
  • Moenie e-posse stuur met jou kaartnommer en die kaart se vervaldatum nie.

Kla by die ombudsman: OBSSA of stuur e-pos na [email protected] of bel 0860 800 900.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.